Heelwat brul (en veel meer byt) ná wortelkanaal vir Ruben-die-leeu

Die wêreld se eensaamste leeu, Ruben. (Foto: Animal Defenders International / Facebook)

Ruben, voorheen bekend as die wêreld se eensaamste leeu, se tandheelkundige operasie was ʼn reusesukses.

Die 15-jarige leeu het in Augustus op Afrikabodem geland nadat hy die afgelope ses jaar stoksielalleen in ’n hok in ’n verlate dieretuin in Armenië aangehou is.

Animal Defenders International (ADI), in samewerking met Qatar Airways Cargo se WeQare-liefdadigheidsinisiatief, het Ruben meer as 8 000 km ver vervoer om hom in die ADI Wildlife Sanctuary in die Vrystaat te hervestig.

Met veeartsenykundige behandeling, aanvullings en fisioterapie danksy sy entoesiastiese spel met verskillende speelgoed, het Ruben se mobiliteit fluks gevorder en was hy uiteindelik slaggereed om ’n operasie aan sy bek te ondergaan.

Dr. Peter Caldwell het oor die afgelope paar maande ’n wakende oog oor die leeu gehou sodat Ruben sy kragte ter voorbereiding van die operasie kon opbou. Prof. Gerhard Steenkamp, ’n veeartsenykundige tandarts, kon vier van Ruben se tande red deur ’n wortelkanaalbehandeling te doen.

Hy moes egter verskeie tande aan die een kant van die leeu se mond verwyder wat erg beskadig was.

Die vliegtuig se vragruimte was groot genoeg sodat Ruben se reiskrat daarin kon pas. (Foto: Animal Defenders International / Facebook)

Ruben sal in die nabye toekoms nog operasies moet ondergaan. Weens sy gesondheidsprobleme kan hy egter nie langer as drie en ’n half uur aaneen verdoof word nie.

Ruben ontvang pynverligting en hoewel verdere tandheelkundige werk nodig sal wees, glo Steenkamp en Caldwell dat die operasie Ruben se lewensgehalte aansienlik verbeter het.

“Hoewel daar nog ’n enorme taak op ons wag, was die operasie ’n stap in die regte rigting. Hy het met groot ongemak by ons opgedaag. Ruben het gesukkel om te loop en ons vermoed hy het iets van metaal of klippe beetgekry wat groot skade in sy bek veroorsaak het.”

Soos vroeër berig, was Ruben se pad na herstel allesbehalwe ’n sprokiesverhaal. ADI kon aanvanklik geen geskikte vlug vir hom vanuit Armenië tot in Suid-Afrika kry nie. Te danke aan die liefdadigheidsorganisasie wat ingegryp en ’n groter vliegtuig beskikbaar gestel het, kon die hervestiging gedoen word.

In Katar het ’n lugversorgde vragmotor gereed gestaan om die groot kat tussen vlugte te vervoer. Jan Creamer, president van ADI, en Tim Phillips, visepresident van ADI, het Ruben deurgaans op sy reis vergesel.

Hy was ondervoed en het etlike jare lank geen oefening gekry nie.

Ruben. die 15-jarige leeu van Armenië. (Foto: Animal Defenders International / Facebook)

“Toe hy aanvanklik by ons opgedaag het, was hy skaam en teruggetrokke. Hy het basies vergeet wat dit verg om ’n leeu in sy natuurlike habitat te wees,” het Creamer destyds gesê.

Deesdae lyk sy vooruitsig veel rooskleuriger.

Ruben verken daagliks sy groter habitat en brul soggens en saans saam met sowat 32 leeus en tiere wat, nes hy, gered is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Janine ·

Joh, dit maak mens se hart so seer as wilde diere so verwaarloos word!

Olive ·

Dankie, dankie ADI. Hoop Ruben het ‘n goeie lewe van nou af. Ek hoop ook die bose wesens wat diere so mishandel sal eendag hulle dag kry.

Jeanette ·

Hoe se mens dankie vir hierdie engel mense. Ek glo Ruben is nou vry van pyn en kan gelukkig rondloop en met sy soort omgaan nou dat hy gered is. Baie baie dankie vir julle onbaatsugtige werk.

Di ·

Dankie aan almal wat hiedie pragtige dier ‘n kans op ‘n beter lewe gegee het.

Christine ·

Dankie aan almal . Ja die bose wesens sal almal hulle dag kry
Op die dag wat die Regverdige Regter sal kom om almal te oordeel volgens hulle werke

Hendrik ·

Om diere so uit hul natuurlike habitat te verwyder terwille mense besigtiging vermaak kan ek nie onderskryf nie.As hul so in verwaarlosing, pyn en verhongering vasgevang is dan is dit beter om hul van kant te maak as om nog der duisende rande op hul te spandeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.