Helde nou ‘veilig agter tralies’

Charles Rademeyer voor die herstelde muur en heining (Foto verskaf)

Die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria is nou veilig agter splinternuwe heinings en mure, sodat die boewe wat buite rondloop nie weer toegang tot die waardevolle erfenisskatte het nie.

Verskeie grafte is al geskend en gevandaliseer, onder meer oudpresident Paul Kruger se borsbeeld wat gesteel is. Die FAK het die borsbeeld met ’n replika van die oorspronklike vervang.

Vir twee weke lank het Liversage Boumaatskappy in samewerking met die FAK gewerk om die stukkende heinings te herstel en nuwe mure te bou. Dié projek is op 22 Februarie voltooi.

“Die beskadigde heinings by die Heldeakker het ’n groot risiko ingehou,” sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK. “Die heinings wat herstel is, stel ons in staat om voort te gaan met die volgende stappe om die Heldeakker nuwe lewe te gee.”

Liversage Boumaatskappy het die FAK gekontak om te hoor hoe hulle betrokke kan raak by die Heldeakker. Toe hulle hoor van die stukkende heinings, het hulle ’n groot skenking gemaak om dit te herstel.

“Ek is baie lief vir erfenis,” sê direkteur William Liversage. “Dit is tyd om met trots te sê ons is lief vir ons geskiedenis en trots op wie ons is.”

“Dit is goed dat die gemeenskap ons stem om hulp hoor en saamstaan. Dit wys die publiek is bereidwillig om te help,” sê Rademeyer.

Die FAK beplan ’n paar opwindende projekte verder, noudat die Heldeakker beveilig is. Daar gaan byvoorbeeld ’n QR-kodebord langs elke graf geplant word waar die besoeker meer inligting oor die persoon en sy lewe kan kry. Die eerste QR-kodebord word reeds op 2 Maart by Paul Kruger se graf geplant.

Verder beplan die FAK om ’n museum by die Heldeakker op te rig met nie-waardevolle items soos afskrifte van foto’s en briewe van persone wat daar begrawe is, om meer “lewe” aan die begraafplaas te gee.

“Ons doel is om seker te maak dat die erfenis voort kan leef en dat dit behoue bly vir die nageslag. Ons sien ook ’n groot toerisme-oplewing van die publiek wat nou die Heldeakker kom besoek en betrokke raak,” voeg Rademeyer by.

Die Heldeakker is die eerste Saterdag van elke maand van 09:00-13:00 oop vir die publiek om te besoek.

Word ’n vriend van die FAK en help ons om jou erfenis te beskerm: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/

 

FAK herstel weer!ONS erfenisONS verantwoordelikheid. Hoe kan jy help? Vind uit deur op hierdie skakel te klik – https://forms.gle/eZ2PbzqqwsEirh5U8

Posted by FAK on Friday, February 23, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.