Heelwat krokodille by Bonnievale nog soek

Een van die vanghokke wat neergesit is om die krokodille te probeer vang. (Foto: CapeNature/Facebook)

Altesame 66 jong Nylkrokodille is in die voortgesette operasie by Bonnievale in die Wes-Kaap van kant gemaak of weer gevang.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onbekende aantal krokodille het sowat twee weke gelede van ʼn teelplaas ontsnap en in die Breërivier beland. Die reptiele het deur ʼn gat in ʼn heining om die kamp waarin hulle aangehou is, uitgekom.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ruimtelike beplanning in die Wes-Kaap, sê tot dusver is 34 krokodille reeds van kant gemaak en 32 is gevang. CapeNature het ook reeds met ʼn ondersoek begin oor hoe die krokodille ontsnap het. Dit sal insluit of die eienaar van die reptiele enige permitbepalings oortree het.

Amptenare van CapeNature patrolleer intussen steeds die gebied, maar die toegegroeide rivier en digte plantegroei bemoeilik die soektog.

“Die vanghokke is steeds daar en die patrollies duur tot verdere kennisgewing voort. Ek wil almal wat betrokke is en dadelik ingespring het om te help om die krokodille te vang, bedank. Ek wil veral ook die polisie en sy duikeenheid, asook die grondeienaars in die gebied en CapeNature en die amptenare onder leiding van dr. Ernst Baard en Corne Claassen bedank wat sonder ophou gewerk het.”

Bredell het weer eens ʼn beroep gedoen op mense wat een van die krokodille opmerk om die reptiele nie te nader nie, maar dadelik die owerhede te ontbied.

  • Mense wat ʼn krokodil in die omgewing gewaar kan die Bonnievale-polisie bel by 023 616 8060.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.