Helen Zille: Die stryd duur voort

Helen Zille tydens die verkiesingsveldtog in 2009, die jaar wat sy op 6 Mei premier van die Wes-Kaap geword het. Sy is twee jaar tevore, ook op 6 Mei, verkies tot DA-leier (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille tydens die verkiesingsveldtog in 2009, die jaar wat sy op 6 Mei premier van die Wes-Kaap geword het. Sy is twee jaar tevore, ook op 6 Mei, verkies tot DA-leier (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”


Deur Suné van Heerden

“Is daar iets soos ’n eerlike politikus?” wonder ek, terwyl ek Helen Zille se outobiografie, Not without a fight, lees. Deurgaans in die boek voel dit vir my of daar om elke hoek en draai iemand in ʼn hoë pos is wat vir sy eie selfsugtige gewin daar beland het.

“Ek gaan die waarheid vertel, ek gaan nie doekies omdraai nie,” het Zille aan Penguin Random House, die uitgewers van haar outobiografie, gesê toe hulle haar in 2015 genader het om die boek te skryf. “My idee was om eers die boek aan te pak wanneer ek in 2019 uittree as premier van die Wes-Kaap, maar hulle het daarop aangedring dat die tyd ryp is om die boek te skryf. Ek het deeglik besef dit gaan moeilik wees, want ek werk nog saam met van die mense.”

Ek kuier die Donderdagoggend by haar in die kantoor. Dis ’n gemaklike gesprek, ons sit in ’n groot sitkamer op banke, soos ou vriende en kuier. Haar kantoorpersoneel is vriendelik, elkeen kom stel hulself voor, en elkeen ken my naam.

Ek het voorberei om die onderhoud in Engels met haar te voer, maar sy dring daarop aan dat ons in Afrikaans moet gesels – en sy gesels in ʼn gemaklike, idiomatiese Afrikaans.

“Is daar nog iets soos ʼn eerlike politikus?” stel ek my vraag aan Zille.

“Daar is baie van ons,” antwoord sy, maar bevestig die politiek is definitief nie vir iemand wat naïef is nie. “Ek verwag altyd dat mense eerbaar gaan wees, dis hoe ek grootgemaak is.”

Helen Zille as 'n joernalis by die Rand Daily Mail (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille as ‘n joernalis by die Rand Daily Mail (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”

Toetrede tot die politiek

Zille se outobiografie begin met ʼn aangrypende familiegeskiedenis – van haar ouma wat uit Nazi-Duitsland kon ontsnap tot familielede in die buiteland wat sy nooit eers van geweet het nie.

Toe Tony Leon, leier van die Demokratiese Party, Zille in 1998 genader het om die politiek te betree, vir ʼn moontlikheid om ʼn setel in die provinsiale wetgewer te beklee, was Zille se ma sterk daarteen gekant en het vir haar dogter gesê: “Jy is gans te sensitief om in die politiek te wees.” “Nie meer nie,” het Zille geantwoord.

Dié outobiografie is nie ’n “maklike lees” nie. Jy moet konsentreer en fokus – bloot omdat dit so volgepak is met feite, dis duidelik Zille was ’n joernalis. Die boek is insiggewend, sy speel oop kaarte, en sy kan alles wat sy skryf, met bewyse staaf.

Politici probeer graag hul eie beuel blaas in só outobiografie, maar Zille is eerlik oor haarself en die pad wat sy geloop het. Sy deel persoonlike staaltjies, met ʼn goeie skeut humor en skroom nie om die sluier te lig oor dit wat agter die skerms aangaan nie.

Sy vertel van die opdraande stryd toe sy aanvanklik in die DA begin opgang maak het. Dis duidelik dat Tony Leon destyds bedreig gevoel het deur dié dinamiese vrou. “Ons het koppe gestamp, en nie altyd oor goed saamgestem nie en hy het my teengestaan as leier van die party.” Maar in die boek is dit duidelik hoe die verhouding verbeter het. “Ek eer hom vir die deurbrake wat hy gemaak het vir die party. Hy was ’n goeie leier.”

