Heelwat tyd nodig om kudde-immuniteit te bereik – WGO

‘n Franse gesondheidswerker berei ‘n dosis van die Pfizer-BioNTech-entstof voor. (Foto: Jean-Christophe Verhaegen/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die week gesê die land beoog om kudde-immuniteit teen Covid-19 deur ʼn nasionale inentingsprogram te behaal.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku egter die wêreldwye veldtog om dit te doen, gaan geruime tyd duur.

“Die ontwikkeling van verskeie doeltreffende entstowwe is die belangrikste en belowendste vooruitgang wat sedert die uitbreking van die wêreldwye pandemie gemaak is. Ons het nog altyd gesê dat ʼn doeltreffende entstof die spel gaan verander,” het Ramaphosa Maandagaand gesê.

“As genoeg mense ingeënt word, gaan ons bereik wat bekend staan as kudde-immuniteit of bevolkingsimmuniteit,” het die president gesê.

Kudde-immuniteit word bereik wanneer die meeste lede van ʼn bevolking immuun is teen ʼn virus en die verspreiding daarvan dus verstadig.

Kudde-immuniteit in Suid-Afrika kan bereik word as sowat 67% van die bevolking ingeënt is, het Ramaphosa gesê. Dit is nagenoeg 40 miljoen mense.

Volgens Ramaphosa is die eerste stap om kudde-immuniteit te behaal, die verkryging van genoeg entstof.

Dr. Soumya Swaminathan, die WGO se hoofwetenskaplike, het egter gesê dit is onwaarskynlik dat kudde-immuniteit vanjaar behaal gaan word.

“Ons gaan nie enige vlak van bevolking- of kudde-immuniteit in 2021 behaal nie,” het Swaminathan vandeesweek gesê.

Sy het mense aangemoedig om geduldig te wees omdat die getal dosisse in die miljarde is.

Ramaphosa het dit benadruk.

“Gegewe die enorme wêreldwye vraag na entstof en die veel groter koopkrag van meer welvarende lande, ondersoek ons alle moontlikhede om soveel as moontlik dosisse so gou as moontlik te verkry.

“Daar is verskeie belowende onderhandelings met ʼn aantal verskillende vervaardigers wat nog afgehandel moet word, maar ons het tot dusver 20 miljoen dosisse verseker wat hoofsaaklik in die eerste helfte van die jaar gelewer sal word,” het Ramaphosa gesê.

Ander faktore wat dalk kudde-immuniteit kan vertraag, sluit in beperkte toegang tot entstof in ontwikkelende lande en skeptisisme oor die entstof, het gesondheidskenners gesê.

Dr. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het gesê daar moet ook nog vasgestel word of die entstof doeltreffend teen nuwe mutasies van die virus gaan wees.

“Ons ondersoek die uitwerking van die variant op entstofskedules. Hopelik sal ons binnekort inligting daaroor hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leeuwyfie ·

Maak nie saak hoeveel keer hulle gaan praat van kudde immuniteit deur inentings nie, dit gaan nie die betekenis van kudde immuniteit verander nie. Maak nie saak dat die wgo die betekenis daarvan op hul webtuiste verander het nie. Kudde immuniteit word nie deur inentings gehandhaaf nie. Dis ‘n natuurlike proses waar mense in aanraking kom met die bakterieë / virus en jou liggaam self immuniteit opbou. Jy hoef nie ‘n sent daarvoor te betaal nie. Dis God se geskenk.

Jacobus ·

Hoera! Leeuwyfie iemand wat kudde immuniteit verstaan. Wens nou net iemand wil die manne verduidelik wat eksponensieel beteken.
Ek glo ook nie veral WGO weet wat dit beteken nie. Raak persoonlik moeg vir al die twak wat vir ons gevoer word – regering deur vrees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.