Hef alkoholverbod op, eis bedryf

(Argieffoto: pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting Sondag weer die land toespreek en aankondig of die vlak 4-inperking verder verleng word en of ʼn laer vlak dalk ingestel word.

Ramaphosa het op Sondag 11 Julie die vlak 4-inperking tot 25 Julie verleng. Die vorige vlak 4-inperking het van 27 Junie tot 11 Julie gegeld.

Tydens die eerste vlak 4-inperking mag restaurante slegs etes vir wegneem of aflewering bedien het. Restaurante mag egter weer van 12 Julie af heropen het.

Die alkoholbedryf het intussen versoek dat die alkoholverbod Sondag opgehef word sodat wettige ondernemings weer kan sake doen ten einde ʼn moontlike ineenstorting van die bedryf, van wie meer as 1 miljoen mense afhanklik is vir hul brood en botter, te vermy.

Minstens 161 drankwinkels en verspreidingsentrums is boonop, te midde van die drankverbod, tydens die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal geplunder en beskadig.

(Foto: pixabay)

Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), die Liquor Traders Association of South Africa (LTASA) en Vinpro het vroeër die week ʼn skrywe aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, gerig om ʼn dringende vergadering te versoek om die vernietigende uitwerking van die verbod en alternatiewe ingrypings te bespreek.

Daar word beraam dat die jongste verbod van vier weke meer as 9 000 betrekkings in die alkoholbedryf in gedrang gebring het, met ʼn potensiële verlies van R10,2 miljard aan belasting en aksyns. Dit volg op die drie vorige geleenthede waartydens ʼn drankverbod ingestel is en wat gelei het tot meer as 7 400 werksgeleenthede wat in die bierbedryf verlore gegaan het, asook ʼn verlies van R14,2 miljard aan bierverkope en meer as R7,8 miljard aan belasting en aksyns.

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) het die regering ook versoek om die verbod op alkohol op te hef. Volgens Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, het die vier geleenthede, van 26 Maart 2020 tot 25 Julie 2021, waartydens ʼn verbod op alkoholverkope ingestel is, die land se BBP ʼn geskatte R64,8 miljard gekos.

SAB se hofaansoek

Die Suid-Afrikaanse Bierbrouery (SAB) se pogings om die regering se verbod op drankverkope om te keer, is intussen deur die Wes-Kaapse hooggeregshof ter syde gestel. Die hof het bevind dat Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wel binne haar magte opgetree het.

Die SAB het in reaksie gesê hy is teleurgesteld in die hof se uitspraak en sal voortgaan om te veg vir die regte van werknemers in die bedryf, asook die bedrywe wat op hom staatmaak.

Uitspraak voorbehou in Vinpro-saak

(Foto: Vinpro/Facebook)

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het intussen vroeër die week uitspraak voorbehou in Vinpro se dringende tussentydse interdikaansoek wat die premier van die Wes-Kaap in staat sal stel om af te wyk van die nasionale verbod ten einde verkope van drankprodukte in die provinsie vir binne- en buiteverbruik toe te laat.

“Ons is hoopvol op ʼn positiewe uitkoms en wag gretig op die uitspraak oor hierdie belangrike beginsel wat besluitneming rakende ʼn toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal,” het Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof, gesê.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op die rand van ʼn afgrond nadat sy inkomste die afgelope 16 maande verskeie kere afgesny is. Vir elke week wat verloop, verhoog die moontlikheid dat nóg meer wynverwante ondernemings hul deure sluit en duisende werknemers sukkel om hul gesinne te voed.”

Pogings van die wynbedryf om oor die afgelope 16 maande aktief met die nasionale regering in gesprek te tree, het onvermoeid voortgegaan. Volgens Basson het ʼn volgehoue gebrek aan oorlegpleging en bystand van die regering egter daartoe gelei dat Vinpro met geen ander keuse gelaat is as om regsaksie as laaste uitweg te gebruik om handel te heropen en sodoende verdere werksverliese en die sluit van nog ondernemings te voorkom nie. “Die bedryf kon reeds vir 23 weke sedert die eerste alkoholverbod nie handel dryf nie.

“Terwyl ons op die uitspraak wag, bly ons ook daartoe verbind om ons hoofhofaansoek wat van 23 tot 26 Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor ʼn volbank regters aangehoor word, deur te sien,” het Basson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tanniepetoors ·

Ek voel al lus om die spul by die kamtige rampbestuur se koppe teen mekaar te gaan stamp tot hul ophou twak kwytraak.

VaalDonkie ·

tannie, laat weet maar net wanneer dan gee ek jou ‘n lift

JohanR ·

Cyril Ramaphosa is maar net die spreek buis op die tv. Daar agter is NDZ wat al die toutjies trek…. en ou David Mabuza die onder-president, is nog in Rusland.

Nie Verbaas ·

Het iemand al opgemerk dat met al die drankwinkels wat geplunder is nog nie een hospitaal gekla het oor drankverwante beserings by ongevalle nie? Nogal iets om oor te dink.

Hendrik Marthinus ·

En het iemand al opgemerk dat Baie minder mense op paaie doodgaan sedert drank verbied is.
Ja daar sterf Steeds mense in ongelukke, maar Baie Baie minder sedert drank verbied is.
So die saak het 2 kante ne.

Jaada ·

Al wat SAB moet doen is om te se ons “sluit” die fabriek – “2000 sonder werk”, dan sal die regering regeer!

Lalster ·

die arme wynplase sukkel… ek sal se wynplase moet oop gemaak word

Elinette ·

Hierdie hele inperkingsdebakel maak nie sin nie. Ons is weer op Vlak 4 inperking, maar nie dieselfde inperkingsmaatreëls geld as met 2020 se Vlak 4 inperking nie. Jy mag nog steeds jou twakkies nou koop, maar los maar die dop! In elk geval, die mense wat geredelik wynlandgoedere en top drankwinkels besoek vir hulle knertsie, is nie diegene wat hulle aan wangedrag skuldig maak as hulle hul knertsie agter die blad het nie. Dis diegene wat daai smokkeljaartse en tavernes besoek, wat hulself skuldig maak aan allerlei onvanpaste en wilde gedrag.

Karina ·

My seun bly in Australia, toe hulle ingeperk is, was daar nie verbod op drank verkope nie. Die mense het gekoop en by die huis gaan drink. Die alkohol verkope het die land gered van ekonomiese verliese. Laat die mense hulle doppie koop en by die huis gaan drink. Die absolute drakoniese inperking wat jou regte ontneem is nonsens. Hoekom moet die mense wat hulle gedra gestraf word vir die meniges wat nie ‘n sners omgee nie. Jy kan in die townships drank koop sonder ‘n probleem.

Harley Davidson ·

My opinie is hef alkoholiese verkope op by drankwinkels maar hou dit in plek by kroeë en restaurante dit sal mense dwing om by hulle huis te drink en nie in kroeë nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.