Helen Zille ontvang in 2008 die Wêreld Burgemeester-toekenning, twee jaar nadat sy burgemeester van Kaapstad geword het (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille ontvang in 2008 die Wêreld Burgemeester-toekenning, twee jaar nadat sy burgemeester van Kaapstad geword het (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”

Nie sonder ’n stryd nie

Zille skerts in die boek oor die titels wat Twitter-gebruikers voorgestel het, waaronder To Helen Back, Twar and Peace, From Godzille to Vuvuzille en Zille: No Vanilla. Maar dit was haar man, Johann Maree, wat met die boek se titel vorendag gekom het. Een aand, tydens ʼn televisieprogram, Borgen, het een van die karakters aan ʼn vroue politikus gesê: “Dis nie tipies van jou om sonder ʼn stryd op te gee nie.” Johann het na sy vrou gedraai en gesê: “Dis iets wat ek van jou ook sou kon sê. Ek dink die titel van jou boek moet wees – Not Without a Fight (Nie sonder ʼn stryd nie).”

En dis baie duidelik dat Zille hard moes baklei en nog harder moes werk en soms haar eie lewe op die spel moes plaas om dit te behaal wat sy uiteindelik reggekry het.

Sy verduidelik aangrypend in die boek hoe sy en die eerste DA-ondersteuners in die Wes-Kaap aanvanklik deurgeloop het onder dreigemente van ander partye en hoe die kiesers soms ná vals bewerings in die tronk gegooi is of daar gedreig is dat hul huise afgebrand sou word.

Sy skryf hoe sy in die aande met haar klein Opel in Khayelitsha en Langa moes inry om die DA-ondersteuners by te staan, omdat die polisie nie wou ingryp nie. Volgens die polisiebeamptes was dit die DA wat “soek vir moeilikheid”, omdat hulle in ʼn ANC-gebied ʼn ander party wou ondersteun. Dit was die ANC se doel om die kiesers só te viktimiseer totdat hulle uiteindelik moed opgee, en terugkeer na die ANC.

Dis moeilik om te dink, in die lig van die DA se wegholsukses tydens die plaaslikeregeringsverkiesing in 2016, dat die party in 2001 slegs 300 lede in die Langa-tak gehad het. Dit was deurgaans ʼn opdraande stryd in die N2-kiesafdeling.

***

“Hoe het jy kans gesien om dit te doen? Wat was jou motivering?” wil ek by haar weet.

“Dit was my werk,” antwoord sy half nonchalant. “Dit was my werk om takke te stig in die Wes-Kaap, en ek het dit gedoen wat dit ook al geverg het om te doen.”

Ek skud my kop in ongeloof. “Baie mense sou omgedraai het, nie kans gesien het nie.”

“Ek het ʼn pligsbesef gehad,” sê sy. “En as jou lede gedreig word, moet jy as kiesafdelingshoof daar wees om hulle te beskerm.”

Beste en slegste besluite

Zille het byna in 1981 die land permanent verlaat toe Matt Franjola, ʼn verslaggewer van Associated Press, haar gevra het om te trou en saam met hom na Amerika te verhuis. “As ek nou terugkyk, was dit die beste besluit van my lewe om nie na Amerika toe te gaan nie. Ek het in daardie stadium geweet dis ʼn lewensveranderende besluit, maar glad nie besef hoe ingrypend my lewe daarna sou verander nie.”

Sy verduidelik ook omvattend in die boek die lang verloop van hoe Zille en Patricia de Lille besluit het om Mamphela Ramphele, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, by die politiek te probeer betrek. Zille en Ramphele het ʼn lang pad saam gestap. Hul kinders was saam in die UK-kleuterskool en Zille het in ʼn stadium vir Ramphele by die UK gewerk. Dan volg die opkoms van Ramphele se Agang en die rampspoedige gevolge van ʼn politieke verhouding toe die DA Ramphele as hul presidensiële kandidaat wou bekend maak. “As ons nou terugkyk, stem ons almal saam dit was ʼn fout, miskien my grootste fout ooit as DA-leier, en ek neem volle verantwoordelikheid daarvoor.”

