‘Hef aan lê voor’ – onteieningstryd nog lank nie verby

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Verskeie kenners is dit eens: ʼn Veldslag oor die stryd om onteiening sonder vergoeding is Dinsdag in die parlement gewen, maar die oorlog is nog lank nie verby nie.

Die ANC het gister misluk om ʼn tweederde-meerderheid te kry wat sou lei tot die wysiging van die Grondwet om grondonteiening in Suid-Afrika moontlik te maak. Altesaam 267 stemme was nodig vir ʼn tweederde-meerderheid, maar net 204 LP’s het ten gunste van die voorgestelde verandering gestem en 145 daarteen.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, bestempel die gebeure as ʼn “taktiese” en “opportunistiese oorwinning” waar die ANC as gemeenskaplike vyand belangriker was as die saak wat gedryf is. Opposisiepartye het saamgestaan, maar die ANC én die EFF het dit duidelik gestel dat die grondstryd voortgaan.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat die proses gedryf het, het na afloop van die stemmery gesê die ANC is nie bekommerd oor diegene wat nie die wetsontwerp steun nie. “Ons is vol vertroue dat met of sonder hulle, die ANC steeds grond aan die mense beskikbaar gaan stel.”

Ook Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het ná die debat gesê onteiening sonder vergoeding is net een van die maniere waarop grondhervorming gedoen kan word. “Alles is inderdaad nie verlore nie. Ons het gesê [onteiening sonder vergoeding] gaan net een van die maniere wees wat die staat benodig om die grondhervormingsprogram te versnel.”

“Hef aan lê voor,” sê Duvenhage.

“Dit het net begin en wat die uitspeel gaan wees, gaan interessant wees.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, sê ook die “mislukte aanslag op die Grondwet is nie die einde nie”.

“Hierdie is hoogstens slegs ʼn tydelike oorwinning vir die demokrasie aangesien die ANC reeds sedert 2008 poog om onteiening in verskuilde vorms deur te voer. Ons moet dus waak teen ʼn valse gerusstelling, omdat die ANC se beleid en besluite nie op rasionele gronde berus nie, maar eerder gegrond is op faksietwiste en politieke oorlewing,” sê Bosman.

“Dit is duidelik ook uit die ANC se bydraes in die debat voor die stemming dat die ongrondwetlikheid en die drakoniese aard van onteiening nie tot die ANC of sy alliansie-vennote deurgedring het nie.”

Grondkwessie kan ANC verder kelder

Duvenhage sê die grondkwessie kan ʼn bepalende faktor binne die ANC wees. “Die ideologiese lyne in die ANC is sterk getrek en ek dink nie daar is versoening nie. Daar is wel ʼn sterk groep in die ANC wat nie die Grondwet wil wysig nie en glo grondeiening moet binne die raamwerk van die wet hanteer word.”

Lamola het onder meer verwys na verskeie wetsontwerpe wat in die stryd om grondhervorming gebruik gaan word – maar Duvenhage sê al dié wetgewing sal steeds ondergeskik aan die Grondwet wees.

“Jy het een groot beginsel en verskeie toepassingsvlakke: Ek dink die ANC skerm vir sy eie belang en probeer wys dis maar net een projek wat skipbreuk gely het. Ek dink dis ʼn poging van die ANC om sy aansien te probeer red.”

Duvenhage meen die uitslag reflekteer sleg op die ANC en pres. Cyril Ramaphosa se leierskap, maar dat dit nie noodwendig goeie nuus is indien die ANC se skip sink nie.

“Die groter strategiese vraag waarvan kritici op die ANC wegduik, is wat gebeur as die ANC nie meer daar is nie. As hulle moet mag verloor, is ʼn meer waarskynlike scenario ʼn patroon van onstabiliteit.”

Duvenhage sê die politieke stelsel is reeds wanfunksioneel en as die ANC in ʼn “destruktiewe modus” inbeweeg, kan die land ernstige probleme ondervind. “Waar die ANC op plaaslike vlak verloor, ontwrig hulle. As hulle op nasionale of provinsiale vlak verloor, gaan hulle tot die ekstreme gaan om hul belange te beskerm. Baie ANC-lede het senior posisies in die breër staatsomgewing. Dis ʼn geveg tot die dood ter wille van oorlewing.”

Ramaphosa dalk verlig?

Prof. Pieter Duvenage, ʼn onafhanklike politieke ontleder en dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, meen op sy beurt Ramaphosa slaak waarskynlik in die stilligheid ʼn sug van verligting.

