Heldhaftige studente sit selfoondief agterna

Van links na regs: Christiaan Combrinck, Quinton Viljoen, Duan Naudè, JP Duvenage en Devan Venter (Foto: Verskaf)

Ses Sol-Tech‑studente was op die regte tyd op die regte plek toe hulle Woensdagoggend ’n selfoondief in die straat net buitekant die Sol-Tech‑kampus in Pretoria-Wes platgetrek het.

Christiaan Combrinck, Quinton Viljoen, Duan Naudé, JP Duvenage, Devan Venter en Rohen Labuschagne het Woensdagoggend omstreeks 10:30 hulle slaptjips blitsvinnig neergegooi en agter ’n vermeende grypdief aangehardloop nadat ’n ouer man skielik van die straat af geskree het: “Vang die man, hy het gesteel!”

“Ons groepie vriende het tydens ’n afperiode rustig in die Teetuin gesit en kuier toe ’n oom ewe skielik om ons hulp geroep het,” het Combrinck aan Maroela Media gesê.

Die dief het vermoedelik ’n vrou se Huawei-selfoon in Van der Hoff-straat, naby die Sol-Tech‑kampus, gesteel en laat spaander. Dié ouer man het die voorval gesien en die boef in sy wit trok agterna gesit.

“Ons eerste instink was om net te hardloop. Ons het almal onmiddellik opgespring en agter die dief aangehardloop en hom in die straat platgetrek. Hy het nie ’n kat se kans teen ons gestaan nie,” vertel Combrinck trots.

Die straat waar die studente die selfoondief platgetrek het. (Foto: Verskaf)

Dié heldhaftige studente het dadelik die kampussekuriteit ontbied wat toe vir hulle boeie gegee het om die man te boei.

“Ons het die man teen die boom vasgehou en begin ondervra waar hy die selfoon gekry het. Hy het heeltyd om verskoning gevra en selfs ontken dat hy die selfoon gesteel het. Hy het daarop bly hamer dat hy net honger is,” sê Combrinck.

Volgens Combrinck het hulle die man se sakke begin deursoek en die gesteelde selfoon en ’n mes gevind.

“Twee mans het die selfoon kom afhaal. Ons vermoed dit was die vrou wie se selfoon gesteel is se broers, maar ons is nie doodseker nie,” vertel Combrinck.

’n Vrou wat van oorkant die straat die hele voorval gesien het, het onmiddellik die buurtwag ontbied. Toe die buurtwag by die toneel aankom, het hulle die polisie ontbied om die dief in hegtenis te neem.

Combrinck vertel dat hulle baie bly is dat die dief nie met die selfoon weggekom het nie. “Na die hele gedoente het ons soos normaal aangegaan en ons slaptjips gaan eet wat teen daardie tyd al koud was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Z ·

Eendrag maak mag.
Moenie ons jong manne onderskat nie. Mooi so, Manne!

Tina du Toit ·

Trots op julle mannetjies. Dis `n mooi voorbeeld vir ons ander. Goeie werk julle.

DeVill ·

Mooi manne! Julle het koel kop gehou en nie die boef aangerand nie!

Well done!

Oupa D ·

Stem saam. Slim gedink. Hoop die polisie het die skurk toegesluit en nie net weer laat gaan nie.

Essa ·

Goeie opmerking DeVill. Die flinke jong manne het ‘n probleem effektief opgelos en nie ‘n groter een geskep nie. Knap gedoen manne.

Marietjie ·

Mooi So!. Wens ons kan ‘n paar van julle in ons dorp kry. Hier gryp hulle daagliks selfone. Mense word selfs aangerand terwyl hulle die selfone gryp.

Bonita ·

Trots op julle jong wit manne! !! Kom help die potchefstroom studente by pukka ook????

Anoniem ·

Nee J, hulle het hom juis níé ‘n paar warm klappe gegee nie. Hulle het hulle noedels gebruik, selfbeheersing toegepas, en die saak op ‘n volwasse manier uitgesorteer wat nie kan boemerang nie.

Kyk en leer.

Pieter ·

Welgedaan – meer goeie mans!

“Hard times create strong men. Strong men create good times. Good times create weak men. And, weak men create hard times.” G. Michael Hopf

Ekke ·

As iemand mos sê hul is honger kom hul met enige kriminele dade weg. So word hul voor gesê. Geen geregtigheid meer. Geen simpatie vir slagoffer net vir krimineel.

Sakkie ·

Pragtig. Vir ‘n verandering was die skurk “out numbered”

Boerin ·

Dankie dat julle nie kwaad geword het nie ….(erge nagevolge) mag julle geseen wees! Ons is trots op julle !

Lizelle ·

Dinge kon so maklik anders uitgedraai het. Wat as di dief n wapen gehad het. Dankbaar maar n selfoon is nie n lewe werd nie.

Anoniem ·

Goeie plan, as iets skeefloop, trek net die hongerwees ‘trick’ NIKS sal gebeur nie

Se maar net ·

Hy was honger vir kos en hulle was besig om te eet maar hulle honger vir hardloop het gewen.

Ra Amon Khan ·

.
.
Ek tel maar papiere en ander vullis op vir vergoeding as ek honger is….ek loop nie met n mes rond nie…
.
.

Danie ·

Mooi so julle maak ons trots op julle ,hul sal nou twee keer dink en mooi rond kyk voor hul weer daar iets sal probeer dankie julle OUENS

Heksie ·

Dit was baie braaf van julle, maar ongelukkig bestaan die kanse ook dat een van julle seer kon gekry het maar nietemin, wel gedaan manne!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.