Heidelberg-man verdwyn spoorloos

Steven John Hall. Foto: Facebook

Steven John Hall. Foto: Facebook

ʼn Groot soektog is van stapel gestuur nadat ʼn 56-jarige man van Heidelberg in Gauteng vandeesweek spoorloos verdwyn het.

Steven John Hall is Dinsdagaand vir die laaste keer gesien nadat hy sy vriendin by haar huis afgelaai en toe self huis toe gery het. Hy het vermoedelik nooit daar aangekom nie. Steven is ongetroud en woon alleen.

Edward Hall, Steven se broer, het Saterdag aan Maroela Media gesê die polisie en ʼn soekgeselskap kon nog geen teken van sy broer vind nie. “Steven se vriendin het vertel dat hulle die aand uit was en dat hy haar huis toe geneem het. Daarna het hy self teruggery huis toe, maar op pad soontoe verdwyn,” het Edward gesê.

Hy sê sy broer se motor word ook vermis. Die motor het nie ʼn opsporingstoestel in nie en sy broer se selfoon is nog die hele tyd afgeskakel. Volgens Steven se Whatsapp-profiel was hy Sondag laas aanlyn.

Intussen het verskeie lede van die gemeenskap ingespring om die polisie te help met die soektog. Steven se verdwyning is ook by die Missing Children SA-organisasie aangemeld.

Edward sê hoewel almal al sedert Woensdag onverpoosd soek, het hulle nog niks gevind nie. “Daar is ʼn hoë brug in Heidelberg waaroor die water gespoel het toe dit so erg gereën het. Die water het glo tot oor die relings gespoel. Hy sou glo oor daardie brug moes ry om by sy huis te kom, so daar is ʼn moontlikheid dat sy motor dalk deur vloedwater meegesleur is,” het Edward gesê. “Maar dit is net een van die teorieë. Daar is geen aanduiding dat dit wel is wat gebeur het nie.”

Hy het bygevoeg dat dit steeds onophoudelik in Heidelberg reën, wat die soektog verder bemoeilik.

Steven is 1,7m lank met swart hare en bruin oë. Enigiemand met meer inligting oor die saak word versoek om die Heidelberg-polisie by 016 341 4301 of Missing Children SA by 072 647 7464 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Tragies dat mense deesdae net so verdwyn…soos vrou van Gauteng wat met vorige kitsvloede van die brug afgespoel is in haar motor…maar geen berig het al melding gemaak of sy gevind is…hoop hy word ongedeerd gevind…

Cheryl ·

Kobus sover my kennis tref is die vrou wat vermis is in Pretoria wie se seun se motor met ha in, by die laagwater brug in Capital Park ook nog nie gevind nie of oak geen teken nog van haar nie. Sy het ook spoorloos verdwyn….

Kobus ·

Cheryl…Dis van haar waaroor ek kommentaar gelewer het….ek is amper afgeslag deur my vorige kommentare oor haar verdwyning…ek staan nog steeds by my belofte om GROOT verskoning te vra indien ek verkeerd bewys word op my stelling van vroeer

Chris Ws ·

Heng daar word GEEN melding gemaak oor watse voertuig mense op die uitkyk voor moet wees wat in daardie omgewing beweeg nie.Swak.

Dewald ·

Ek is van Heidelberg en besig met die soek tog. Dis n rooi corsa reg: VZJ609GP

lorayne ·

Ek bid julle sterkte toe Dewald! Baie dankie, ons almal kort mense soos jy . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.