Hartsake

Uit haar vertelling is dit baie duidelik Zille is ʼn werkoholis. Sy het soms 03:00 in die oggend opgestaan om met haar dagtaak te begin en het laataand nog in die bed sit en werk – veral toe sy leier van die DA en premier van die Wes-Kaap was.

“Mens voel altyd skuldig oor jou gesin wat jy afgeskeep het, maar ek het vandag ʼn baie goeie verhouding met my twee seuns, hulle neem my nie kwalik nie,” vertel sy van haar twee seuns, Paul (32) en Thomas (27). “Hulle is twee ongelooflike jong mans. My huwelik en my familie is bankvas. Al is ek spyt oor goed, het dit ons eerder sterker gemaak, dit het nie letsels gelaat nie. Hulle weet ek het altyd my bes gedoen.” Zille besing ook die lof van haar skoondogter, Gretl.

Hoe ontspan ʼn werkoholis? “Tyd saam met my seuns. Selfs toe hulle klein was, om met hulle tyd te kon spandeer op pad skool toe en terug. Of in die tyd wat ek 03:00 in die oggend opgestaan het om werk toe te gaan, en my seun dan eers by die huis gekom het nadat hy musiek gemaak het iewers. Dan skink ek ʼn koppie tee, en hy kry iets om te eet en ons gesels net eers. Dit is die maaltye saam met die gesin, die onverwagse oomblikke waar mens heeltemal ontspan.”

Ufundo en #FeesMustFall

Zille verwys in die boek na ʼn projek wat reeds in 1994, nog lank voor #FeesMustFall ʼn hutsmerk op Twitter en ʼn kreet op kampusse geword het, om studente te help om hul finansiële probleme te oorkom. Thandeka Kunene was in daardie stadium primaria van die UK-koshuis, Liesbeeck Gardens, met 800 studente. Kunene het een Maandagoggend, terwyl sy deur die koshuis geloop het, gesien hoe skoonmakers al die leë bierblikkies en -botteltjies verwyder. Sy het hulle gehelp om een groot stapel te maak, om te bepaal presies hoeveel alkohol oor ʼn naweek verbruik word. Binne een enkele naweek het studente van Liesbeeck Gardens minstens R330 000 se alkohol verbruik.

Dit was vir Kunene teenstrydig met die studente se klagte dat hulle ʼn tekort het aan geld vir studies, maar steeds dié bedrae geld oor ʼn naweek kon uitdrink. Sy het direk alkohol by die verskaffers begin aanskaf en ʼn studente-onderneming, genaamd Ufundo, op die been gebring en die wins aangewend vir finansiële hulp aan studente. Ufundo was vinnig die grootste studente-organisasie op die kampus, en het studente van al die verskillende politieke faksies bymekaargebring.

Die studentegeldtekort was in daardie jaar R3 miljoen, en danksy Ufundo wat binne die eerste jaar R1 miljoen kon insamel, kon die universiteit die balans dek en daar was geen finansiële uitsluitings nie.

Ek verwys in die onderhoud na Ufundo en vra Zille of sy reken só iets sou weer kon werk. “Dit moet uit die boesem van die mense self kom. Thandeka was só ʼn groot gees omdat sy die oplossing gesien het. ʼn Mens het iemand nodig wat só ʼn eerlike insig het om so iets te doen. ʼn Leier wat die mag het om die mense agter haar te skaar.”