Hy meen terwyl die grondonteieningskwessie op Ramaphosa se tafel geplaas is en deel van sy party se beleidsraamwerk vorm, kan hy later sê hy het alles probeer om die wysiging te laat deurvoer, maar dat dit in die parlement afgekeur is.

“Ek dink dit versterk sy posisie ná 2022; hy het gedoen wat die ANC gevra het, maar dit is in die parlement verslaan.”

Hy meen daar moet na ʼn beginsel teruggekeer word waar onteiening deur ʼn behoorlike proses gedryf word. “Almal weet daar moet grondhervorming kom, daar moet bemagtiging van ʼn aard plaasvind. Maar dit is beter dat dit van die grond af op gedoen word – vanuit gemeenskappe – as wat die regering dit van bo op ʼn sosialistiese manier probeer druk. Die howe moet ʼn sentrale rol, saam met bemagtiging van grondvlak af op, in die proses speel.”

Prof. Pieter Duvenage sê die ANC sit met ʼn totale disfunksionele amptenary en dat die grondkwessie ongetwyfeld daarmee verwikkel is. “Hierdie is populistiese politiek en ʼn soeke na ʼn vinnige uitweg.

“Ons kan net bly wees oor die sameloop van omstandighede. Het die EFF gister sy stemme aan die ANC gegee, kon hulle naby aan 66% gekom het.”

Hy stem saam dat die stryd nie verby is nie, maar dink ook nie die grondkwessie gaan in die komende jaar dieselfde krag hê nie. “Die politieke konstellasie is op ʼn ander manier gerekonstrueer. Die ANC verloor steun, gryp nie meer die kieserspubliek se verbeelding aan nie en kan ook nie meer populistiese skuiwe maak nie.”

Prof. André Duvenhage sê gesprekvoering is dié manier om die grondkwessie suksesvol op te los. “Ek dink ons is informeel reeds in ʼn tweede Kodesa en ek dink hier begin reeds gesprekke op voetsoolvlak plaasvind.”

Bosman sê ook die Afrikanerbond wil by herhaling pleit dat die “ondeurdagte en onnodige fokus op die onteiening van grond” anders hanteer word.

“Dit is kritiek noodsaaklik dat enige proses billik en regverdig, nie-verdelend, doeltreffend, ekonomies aanvaarbaar, vinnig en landboukundig volhoubaar sal wees.”

Bosman sê egter ook daar moet geen twyfel wees dat die ANC nie te vinde is vir enige oplossing binne die grondwetlike raamwerk nie en ná gister se vernedering met meer “irrasionele aggressie gaan optree”.

“Ons moet hoop hê om onvermoeid te werk aan ʼn oplossing vir die huidige grondkwessie, maar om hoop te hê verg ook ʼn positiewe ingesteldheid. Daarom gee die Afrikanerbond deurgaans steun en ondersteuning vir enige inisiatief wat eiendomsreg in Suid-Afrika vestig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Beperkte insig en kommentaar. Onteiening sonder vergoeding is seer sekerlik van toepassing op enige persoonlike eiendom. Soos ‘n huis, voertuig, beleggings en selfs jou liggaam met verpligte inentings. Die ANC met sy Russiese basis weet hoe om skaak te speel, bekyk die aanval vanuit al die moontlike posisies.

annie

In die huidige paradigma van BLM Most wat wêreldwyd floreer, dink die sg verontregtes allerhande ‘tricks’ uit om situasies te manipuleer tot hul voordeel en die wêreld aan hul kant te hou. Afrika se hele lewenshouding berus op ‘ons die onskuldige verontregte agtergeblewe natuurkinders’. Aardse ‘waarhede’ sukkel teen sulke sluwe toneelspel maar die Vader is en bly onaantasbaar, onbeïnvloedbaar.

SjN

Ek dink hul weet self nie wat hul dink nie!!

Jaco

“Ons is vol vertroue dat met of sonder hulle, die ANC steeds grond aan die mense beskikbaar gaan stel.” om wat mee te maak?

Jaco

Gaan onteiening sonder vergoeding net oor landbougrond, of is stedelike grond ook ter sprake. Ek besit 2 huise, albei in stedelike gebied en so 25km van mekaar af. Wat gaan met my gebeur? Gaan ek van albei huise onteien word, of sal net 1 afgevat word met ‘n argument van “jy het mos klaar 1,so waarom moet jy nou 2 het terwyl ander niks het nie”.