Held ontmoet gesin wat hy drie dekades gelede help red het

Francis Cloete (voor links) en sy vrou Christelle, Estelle en Henk Joubert en twee van hul seuns, Tiaan en Gerhard. Wynand kon nie die geleentheid bywoon nie. (Foto: Verskaf)

ʼn Man wat ʼn ma en drie kinders se lewe 33 jaar gelede help red het, het Saterdag vir die eerste keer weer die gesin ontmoet.

Francis Cloete het destyds as 17-jarige tiener gehelp om Estelle Joubert en haar seuns, Tiaan (toe vier), Wynand (toe drie) en Gerhard (destyds ses maande oud), uit ʼn waterkanaal te red.

“Jong held vertel van reddrama” het die koerantopskrif oor die voorval in 1988 in ʼn plaaslike koerant gelui.

Die motor waarmee Estelle en die kinders op daardie dag gery het, het onderstebo in ʼn waterkanaal by Brits in Noordwes beland. Cloete, ʼn lewensredder en kranige swemmer, se broer, Tjaart, het hom kom roep toe hy toevallig sien hoe die voertuig in die kanaal beland.

Cloete sê klein Gerhard het in ʼn bababedjie buite die motor op die water gedryf en hy het aanvanklik gedink dit is ʼn pop. Maar dit het hom ook laat besef dat daar moontlik kinders in die motor is.

Die koerantberig uit 1988 wat Cloete op Facebook gedeel het.

Hy het van die motorruite probeer breek om die vier te red. Hy het boonop verskeie snye opgedoen nadat die voertuig losgekom en op hom beland het, maar Estelle en die twee oudste seuns is eindelik uit die water gehaal.

Hy het noodbehandeling op Estelle toegepas, terwyl die res van sy gesin en ander omstanders die seuns gehelp het. Cloete sê hy het ook eers tóé besef die pop wat hy vroeër uit die pad geskuif het om in die voertuig te kom, is ʼn babaseuntjie.

Estelle se man, Henk, en sy swaer het in ʼn bakkie voor Estelle en die seuns gery toe sy vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en in die kanaal beland het. Estelle was langer as ʼn week in die hospitaal, maar het eindelik ten volle herstel.

Die seuntjies is nie ernstig beseer nie.

Cloete, nou 49 jaar oud, het die koerantuittreksel oor die gebeure vandeesweek in ʼn plasing op Facebook gedeel en gevra of enigiemand weet wat van die gesin geword het. Hy sê hy dra dit al die afgelope meer as 30 jaar met hom saam.

Hy is al jare lank ʼn pastoor en sê daardie dag se gebeure was een van die redes hoekom hy in die bediening beland het. Dit het ná die voorval sleg met hom gegaan en in ʼn stadium het sy jong lewe gedreig om te ontspoor. Maar Cloete sê hy het weer op die regte pad beland.

“Hulle was van die eerste mense wie se lewe ek aangeraak het.

“Daardie dag het my lewe verander.”

En hoewel Cloete se gesin destyds ʼn klipgooi van die Joubert-gesin gewoon het, het hulle ná die ongeluk nooit weer kontak gehad nie. Jare het verloop, maar Cloete het nie daarvan vergeet nie. Hy was die afgelope ruk siek en is in die hospitaal behandel, en sê hy het geweet hy moet nou werk maak daarvan om die gesin op te spoor.

Sy plasing is duisende kere op Facebook gedeel en nie lank daarna nie was hy in verbinding met die Joubert-gesin waar hulle die afgelope sowat tien jaar in Meyerton woon.

ʼn Herontmoeting is terstond gereël en Saterdag het die gesinne mekaar vir die eerste keer weer  gesien.

Cloete sê hy het Gerhard – destyds maar net ʼn baba – se oë dadelik herken. “Almal onthou sekere goed van die ongeluk en ek het nog letsels op my liggaam wat my elke dag daaraan herinner. Maar sy ogies – dit het so ʼn gryserige kleur gehad, ek sal dit nooit vergeet nie.”

Estelle sê sy onthou ook daardie Saterdag se gebeure soos gister. En was dit nie vir Cloete en sy gesin nie – wat almal noodbehandeling kon doen – sou hulle vandag moontlik nie dié besondere verhaal kon vertel nie.

Cloete het die gesin na 33 jaar eindelik weer ontmoet. (Foto: Verskaf)

“Ek kan nie swem nie, nie om my lewe te red nie. Maar nóg ek nóg een van ons drie kinders het enige skade ná die ongeluk oorgehou en ons moes seker agt minute lank in die water gewees het. Dit was ʼn wonderwerk.

“As ek hieroor praat, kry ek steeds hoendervleis. Voor die ongeluk het ek die lewe amper as vanselfsprekend aanvaar, maar daarna het ek die lewe gesien vir wat dit is. Dit is nie net sómmer nie. Dit is nie vanselfsprekend nie. Net die voorreg om longe te hê wat gesond is, om asem te haal, om die sonskyn op jou te voel … Dit is ʼn absolute wonderwerk.”

Cloete en sy vrou, Christelle, en Estelle en Henk, asook Tiaan en Gerhard het Saterdag ʼn hond uit ʼn bos gesels. Wynand en sy vrou kon nie daar wees nie, maar die gesinne beoog om gou weer bymekaar te kom sodat Cloete ook vir Wynand kan ontmoet.

“Woorde sal nooit genoeg wees om Francis en sy familie te bedank nie. ʼn Mens sê dankie, maar dankie is ʼn klein woordjie. Dit is ʼn ewige dankbaarheid dié,” sê Estelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Debbie ·

Ek wens Maroela Media wil meer positiewe verhale soos die deel. Dit maak mens neerslagting om net al die negatiewe nuus en slegte nuus in ons land te lees.

Talitha ·

Ag wonderlik. Mooiste storie wat ek in ‘n lang tyd gelees het!

Ian ·

En dit is hoe God sy kerk bou. Dankie Maroela dit was nou n mooi storie.

Petrus ·

Pragtig, dis merkwaardig en moet ‘n wonderlike gevoel vir almal wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.