Mmusi Maimane en Helen Zille neem 'n blaaskans in 'n motor tydens die 2014 nasionale verkiesing. "Ek was moontlik besig om iets op Twitter te skryf," verduidelik Zille. Mmusi was die premierskandidaat vir Gauteng (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not without a Fight"

Mmusi Maimane en Helen Zille neem ‘n blaaskans in ‘n motor tydens die 2014 nasionale verkiesing. “Ek was moontlik besig om iets op Twitter te skryf,” verduidelik Zille. Mmusi was die premierskandidaat vir Gauteng (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not without a Fight”

Die struggle vir ekonomiese vryheid

Dan vra ek haar oor EFF en Julius Malema. “Ek wens eintlik dat die EFF iewers ʼn munisipaliteit kon wen,” verduidelik sy. “Ek sou baie jammer voel vir daardie stad en munisipaliteit, maar dit sal die mense help om te kan sien of hulle by die beloftes kan hou wat hulle gemaak het. Die vraag is of dit die DA se resep of die EFF se resep is wat die deurbraak gaan maak.

“Ons moet die alternatief wys, veral waar die DA aan bewind is, dat ons die beste toekoms kan bied vir almal wat die ekonomie, werksgeleenthede en onderwys betref – ons resep is die beste. As ons dít kan bewys, dan kan ons bewys een stel beginsels en vordering werk, en ʼn ander een nie.”

In die boek verwys sy na Francis Fukuyama wat gesê het enige suksesvolle samelewing moet gebou word op drie bene, naamlik ʼn bekwame staat, ʼn werkende regstelsel en ʼn kultuur van aanspreeklikheid, insluitend ʼn aanspreeklike regering.

Zille verklap aan my dat haar volgende boek waarskynlik sal handel oor hoe moeilik dit is om ʼn bekwame staat op te bou. “Dis nie net blokkies op ʼn papier wat sê wie doen wat nie.”

Dan wil ek weet wat dink sy is die toekoms van die DA, nou ná die munisipale verkiesing in Augustus 2016. Volgens haar het die DA in Pretoria en Johannesburg selfs ʼn moeiliker stryd as wat die party gehad het om die DA in die Wes-Kaap te bou. “Die DA in die Wes-Kaap het beslis die weg gebaan, maar verdere vordering vir die DA gaan afhang hoe die party presteer,” verduidelik sy. “Dis maar soos ʼn joernalis – jy is net so goed soos jou vorige artikel. Dit is veral moeilik in plekke waar die party ʼn minderheidsregering het; besluite hang van ons opponente af. As mens nou ʼn gemors daarvan gaan maak, gaan dit met die volgende verkiesing baie moeiliker wees.”

Die stryd duur voort

Dis duidelik in my gesprek met Zille dat daar nog baie veggees in haar is, dat sy nog lank nie klaar is met haar plig nie.

“Wat wil jy hê moet op jou grafsteen staan?” vra ek. Sy dink lank na. “Ek het die beste gedoen wat ek kon, onder die omstandighede.”

Ons stap ná die gesprek uit in ʼn groot gang, ek is gretig om ʼn foto saam met haar te neem – ek wil darem dié gesprek verewig. Sy vra sommer een van die veiligheidswagte om vir ons die foto te neem; sy ken al die personeel op die naam. En dan stap sy saam met my tot by die hysbak, en gesels nog lekker, al weet ek haar skedule is baie beperk.

En toe die deur voor my toegaan, besef ek Zille is nog lank nie klaar nie, en 2019 is definitief nie die laaste wat ons van haar gaan sien of hoor nie.

***

Helen Zille se outobiografie, "Not Without a Fight", uitgegee deur Penguin Random House

Helen Zille se outobiografie, “Not Without a Fight”, uitgegee deur Penguin Random House

Ek beveel hierdie boek ten sterkste aan: vir die persone wat onbewus is van die mespunt waarop Suid-Afrika gestaan het in die laat 1980’s, vroeë 1990’s; vir die persone wat onseker is waarom iemand soos Helen Zille meer as 1 miljoen Twitter-volgelinge het; vir die persoon wat meer wil weet wat agter die skerms aangaan: hoe Zuma haar die aand voor haar eerste premiersvergadering by sy huis, gekontak en op haar gemak gestel het; vir enigiemand wat meer wil weet oor die intriges van Suid-Afrika se politiek die afgelope paar jaar; en hoe sy ʼn hele provinsie se werksverrigting en dienslewering omgekeer het.

