Heidelberg-man in hof oor springstof, wapens

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn Man van Heidelberg in die Wes-Kaap sal na verwagting Maandagoggend in die landdroshof op die dorp verskyn op aanklagte van onder meer die onwettige besit van ammunisie en springstof. Die 52-jarige man word ook aangekla vir die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder vir die Valke, is die man Sondag in hegtenis geneem.

“Die polisie het opgetree op grond van inligting wat die Valke ontvang het oor ʼn wapenopslagplek by ʼn huis op Heidelberg,” het Hani gesê.

Die Valke in die Wes-Kaap, in samewerking met onder meer die plaaslike kriminele rekordsentrum op Worcester, die honde-eenheid van die Overberg-polisie, lede van die spesiale taakmag en die springstofeenheid het ʼn deursoek-en-beslagleggingsoperasie uitgevoer nadat ʼn lasbrief verkry is om die perseel te ondersoek.

Sewe vuurwapens sowel as meer as ʼn duisend patrone is op die perseel gevind. Die wapens wat in die huis gevind is, sluit in vier gewere, drie haelgewere en drie handgranate.

Volgens Hani is die vuurwapens nie in ʼn kluis gehou nie.

“Die polisie het op die vuurwapens en ammunisie vir verdere ondersoek beslag gelê. Dit sal ballistiese toetse ondergaan om enige verband met misdade wat in die land gepleeg is, vas te stel,” sê sy.

Verdere aanklagte kan moontlik by die klagstaat teen die man gevoeg word namate die ondersoek vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.