Heidelberg-moord: ‘Ons gaan haar lewe vier’

Elzona en Abigail Meyer. Foto: Verskaf

Die lewe van Abigail Meyer, ʼn 20-jarige mediese vrywilliger, het Vrydagaand skielik aan die hande van misdadigers tot ʼn einde gekom en ʼn hele gemeenskap tot stilstand geruk.

Tog wil haar ma, Elzona Meyer, ʼn geliefde paramedikus van Heidelberg, niks “morbieds” hê as Abigail se lewe Vrydag, ʼn week ná haar skietdood, herdenk word nie. Abigail se gedenkdiens word dán om 11:00 in die NG Klipkerk in Heidelberg gehou.

“Daar is ʼn klomp goed wat gaan gebeur, van ʼn erewag tot ʼn orkes. Die mense het omtrent alles self gereël en ek het niks daarmee uit te waai nie. Al wat ek gedoen het, was om my voet neer te sit en te sê daar moet niks morbieds wees nie. Geen lykswa, geen kis. Abe was lief vir die lewe en sy sou wou gehad het dat haar lewe gevier word,” het Elzona Woensdag aan Maroela Media gesê.

Elzona het Vrydagaand die laaste twee uur van Abigail se lewe by haar dogter deurgebring en self onverpoosd geveg om haar lewe te red.

Maroela Media het Saterdag berig Elzona, direkteur van Heidelberg Medic Volunteers en algemene bestuurder van Emer-G-MED op die dorp, was Vrydagaand nog aan diens en in Nigel toe ʼn noodoproep van ʼn kaping voor haar huis in Smitstraat in Heidelberg deurgekom het.

“Ek het eers gedink die adres is verkeerd en hoe meer die inligting deurgekom het, hoe meer het ek besef daar is fout en het huis toe gejaag. My foon het net nie ophou lui nie,” het Elzona gesê.

Sy vertel Abigail en haar kollega, Jaco Pretorius (24), wat ook vir Medic Volunteers werk, het omstreeks 19:45 van die gimnasium af gekom en by die huis waar Abigail saam met Elzona woon, stilgehou sodat Abigail haar motor kon gaan bêre. Van daar sou Abigail en Jaco in sy motor iets gaan kry het om te eet.

“Abigail het nog haar uniformbaadjie aangehad. Sy het na buite na Jaco se motor gestap en ingeklim toe ʼn voertuig met vier mans in uit die bloute agter Jaco se motor in die oprit stilhou en bloot deur die motor op hulle begin skiet het.”

Van die gewapende mans het uitgespring en Abigail uit die motor gepluk. Jaco is ook uit die voertuig geboender waarna die aanvallers in Jaco se motor, ʼn rooi Ford Fiesta ST, en hul voertuig van die toneel weggejaag het. Die aanvallers het Abigail in haar maag gewond. Jaco is nie getref nie.

“Toe die mans weg is, het Abigail vir Jaco gesê: ‘Ek is seer, help my.’ Hul selfone was in die kar en Jaco het in die straat om hulp geroep, waarna bure hulle te hulp gesnel en hulp ontbied het.” Elzona het kort daarna die oproep ontvang wat haar lewe geruk het.

“Ek kan nie onthou hoe ek by die huis gekom het nie. Toe ek daar aankom, het ek haar in die oprit sien lê. Sy was reeds grys en bleek. Ek kon sien sy het baie bloed verloor.” Elzona en haar kollegas het alles in hul vermoë gedoen om Abigail te stabiliseer terwyl ʼn helikopter van Netcare 911 ontbied is.

“Toe die helikopter daar aankom, het my kollega vir my gesê ek kan nou maar ʼn mamma wees en nie meer ʼn paramedikus nie.” Die helikopter het Abigail na die Unie-hospitaal in Alberton geneem waar Elzona later by haar dogter aangesluit het.

“Toe ek daar aankom, het hulle my ingelig Abigail het ʼn hartstilstand gehad. Uit ondervinding weet ek dit is nie ʼn goeie teken nie. Hulle het my gevra of ek haar wil sien. Ek het ja gesê en by haar gaan sit. Ek het gesien hoe die dokter onverpoosd probeer om haar by te bring. Ek het my hand op sy arm gesit en vir hom gesê hy kan maar ophou. Sy is om 21:20 dood verklaar.”

Abigail het aan Hoër Volkskool gematrikuleer waarna sy somatologie in Potchefstroom gaan studeer het. Sy het daarna by haar ma se ondernemings aangesluit.

Abigail, of Abe soos haar ma haar noem, was baie geliefd. “Sy was mal oor flieks en musiek en sou sommer aanhalings uit flieks net so kon opnoem. Sy het ʼn passie vir mense gehad. Haar familie en vriende was haar lewe. Abe was mal daaroor om te sosialiseer. Sy kon nooit kwaad bly vir iemand nie en was almal se pel … ʼn regte warrelwindjie.”

Die hope en hope blomme wat sedert die skietvoorval by die lamppaal voor hulle huis ophoop, is ʼn teken van die talle harte van inwoners wat die twee vroue aangeraak het.

Abigail laat haar ma; haar boetie, Carter (11); haar pa, Bill Meyer; haar biologiese pa, Jaco Greyling, en twee halfsussies en grootouers agter. Sy laat ook haar kêrel van twee jaar, Willem Giesing (22), agter.

Die Heidelberg-polisie ondersoek ʼn saak van kaping en moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lizzie ·

Tragies maar ek dink die ma het sielkundige hulp nodig om haar dood te verwerk. n Mens moet rou, dis deel van die heelword proses.

Hannes ·

My bloed kook vir die sinnelose moorde op blankes..maar ons volk doen niks..ons het n traak my nie agtige houding.

LIZZIE ·

RIV Abigail, so onnodig en so hartseer. Sterkte aan die gesin in hierdie moeilike tyd.

Theresa ·

Tragedie. Sterkte aan elkeen wat haar lief gehad het en haar gaan mis.
Hoop die moordenaars word spoedig aangekeer en gevonnis.

Liza ·

Ek het geen woorde nie… kan net dink hoe seer die familie moet wees… ek dra julle op in my gebede… Rus in vrede Abe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.