‘Hele Oos-Kaap-kabinet skuldig aan Mandela-begrafnisskandaal’

Die openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane se verslag oor oudpres. Nelson Mandela se begrafnis (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die Demokratiese Alliansie in die Oos-Kaap het die hele provinsiale kabinet, veral die voormalige premier Phumulo Masaulle, beskuldig vir die skandaal van die verslag oor oudpres. Nelson Mandela se begrafnis.

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het vroeër vandeesmaand ʼn verslag vrygestel waarin sy bevind het dat daar grootskaalse wanadministrasie ter waarde van R300 miljoen plaasgevind het deur die Oos-Kaapse provinsiale regering toe Mandela se begrafnis in 2013 gefinansier is.

Masaulle was in daardie stadium die LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling.

DA-LP Bobby Stevenson het Woensdag in ʼn verklaring gesê die onreëlmatighede het plaasgevind toe Masaulle aan bewind was en hy moet ten volle aanspreeklik gehou word. Hy het gesê alhoewel die ANC-geleide Oos-Kaapse provinsiale regering binne regte was om ʼn regsmening in te win oor die openbare beskermer se Mandela-begrafnisverslag, moet die provinsiale regering fokus op die stappe wat gedoen gaan word wat betref die kwessies wat in die verslag aangeroer is.

“Alhoewel alle vingers wys na die direkteur-generaal van die Oos-Kaap, Marion Mbina-Mthembu, wat betref haar rol in die skandaal, kan dit nie die rol van die provinsiale kabinet en veral die huidige premier en voormalige LUR vir finansies, Phumulo Masualle, ontken nie.”

Refiloe Nt’sekhe, nasionale woordvoerder van die DA, het Maandag ʼn verklaring by die Suid-Afrikaanse Polisiediens afgelê en die openbare beskermer se verslag ingehandig om bykomende klagte te voeg by die ondersoek van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Stevenson het gesê toe die DA vroeër in 2014 Masualle se rol in die skandaal by die provinsiale wetgewer aangeval het, het die ANC hom beskerm. “Athol Trollip, voormalige DA-leier in die wetgewer, is vir 30 dae geskors uit die wetgewer. Die DA is hof toe en die besluit is met ʼn skikking omgekeer.”

Stevenson het vroeër vandeesweek gesê hy het vrae by die wetgewer ingedien om antwoorde te kry oor wat die provinsiale wetgewer sedert 2014 gedoen het met die persone wat verantwoordelik was vir die onreëlmatighede.

Stevenson het ook ʼn skrywe gerig aan die speaker van die wetgewer Noxolo Kiviet, en versoek dat die openbare beskermer se verslag, wat na haar verwys is, na die staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa) verwys moet word sodat hulle dit verder kan hanteer.

“Die DA is van mening dat die politici wat betrokke was by die skandaal, aanspreeklik gehou moet word. Die DG kan nie alleen die sondebok wees nie. Die verslag is nie net ʼn akte van beskuldiging teen haar nie, maar die hele provinsiale kabinet wat op 6 Desember 2013 die besluit geneem het om die finansieringsmodel van die begrafnis goed te keur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adrian ·

Skande hul beroof dat hul ikoon se laaste rusplek sies man jul maak my naar

Hanna ·

Laat my aan n klomp aasvoels dink. Maar nou ja, die een se dood is seker die ander se brood (of dik beursie)?!

Rudie Thirion ·

My wêreld, ek dog die heeltyd die afkorting vir die staande komitee oor openbare rekeninge is SKOOR in Afrikaans.

Bruno Stef ·

Die ou ou storie gaan weer gebruik word ons is skuldig die hele organisasie maar ons aanvaar gesamentlik of kollektief verantwoordelikheid daarvoor.

Bertha ·

Vir R300m hoop ek Madiba is in ‘n goudgevulde graf en goue kis begrawe. En dalk in goud gebalsem ook.

Johann Marx ·

VIER JAAR??? Wat vat VIER JAAR om ‘n verslag vry te stel? Gee vir my R300 miljoen vir VIER JAAR, dan vra ek om verskoning en gee dit terug……..en leef op die rente van my R300 miljoen vaste deposito van vier jaar!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.