Helen Joseph se psigiatriese sale ná ses jaar nie voltooi

Die Helen Joseph-hospitaal in Auckland Park in die weste van Johannesburg het eers as die J.G. Strijdom-hospitaal bekendgestaan. Foto: Facebook

Die psigiatriese sale in die Helen Joseph-hospitaal moes reeds langer as vier jaar gelede voltooi gewees het.

Dit het daartoe gelei dat net 20 psigiatriese beddens in dié Johannesburgse hospitaal beskikbaar is, pleks van 40.

Jack Bloom, die DA se Gautengse woordvoerder oor gesondheid, sê die provinsie se LUR vir gesondheid, Gwen Ramokgopa, het in ʼn geskrewe antwoord op sy vraag in die provinsiale wetgewer erken dié vertraging is ʼn bekommernis.

Die departementshoof het opdrag gekry om toe te sien dat die projek voltooi word binne die huidige boekjaar, wat einde Maart 2019 eindig, berig African News Agency.

“Opknappingswerk aan die twee psigiatriese sale het in November 2014 begin en was veronderstel om teen Augustus 2016 afgehandel te wees,” sê Bloom.

Theo Nkonki, woordvoerder van Gauteng se departement van infrastruktuurontwikkeling, sê egter die oorspronklike bouaannemer is in Oktober 2012 aangestel met die opdrag om die projek teen 4 Maart 2014 te voltooi. “Maar dié kontrakteur [se kontrak] is in Oktober 2016 beëindig weens … stadige vordering en vertragings.”

Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid (Foto: Brenda Masilela, ANA)

Die vorige LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, het in Julie 2016 in die wetgewer gesê die rede vir die vertraging was die laat betaling van een die subkontrakteurs. Destyds was daar net 28 bruikbare beddens in die twee sale vir die hospitaal se geskatte 800 psigiatriese pasiënte per jaar, het die gemeenskapskoerant Urban berig.

Bloom het toe reeds oor die vertraging gekla, want die sale was veronderstel om albei binne 18 maande voltooi te gewees het. Volgens hom moet die departement se finansiële en projekbestuursvaardighede drasties verbeter.

Die gewese LUR het destyds die versekering gegee dat al die betalings gedoen was en dat nuwe subkontrakteurs aangestel en op die perseel was.

ʼn Lewensbelangrike projek word weer eens vertraag weens swak projekbestuur en heel moontlik korrupsie.

’n Lewensbelangrike projek word weer eens vertraag weens swak projekbestuur en heel moontlik korrupsie,” het Bloom Maandag gesê. “Dit ontstel my dat geestesgesondheidspasiënte in Gauteng steeds so sleg behandel word, selfs ná die Life Esidimeni-tragedie.”

Nagenoeg 143 mense het weens honger en verwaarlosing in psigiatriese instellings in Gauteng gesterf nadat die staat hulle na die private gesondheidsorgvoorsiener Life Esidimeni geskuif het.

Nkonki sê nadat die projek hersien is, is tenders opnuut aangevra in Junie 2017, langer as vyf jaar vandat dit begin het en drie jaar en drie maande nadat dit voltooi moes gewees het. “ʼn Voltooiingskontrakteur is in Oktober 2017 aangestel,” sê Nkonki.

“Nadat alle administratiewe vereistes afgehandel is, is die perseel op 22 Januarie aan die kontrakteur oorhandig en die werk was veronderstel om in September klaar te wees (ʼn nege maande  lange kontrak), maar dit is steeds nie voltooi nie.”

Hy sê die nuwe bouaannemer het “kontantvloei”‑probleme ervaar wat tot stadige vordering gelei het. “Ook het sowat drie maande verlore gegaan weens gemeenskapsprotesoptrede of stakings.”

Nkonki sê die kontrakteur het sy werksmag vergroot en “nogal heelwat” materiaal aangekoop om die werkery te bespoedig. Die nuwe mikpunt is om die projek teen 31 Maart 2019 af te handel.

“Bouprojekte van die Gautengse gesondheidsdepartement word selde betyds en binne die begroting voltooi,” het Bloom twee jaar gelede gesê, “wat onnodige spanning vir personeel en pasiënte veroorsaak.”

Tydlyn van vertragings

Oktober 2012: Die eerste kontrakteur word aangestel.

4 Maart 2014: Die datum waarteen die projek voltooi moes word.

Oktober 2016: Die eerste kontrakteur se kontrak word beëindig.

Junie 2017: Nuwe tenders word aangevra.

Oktober 2017: ʼn Bouaannemer word aangestel om die projek te voltooi.

22 Januarie 2018: Die perseel word aan die nuwe kontrakteur oorhandig.

September 2018: Die nuwe kontrakteur verpas die sperdatum.

31 Maart 2019: Die nuwe voltooiingsdatum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marous ·

Eish … dis nie ons skuld nie , maar die geld is klaar gebetaal .

Gert van Wierdapark ·

Dit gebeur mos maar (gereeld) wanneer n tjonmie die tender kry en hy skielik in n bouer (brouer) ontpop. Die sogenaamde uitdagings waarmee heeltyd deur politici verwys word as Brouwerk plaasvind, is om van NAAR te word. Hulle voel VERE vir die mense op grondvlak (stemvee) asook die wat die noodsaaklike dienste nodig het. Skandalig verby!!!

TLC ·

Check this space
Oor 6 jaar word dieselfde berig weer herhaal

Melanie ·

Sowat 5 jaar gelede het ek my dienste (verniet) aangebied om die administrasie afdeling in orde te kry. Mnr Bloom het my verwys na ‘n sekere persoon by die hospitaal. Die persoon het my aanbod van die hand gewys.

Alida ·

Hoekom is julle geskok. Niks mag mos werk nie. Die ANC hou nie van voltooide suksesvolle projekte nie.

Manie ·

Die DA is verniet so self voldaan. Hulle vaar self maar nie beter as die ANC. Gaan kyk maar hoe is Pretoria besig om agter uittegaan onder hulle hande

Frikkie Geld en huis ·

Die DA in Pretoria het ‘n hopelose bankrot administrasie van die ANC oorgeneem. Ek het ook nog nooit gelees dat enige van die ANC diewe suksesvol vervolg is nie, dus betaal die paar belastingbetalers maar om die stelsel weer op dreef te kry.

Alida ·

Pretoria moes eers die geldsake uitsorteer. Mens kan niks doen sonder geld nie.

Sarel ·

Intussen is of word niemand nog vervolg ir die Esidimeni fiasko nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.