Heidelberg-gesin deur gewapende rowers oorval

Die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Gesin van vyf is Woensdagoggend deur vyf gewapende rowers in hul huis in Heidelberg in Gauteng oorval.

Kol. Amanda Viljoen, stasiebevelvoerder van die Heidelberg-polisie, het gesê die 41-jarige huiseienaar, sy 40-jarige vrou en hul drie kinders, onderskeidelik 13, 15 en 17 jaar oud, was by die huis in Jordanpark toe die rowers teen 06:15 toegeslaan het.

“Die man was op pad werk toe, toe hy voetstappe buite die huis gehoor het. Hy het die motorhuis se deur oopgemaak, waarna hy deur vyf gewapende onbekende mans oorval is. Hulle het ʼn vuurwapen op hom gerig en beveel om stil te bly,” het Viljoen gesê.

Die verdagte het die man in die huis in gedwing waar sy vrou en kinders besig was om vir werk en skool gereed te maak. Die volwassenes is in die hoofslaapkamer in gedwing waar hul hande met blou kleefband vasgebind is.

“Die verdagtes het op die kluis se sleutels aangedring en beveel dat die kluis aan hulle gewys moet word, waarna hulle die huis geplunder het.”

Die verdagtes het in ʼn grys Lexus-sportnutsvoertuig van die toneel gevlug met twee pistole, ʼn haelgeweer, ammunisie, vyf selfone, drie skootrekenaars en juweliersware.

“Die ma en die kinders was erg getraumatiseerd en ds. Ray Goddess van die Heidelberg Metodistekerk is ontbied om geestelike berading te gee. Die kinders is later na die Mediclinic Suikerbosrand geneem vir traumaberading.”

Die Heidelberg-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Viljoen het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Sy het inwoners verseker dat alle inligting vertroulik hanteer sal word.

Dié rooftog volg nadat die 64-jarige Piet van Deventer vroeër vandeesmaand in sy huis in Heidelberg oorval en met ʼn panga aangerand is. Van Deventer is ná die aanval in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leahim ·

Ek wonder hoeveel padblokades het die polisie die afgelope maand in Heidelberg gehou en hoeveel km hulle fisies die area gepatrolleer het of daar enige voetpatrolies in die dorp was Hulle ondersoek net altyd en so gaan dit van betaaldag tot betaaldag en die publiek gaan gebuk onder misdaad

Komaan ·

MALEMA, die kinders het ook hulle EKSAMEN gemis… gee jy om of skreeu jy nog oor die kinders ‘dalk’ hulle eksamens op Swart Maandag sou gemis het? Hierdie is mos jou buddies dan nie?

fm ·

Hierdie gewapende aanvalle, hetsy met gewere, pangas, vlymskerp messe of byle, op mense in hul huise is besig om teen ‘n snelle tempo toe te neem. Hierdie misdadigers weet dat woonhuise sagte en maklike teikens is. As hulle teengestaan word martel hulle jou en maak jou dood. Asook almal wat saam met jou in die huis is. As jy dit wel oorleef is jou hele menswees aan flarde geruk of jy is vermink vir die res van jou lewe of beide. In ‘n ander berig lees ek dat die mense van Kuruman bang is. Die meeste mense in SA leef egter in vrees, die mense van Kuruman ingesluit.

Hennie ·

“Inside job”, sulke rooftogte is en word altyd beplan.

Andre ·

Die diewe het presies geweet dat daar ‘n kluis in die huis is. Hoe??? O ja, wapeneienaars se adresse met foto’s van hul kluise en presies wat se kaliber en hoeveel wapens hul het, is mos op rekord.

kat ·

Ek dink aan julle al ken ek julle nie. Moe nooit buite toe gaan indien julle iets hoor nie – bel iemand om van buite af te kom kyk soos die polisie.

Genieve ·

Deesdae is die polisie self die misdadigers maar versigtig wees. Jy kan hulle ook nie meer vertrou nie.

Annemarie ·

Ja stem saam volkome Vertrou raak moelik in polisies mans en vroue en ook metropolisies .. Baie moelik bel bure vir wie jul ken daar sal kan ook bystaan en help. Dit is dalk meer getuie.. Sterkte vir my volke mense

Elmarie Swart ·

Dis hoekom ek nooit sonder n rottweiler sal wees nie. My rottie is my lyfwag vir 24 uur. Sy is opgelei in gehoorsaamheid en aanvalsklasse. Ek begin ernstig dink om nog een te kry.

Terwyl buitelanders na ons nou kyk ·

Versprei dit wat hier teen ons gedoen word via oorseke kanale en sosiale media, terwyl die buitelandse aandag nou op suidelike afrika is.

Buitelanders ·

Versprei dit wat hier teen ons gedoen word via oorseke kanale en sosiale media, terwyl die buitelandse aandag nou op suidelike afrika is.

Verbaas ·

En dan is almal in ons onnosele regering verbaas omdat Frankryk sopas die 2023 bod gekry het..

Marcel ·

Ek voel so jammer vir wat met die gesin gebeur het. Ons is nie meer veilig nie. Die regering gee nie ‘n flenter om oor ons veiligheid nie. Maak nie saak wat ons buite hoor nie ons gaan nie uit nie. Ons laat ons sekuriteits firma uitkom, ons skakel nie SAPS nie want hulle is useless. Ek voel net jammer vir mense wat nie die finansies het om privaat sekuriteits firmas te kan bekostig nie. Ek hoop die gesin sal met tyd oor die aanval kan kom. Die ANC se korrupte regering is te blameer.

? ·

Hennie kan nie MEER as daai sê nie.? ?sterkte vir die SLAGOFFERS wat ‘n beskrywende woord ..tog so jammer ????

madels ·

Ek dank ons liewe Vader dat niemand doodgemaak, gemartel of beseer is nie.. Dankie dankie dankie.. Mag hierdie familie kragtig deur die Heilige Gees heelgemaak word, dat dat geen maar geen trauma in hul binneste oor is van wat gebeur het nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.