Held gryp in tydens verdrinking

Buffelsbaai by Kaappunt in die Wes-Kaap Foto: Suné van Heerden

Buffelsbaai by Kaappunt in die Wes-Kaap Foto: Suné van Heerden

Darren Francis, ʼn woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Saterdag dadelik ingegryp toe drie mans by Buffelsbaaistrand by Kaappunt in die Wes-Kaap, in die moeilikheid beland het. Twee mans is gered, maar ʼn vakansieganger van Johannesburg het ongelukkig tydens die voorval verdrink.

“Die span van NSRI Simonstad is omstreeks 15:15 deur die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) ontbied ná berigte deur natuurbewaarders van Tafelberg Nasionale Parke oor ʼn verdrinking wat by Buffelsbaai in Kaappunt plaasvind,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), in ʼn verklaring gesê. “Die besonderhede was nie duidelik nie, aangesien daar geen selfoonopvangs op die toneel was nie.”

ʼn 44-jarige man van Johannesburg en twee mans van Mitchellsplein, onderskeidelik 25 en 30 jaar oud, het in die moeilikheid geraak toe ʼn systroom hulle meegesleur het.

“Francis het saam met sy familie die dag by Buffelsbaai deurgebring en was besig om te braai toe hy gesien het die drie mans word in ʼn noordelike rigting meegesleur,” het Lambinon verduidelik. “Hy het sy familie versoek om hulp te ontbied, terwyl hy een van die omstanders se lyfplanke gegryp en die see in is om die mans te red.”

Die 25-jarige man kon ʼn golf gebruik om vlakker water te bereik waar hy kon staan. Omstanders het hom uit die gevaar gehelp en na die strand gebring.

Intussen het Darren, op die lyfplank, ʼn sleurstroom gebruik om na die 30-jarige man te swem – wat nader aan hom was. Die 44-jarige man was reeds verder in die see in. “Hy het vir die twee mans geskree om parallel met die strand te swem in ʼn poging om uit die sleurstroom te kom.” Die 30-jarige man kon daarin slaag om te doen wat Darren gesê het en Darren het hom uiteindelik bereik. “Die man was egter te moeg om homself verder te help en Darren het hom op die lyfplank gelaai en met die golwe na veiligheid gebring.” Lede van die publiek het in die vlakwater die man na die strand gebring.

In daardie stadium het ʼn onbekende man in ʼn seekajak ingestem om Darren, wat nog steeds die lyfplank by hom gehad het, te help om die 44-jarige man te probeer red. Nog ʼn onbekende omstander het ook ʼn lyfplank gebruik om die man te probeer red. Die drie mans het uiteindelik die 44-jarige bereik, maar hy het reeds met sy gesig na onder in die water gedryf. “Hulle het hom na die strand gebring waar Darren dadelik KPR op die man toegepas het totdat paramedici later by hulle aangesluit het,” het Lambinon bygevoeg.

Ondanks alle pogings om hom by te bring, is die 44-jarige man van Johannesburg op die toneel dood verklaar.

“Die NSRI vereer Darren Francis vir sy pogings asook die twee onbekende mans wat hom bygestaan het,” het Lambinon gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die familielede word ondersteun deur traumaberaders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.