Of jy nou ʼn aanhanger van Helen Zille of haar politieke oortuigings is of nie, jy kan nie haar waagmoed, durf of die weg wat sy gebaan het, ontken nie. Lees die boek en reageer daarop – die kans is goed dat jy ʼn eerlike antwoord gaan kry van ʼn eerlike politikus.

Not without a Fight word uitgegee deur Penguin Random House. Koop die boek nou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

E.K. - ek sê net! ·

Formidabele vrou wat ook net ‘n gewone mens met foute is – en groot genoeg is om dit te erken! Sy praat goeie Afrikaans en is bang vir niemand – ‘n regte vegter!

Ferdi ·

Met haar optrede in die praktyk, weerspreek sy haarself. Sy het mense, sonder rede, met disrespek behandel op uiters arrogante wyse en toe geweier om verskoning te vra. Sy projekteer eerder haar klaaglike onvermoë op Zuma terwyl sy self faal in soortgelyke dinge. Eerlike politici? Dink twee keer!

Jakes ·

Probleem is julle foute kos ONS nou nie net geld nie, maar ook die chaos wat in die land tans heers. Oral by Munisipaliteite en ander instansies, omdat JULLE foute gemaak het en goedsmoeds geglo het alles wat aan julle opgedis is deur die ANC, daardie storie van die reenboognasie en saamwerk en almal se belange gaan beskerm word … Daardie stories wat oom Roelfie en oom FW ook geglo het, dat daar ‘n plek vir wittes in SA gaan wees. Grootste leuen ooit.

Marietjie ·

Sjoe, het jy die artikel gelees? Het jy gesien wat sy beskou as haar grootste fout? Dit het die belastingbetaler niks gekos nie en ook nie bygedra tot die chaos in die land nie.

Rian ·

“Is daar iets soos ‘n eerlike politikus?”, laat my daaraan dink dat dit eens op ‘n tyd so koud was dat ek selfs ‘n politikus met sy hande in sy eie sakke gesien het.

lw ·

Dis n jammerte dat sy nie in 6 mense gekloon kan word nie – sy is n fantastiese vrou wat die byna onmoontlike vermag het. Ons kort meer van haar soort.

Landi Slatter ·

Dagsê Pieter

Jammer, die verslaggewer se naam verskyn nou bo-aan die artikel. Dit is Suné van Heerden.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

peanut ·

Ai mense, ons is so geneig om te kritiseer, maar wie van ons is bereid om die pak te vat wat kom met daadwerklik aksie neem in die politiek. Almal kan maklik hul monde uitspoel, maar wie is bereid om haar beker van gal wat sy daagliks moet sluk, te deel, NIEMAND, dis net blahblahblah.
Ek dink haar streek het nou al onteenseglik bewys die DA is op die regte pad. Ja, daar is probleme, ja, daar is nog goed wat nie reg is nie en wat kan verbeter; maar is daar ENIGE van die ander partye wat kan bewys dat hulle met hul beleide reg kon kry wat die DA, met die hulp van hul ondersteuners en inwoners, reggekry het.

Hou eerder op met kla, en loof daar waar dit hoort, en volg die positiewe en help saam werk aan n beter regering en toekoms.

Ek is nie in jul land nie, maar net oorkant die grens en dit is ontstellend om te sien hoe die land agteruitgaan, en daar is NIKS erger as wanneer goeie mense langs die kant sit en niks doen, terwyl n land tot niet gaan; dan dra jy net soveel skuld as die afbreker en geweldenaar

lw ·

Ditto! Kom ons ondersteun eerder die mense wat n werklike verskil maak sonder om te kritiseer. Politiek is n vuil beroep, ek glo al stort jy 7 keer per dag, sal jy nog steeds vuil voel. