Heidelberg-inwoners moedeloos oor water

Foto: Verskaf

Inwoners van Heidelberg sit met hul hande in hul hare terwyl sommige inwoners al byna ʼn week lank sonder water moet klaarkom.

Dr. Willem Sprong, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, het aan Maroela Media gesê die Lesedi- plaaslike munisipaliteit het glo Vrydag bewus geword van ʼn foutiewe klep wat daartoe gelei het dat water nie vanaf Rand Water na die munisipaliteit deurvloei nie.

“Al die munisipaliteit se werknemers was toe reeds huis toe vir die langnaweek en die munisipaliteit het hulle klaarblyklik nie veel aan die probleem gesteur nie. Uiteraard het die reservoirs oor die naweek leeggeloop en het dit skynbaar daartoe gelei dat daar skade aan die infrastruktuur aangerig is,” het Sprong gesê.

Hy het gesê nadat die foutiewe klep vandeesweek herstel is, het die hooftoevoerpyp van die reservoir na die Heidelberg-sakesentrum gebars. Sedertdien spook die munisipaliteit om die nodige herstelwerk te doen om die watertoevoer na al die gebiede te herstel.

“Blykbaar het daar intussen ander waterpype ook gebars. Die algemene gevoel is dat hierdie situasie veroorsaak is weens algehele nalatigheid deur die munisipaliteit wat nie vroegtydig opgetree het nie,” meen Sprong.

“AfriForum het sedert Maart vanjaar die een brief op die ander aan die munisipaliteit geskryf, onder meer oor die verouderende infrastruktuur, juis om hulle te waarsku teen situasies soos hierdie. In reaksie op ons laaste brief het hulle gesê hulle wil hierdie week met ons vergader, maar hulle het nooit weer teruggekom na ons toe om die vergadering te bevestig nie.”

Foto: Verskaf

Sprong het gesê inwoners is raadop oor die tekort aan water en selfs die plaaslike hospitaal en aftree-oorde het geen water nie. “Die departement het die skole ook toegemaak aangesien daar nie water is nie, en ons kry net nie terugvoer van Lesedi se kant af nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die munisipaliteit het twee watertenks beskikbaar gestel, maar dat dit grootliks Ratanda, die informele nedersetting suid van Heidelberg, bedien. Intussen het besighede en boere in die omgewing begin om tenks met water vir inwoners aan te ry om te probeer om die situasie te beredder.

Arthur Thokoane, woordvoerder van die munisipaliteit, het aan Maroela Media gesê die munisipaliteit het oor die afgelope 24 uur talle gebarste pype herstel en is tans nog besig om die hooftoevoerpyp na die Heidelberg-sakesentrum te herstel.

“Ons het nou selfs begin om watertoevoer na ander uitbreidings net tydelik af te skakel om te help dat die reservoir vinniger vol tap. Ons verwag dat die watertoevoer teen die einde van die dag herstel sal wees,” het Thokoane gesê.

Hy het erken dat verouderende infrastruktuur probleme veroorsaak en daartoe lei dat ʼn volgende probleem opduik net sodra die eerste probleem herstel is. Volgens Thokoane het die munisipaliteit wel in die 2017/18-begroting voorsiening gemaak vir opgradering van die munisipale infrastruktuur en sal dié probleem aandag geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hanna ·

En die wanbetalers in die informele nedersetting kry eerste toegang tot water? ANC sorg goed vir hulle kiesers terwyl die betalende gemeenskap die middelvinger kry. Viva ANC, viva!

Normaal ·

‘n Normale dag in Afrika wanneer dinge skeef loop. ‘n Abnormale dag in Afrika? Reg geraai! Wanneer niks verkeerd loop!

Albaster ·

Ou John wat Orania so afkraak, waar is jy nou? Hierdie gemors gebeur nie in Orania nie.

Danie ·

Dink mooii – hoe geseend is ons wat kan kla oor kraanwater – net ń gedagte

hendrik ·

Ons betaal daarvoor en sommer ook vir die wat nie betaal nie.

Gert ·

Gaan ook so hier in Potgietersrus ,water vloei uit krane so dun soos ‘n strooitjie.

Peet Schabort ·

Dit was op Evander in die 1970’s/1980’s dat Frans van der Merwe en sy span van die munisipaliteit die hele dag en nag gewerk het om ‘n waterlek te herstel. Dit was sy gewoonte om nie terug te keer maar die werk klaar te maak. Nou 40 jaar gelede sal ek dit steeds onthou. Ek moet dit egter nie vergelyk met vandag se werkswyse, of . . . ?

Vermeende ·

Die agteruitgang gaan ons nou met n spoed inhaal.
Hierdie pype het n leeftyd van 40 jaar dan moet dit vervang word, baie van ons dorpe en stede se pype is al amper dubbel oor hul diens tyd, daar is nie meer geld in die koffers om die pype te vervang nie en soos die foto wys word hy net ge-patch.
Hierdie is n tydbom want een van die dae gaan daai pype finaal groet.
Ek sal net graag wil weet of die gebiede waar die DA regeer hulle pype vervang op tyd en of hulle petches maar net beter is?

Swart Piet ·

‘n Mens kan sommer op diefotos die brouwerk sien. As ‘n pyp deur geroes is dan moet dit vervang word nie gelap word nie.

MrB ·

n Munisipaliteit so klein soos daai een sal nooit die geld he om die verouderde pype te vervang in een jaar nie. Hulle finansiele posisie is moeilik. Dit is n sagte woord wat ek nou gebruik.

Munisipaliteite moet jaarliks pype vervang wat oor hulle nuttigheids periode val. Hulle versuim dit jaar na jaar en nou sit die area met n ontmoontlike duur situasie.

Die laaste keer wat infrastruktuur aan dag gekry het was voor 1994! Sad but true!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.