Hector help nou ook ander honde

Hector se verhaal het talle mense aangegryp. (Foto: Facebook)

Hector, ʼn bokserhond van Hermanus wie se beweerde mishandeling deur twee sogenaamde troeteldieroppassers mense woedend gehad het, is “redelik oukei, gegewe die fisieke mishandeling wat hy moes verduur”, het sy eienaar, Mel Coltman, in ʼn boodskap op Facebook gesê.

ʼn Strafregtelike klagte ingevolge die Wet op Dierebeskerming is Donderdag reeds teen die twee betrokke oppassers aanhangig gemaak.

Die Coltmans het eers besef daar is fout toe hulle by hul terugkeer na die huis na die kringtelevisiebeeldmateriaal gekyk het. Hulle het die twee troeteldieroppassers gehuur om na die jong hondjie te kyk terwyl hulle vir die langnaweek weg was.

Coltman het die video daarna op Facebook gedeel saam met ʼn waarskuwing aan mense wat ook van die twee se dienste gebruik maak.

Op die video kan gesien word hoe Hector etlike kere met ʼn lat geslaan en dan aan sy velle gegryp en by ʼn deur uitgegooi word.

Coltman het die Hermanus-gemeenskap asook diegene op sosiale media intussen bedank vir hul boodskappe, steun en die feit dat hulle vir diereregte opgestaan het.

“Baie dankie aan almal op sosiale media wat Hector se verhaal ver en wyd gedeel het.”

Die voorval is ook onder die aandag van die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) gebring en dié het ʼn dossier oor die beweerde mishandeling saamgestel wat aan die Hermanus-polisie oorhandig is.

‘n Skermgreep uit die video. (Facebook)

“Ons wil vra dat die gemeenskap nie sake in hul eie hande neem nie. Wees verseker dat geregtigheid sal geskied,” het Coltman gesê.

Die firma Van Niekerk en Jansen van Rensburg Prokureurs sê verskeie barmhartige samaritane het hom genader om ʼn bydrae tot Hector en sy gesin se regskoste te maak, maar die firma tree gratis namens hulle op.

“Ons kliënte het gevra dat skenkings eerder aan die Kaap van Goeie Hoop-DBV se inspektoraat gemaak word om te help in hul voortgesette stryd teen dierewreedheid.”

Mense is ook welkom om kos, komberse of speelgoed te skenk wat die gesin namens Hector aan ander hondjies wat hulp benodig, sal skenk. Kontantbydraes kan regstreeks in die DBV se rekening inbetaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

Die troeteldieroppassers en die video sou nooit gevind word as dit my hond was nie.

Annakapat

Hector is ‘n pragtige dier!

Teresa

Wat ñ pragtige hond!! Mag geregtigheid seevier…