Hele OBK-direksie bedank

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Die hele direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het laat Vrydag bedank.

Die direksie het Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydag in ʼn brief versoek om hulle van hul pligte te onthef. Die brief is deur al die direkteure, Mondli Gungubele, voorsitter en adjunkminister van finansies, dr. Xolani Mkhwanazi (adjunkvoorsitter), Trueman Goba, Pitsi Moloto, Mathukana Mokoka, Dudu Hlatshwayo, Sandra Beswick, Sibisisiwe Zulu en Lindiwe Toyi onderteken.

Die direksie het Vrydag vir ʼn geskeduleerde raadsvergadering bymekaargekom waarna ʼn in camera-sessie plaasgevind het en daar ʼn gesprek was oor onlangse gebeure. In die brief voer die direksie aan dat gebeure van die afgelope tyd die OBK gedestabiliseer het en dat daar al verskeie bewerings teen minstens vier direkteure gemaak is.

Volgens die direksie is daar ooglopende ʼn georkestreerde veldtog om die direksie te diskrediteer. “Ons kan nie anders as om dit te sien as ʼn poging om die organisasie lam te lê nie. Hierdie gebeure was vir ons as individue ondraaglik en het sonder twyfel ʼn negatiewe impak op ons professionele integriteit gehad.”

Die direksie het aangedui dat hulle sal aanbly tot Mboweni ‘n nuwe direksie aangewys het. Die direksie se bedanking kom nadat Gungubele die week by bewerings van korrupsie betrek is.

“Ek het kennis geneem van die besluit deur my mederaadslede om ondersoek in te stel na die bewerings teen my wat in ʼn e-pos vervat is en die week deur ʼn ‘fluitjieblaser’ versprei is,” het Gungubele gesê.

Die OBK het Woensdag aangekondig dat hy ondersoek instel na twee nie-uitvoerende direkteure weens bewerings van onbehoorlikheid teen hulle.

Die OBK het in ʼn verklaring gesê sy direkteure het Dinsdagaand ʼn spesiale raadsvergadering gehou nadat ʼn e-pos van ʼn beweerde oopvlekker ontvang is met bewerings van onbehoorlikheid. Die e-pos betrek twee nie-uitvoerende direkteure en Matshepo More, waarnemende uitvoerende hoof.

Business Report het Woensdag berig die ander nie-uitvoerende direkteur, Sibusiswe Zulu, het glo transaksies van ongeveer R6 miljard goedgekeur vir Lawrence Mulaudzi by wie sy romanties betrokke was.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 1 Oktober verlede jaar aangekondig dat hy ʼn kommissie van ondersoek aangestel het om die OBK te ondersoek. Hy het die kommissie ses maande gegun om sy ondersoek af te handel.

Die OBK, Afrika se grootste batebestuurder wat staatspensioen- en ander fondse van amper R2 biljoen (trillion) bestuur, loop geruime tyd deur onder aantygings van ongerymdhede teen sy direkteure met betrekking tot sommige beleggingsbesluite.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Stoffel ·

Benoude katte klou soos neete aan hul poste in die parlement.

Frikkie Geld en huis ·

Tyd vir ‘n nuwe direksie. Waar kan ek my naam ingooi ???

Stoffel ·

As jy geld en huis het kan ek jou my tjekrekening nommer gee.

Grassie ·

Dik gevreet – laat spaander. Tyd vir ander om te kom skep.

Lize Bester ·

Alles goed en wel, volgens hulle is die probleem opgelos….dink hulle ons is dom? Net ‘n regstelling, daar is nie ‘n Afrikaanse woord soos biljoen nie, dis miljard. Billion is Engels, biljoen is nie eers ‘n anglisisme nie- dit bestaan nie

Gideon ·

N biljoen ( afr) is n “trillion”( eng ) = 1 000 000 000 000 en as jy die eng. wil skryf moet dit nie in hakkies sit nie gebruik die “trillion” .

Pieter Rossouw ·

@LizeBester en @Gideon:
Maroela se gebruik van die woorde biljoen (trillion) is 100% in die kol. “Trillion” vir 1000 miljard (let wel) is NIE (Brits-)Engels nie maar AMERIKAANS. Afrikaans en Brits-Engels vir duisendmiljard is biljoen (“billion”). (Dit geld bv. selfs ook vir Hollands, al weet baie Nederlanders dit self ook nie meer nie.)
As jy verwarring wil voorkom, praat dan liewer van “duisendmiljard”. (Ek het aan Tukkies gestudeer toe dit nog ‘n Afrikaanse universiteit van wêreldformaat was.)

