Heldhaftige reddingspoging in Kampsbaai

Shane Keenan word van die reddingsbasis na die ambulans gedra Foto: NSRI

Shane Keenan word van die reddingsbasis na die ambulans gedra Foto: NSRI

Shane Keenan (18) van Fourways in Johannesburg is Maandag by Kampsbaai in Kaapstad tydens ʼn waaghalsige reddingspoging van verdrinking gered, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verklaring gesê.

“Die NSRI Bakoven-span is omstreeks 17:30 ontbied,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê. “Die tiener het ʼn groot vlieër op die strand gevlieg toe die wind die vlieër beetgekry het. Shane is agter die vlieër aan in die see in, maar hy het in die moeilikheid beland en is ongeveer 200 meter ver in die see in en is in die rigting van die rotse by Maidens Cove meegesleur.”

Volgens Lambinon het lewensredders probeer om die tiener te bereik, maar hulle is gedwing om die reddingspoging te laat vaar.

“NSRI Bakoven se seereddingsvaartuig het gesukkel om in die golwe van ongeveer 3.5 meter hoog en ʼn suidooster van 50 knope (ongeveer 90 km/h) die tiener te bereik.

Johnny Alberts, adjunk-stasiebevelvoerder van die NSRI wat die boot bestuur het, het gesê die seetoestande was baie rof en hulle het besef die reddingspan sou in doodsgevaar wees indien hulle sou poog om die tiener te bereik. Hulle kon ook nie ʼn reddingswemmer in die water plaas nie. Hy het vir die tiener beduie om weg van die rotse en in die rigting van die boot te swem, maar die tiener het net met groot oë en verskrik na hulle gekyk. “Die reddingspan kon nie verstaan waarom die tiener nie op hul opdrag reageer nie,” het Lambinon bygevoeg. “Johnny het weer vir die tiener geskree, waarop die tiener teruggeskree het dat hy nie kon swem nie.”

Die span was glo stomgeslaan en kon nie verstaan waarom die tiener sê dat hy nie kan swem nie.

Die reddingsvaartuig is gedwing om ook sy reddingspoging te laat vaar.

Johnny het gesê hulle het in hierdie stadium nie geweet hoe om die tiener van ʼn seker dood te red nie.

Hulle het besluit om weer ʼn laaste keer te probeer om naby aan die tiener te kom. Die golwe het ʼn ruk lank bedaar en hulle kon Shane uiteindelik bereik. Toe hulle hom egter in die boot wou trek, kon hulle dit nie regkry nie en het toe eers ontdek sy bene het in die vlieër se toue verstrengel geraak en hy is tussen die rotse geanker, en die vlieër was boonop vol water.

Tussen die hoë golwe het Johnny vir die reddingspan geskree om aan Shane vas te klou terwyl hy stadigaan met die boot begin wegtrek het. “Die span was bang dat hulle die tiener sou beseer terwyl hulle aan hom getrek en die vlieër en toue nog vasgesit het.” Hulle kon hom uiteindelik bevry om hom in die boot te tel. Hier het die bemanning die toue losgesny.

“Shane is vir verkluiming, verdrinkingsimptome, uitputting en skok behandel,” het Lambinon bygevoeg. “ER24 het hom in ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem in ʼn ernstige maar stabiele toestand. Hy sal na verwagting ten volle herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carl ·

Fantasties dankie vir die onbaatsugtige diens! En ek glo erens het daar iemand ‘n gebed gedoen vir die jong man. “Die golwe het ʼn ruk lank bedaar en hulle kon Shane uiteindelik bereik. “

Madelein ·

Baie dankie aan die reddinsgpan wat nie tou opgegooi het nie. Sterkte aan Shane!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.