‘Hele Eskom-raad moet bedank’

Argieffoto

Die Nasionale Mynwerkersunie (NUM) het Dinsdag die bedanking van Ben Ngubane, die beleërde voorsitter van die Eskom-raad, verwelkom en gesê die res van die raad behoort sy voorbeeld te volg.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Maandagaand laat aangekondig Ngubane se bedanking is onmiddellik van krag. Zethembe Khoza is tydelik as raadsvoorsitter aangestel totdat ʼn nuwe aanstelling deur die kabinet gemaak word.

Die Eskom-raad bestaan nou uit Khoza, Anoj Singh, finansiële hoof, en die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure Pathmanathan Naidoo, Giovanni Leonardi en Chwayita Mabude. Die pos van uitvoerende hoof is steeds vakant nadat Brian Molefe se heraanstelling vroeër teruggetrek is en Matshela Koko met verlof is hangende ʼn ondersoek na moontlike botsing van belange.

NUM het in ʼn verklaring gesê die oorblywende Eskom-raadslede is ʼn skande vir Eskom en die regering. “Ons het mans en vroue met integriteit nodig wat omgee vir die werknemers wat die enigste bron van die ‘ligte aan’-agenda is,” het NUM in ʼn verklaring gesê. “Sodra hulle almal bedank het, sal ons ook ʼn beroep op die regering doen om beslissend op te tree om die sluiting van vyf kragstasies deur Molefe tydens sy kort terugkeer na Eskom, om te keer.”

Intussen het die DA gesê Ngubane se skielike bedanking sal hom nie vryspreek van enige skuld in die ineenstorting van die bestuur by die kragvoorsiener nie. Natasha Mazzone, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het gesê Ngubane het nog baie vrae om te beantwoord, veral in die lig daarvan dat sy bedanking kom kort ná onthullings van die Guptas se beweerde kaping van die Eskom-leierskap.

Mazzone het gesê bewerings dat Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale hulpbronne, deur Molefe en Ngubane gedwing is om Glencore Optimum se mynlisensies terug te trek om seker te maak dat die Guptas Glencore se steenkoolmyne kan oorneem, moet nog ondersoek word.

Die vakbond Solidariteit het ook Ngubane se bedanking verwelkom, maar gesê “daar is nog ʼn paar plekke binne Eskom waar huis skoongemaak moet word”. Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het gesê hy hoop Ngubane se bedanking is die begin van nuwe aanspreeklikheid binne Eskom aangesien die raad die afgelope tyd vreemde besluite geneem het. “Een groot kopseer bly Molefe se moontlike heraanstelling en sy pensioenfondsbetaling,” het Reyneke gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Scalla ·

Vervang ook vir Brown, sy weet nie wat in haar afdeling aan gaan nie, stel mense aan wat die job kan doen asb. Wat het deword van die vrou wat na n paar dae dood in haar kantoor aangetref is, swak veiligheid in plek.

KP ·

Stem saam met hele raad wat moet bedank veral Anoj Singh want hy kan nog korrupte finansiele besluite neem.

Frik ·

Stem saam. Die hele raad is aandadig nie net die voorsitter nie. Wonder wie daar is agv die guptas. Die seekat se arms is oral. Vrot verrotting van binne

Ander Annie ·

Ek stem Scalla. Wil net vir NUM sê, julle moet julle stemme dik maak. ESKOM het bekwame mense nodig om te dien op die Raad. Nie “puppets on a string ” nie.

Johann Marx ·

Sies. Moenie so onregverdig wees nie. Hulle kan nie bedank voor almal miljoenêrs is nie? Party moet lank daar sit vir hulle R30 miljoen pensioentjie…

Manfred ·

Hou hulle maar daar tot die Inploffing. Daar is nie meer geregtigheid nie

Theresa B ·

Gee asseblief net vir ons iemand wat met ons land se geld en hulpbronne kan werk.

Antoinet ·

Vir die laaste twee jaar kan ek nie glo wat ek sien en hoor nie…Die myn se naam wat herhaaldelik opkom. Hoeveel mense het hul werk verloor agv vorseerde afbetalings. Na al die sogenaamde onderhandelinge …. Baie sterkte aan die mense wat by die kragstasies werk .

Alida ·

Gaan vra vir Zuma, Hy is veronderstel om werk te skep maar doen net die teenoorgestelde en wil kwansuis al die kragstasies wat steenkool gebruik toemaak. Weet daardie stortkop hoeveel gesinne word geraak daardeur. Die lorries wat deur Pretoria se strate gejaag het moet dwarsdeur die Uniegebou jaag miskien word hy dan wakker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.