B R ·

Laat die volk weet KARAN BEEF is oorgeneem deur OBK. Mense moet dit weet.

Jan pierewiet ·

Dankie julle. Dis werklik die regte ding om te doen. Hoera hoera hoera
1. Begin deur te bedank.
2 Staan die owerhede by om ondersoek en vervolging in te stel.
3. Gee terug die geld en Vat jou pak as hy kom.
JULLE IS ‘n VOORBEELD VIR DIE NASIE.
Kom ons nooit almal geimpliseer om dieselfde te doen . So sal ons die stelsel suiwer van ongeregtigheide

TLC ·

????????
En die maan is van kaas gemaak
You can run but you can’t hide

Johan ·

Ek het op n ander thread gese die ondersoek by PIC gaan Bosasa en Gupta’s na n vondsinsamelings projek laat lyk….Dis maklik,die blue chip beleggings is 30,40 Jaar terug gedoen in Sanlam,die 5 Groot banke, Sasol, Naspers,en,en…..daai gee goeie opbrengste van miljarde en verdoesel die korupte,slegte beleggings in comrades se rak gestigte mpye.Elke Jaar wys die fonds Groot wins….Al wat almal wil hoor….Glo my,dis n katnes wat ons Na ons asems gaan laat snak….

Uiltjie ·

Even a blind man can see something, somewhere is wrong… Sou hulle bedank het as daar nie kommissies was nie?

Danie van Zyl ·

En die soustrein stoom voort met nog `n kommissie van ondersoek.Die kommissies word goed uit belasting geld betaal. Dis kaklik om julle eie mense te mislei. Dis hoekom die wittes gehaat word, omdat hulle deur julle verneukspul sien en nie daarmee saamspeel nie.

Gert van Wierdapark ·

Stem “1 triljoen” persent saam met Johan oor die YSBERG onder die water by OBK. Die selfverryking en plundering kry net nie einde nie. Nkandla en al die ander “goedjies” was afleidings-meganismes. Dis hoog tyd dat amptenare en politici besef n miljoen en n miljard is nie dieselfde nie!

Doring Rosie ·

Hoekom is die anc so slaprug om van oortreders ontslae te raak? Hulle wors net geskors en elders herontplooi. Hulle het die min van finansie GEVRA (i ask you) om hulle van hulle pligte te onthef! So al asof hulle verwag het hy gaan weier en hulle aanhou.

Stoffel ·

Pragtig! “hulle wors net geskors en elders herontplooi”.

Ek sal tog dié ene onthou as ek vanaand braai.

Domeritus Danie Malan ·

GROOT ASSEBLIEF!
Kan skrywers nie asb hulle kommentare en tikkerasies self korrigeer VOORDAT die STUUR sleutel aangeraak of getik word nie? Buitendien is dit darem seker standaard-praktyk dat die keurder(s) en/of redigeerder(s) EERS alle pennevrugte deurlees en suiwer van tik- en taalfoute voordat dit ter perse gaan, dan nie? In sommige van die kommentare kom nie net skreeusnaakse belaglikhede voor nie, maar ook uitdrukkings wat in geen ordentlike woordeboek of publikasie ooit geduld sal word nie!

Jeremia ·

Ai, die baie handjies is die baie ‘kasregisters’!
Die versoekings het oral rondgelê in die ou SA wat geërf is.
Noe maar op. Moenie Transnet (of is dit Spoorloos) se pensioenfons vergeet nie.
Die hele inventaris van plekke wat onderdeur is weens wanbestuur en korrupsie is te veel om op te noem.
Afrika-siektes sonder enige teenmiddels.

Tannie ·

JA, hulle steek BAIE…000 000 000 000…GELD weg ! Ek soek n hond wat geld kan uitruik, ek sal skatryk word.

Robert ·

Hulle is almal waarskynlik betrokke met diefstal en bedrog skandale en weet dat hulle name vorentoe geopenbaar gaan word. Mens kan hardloop maar jy kannie wegkruip nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.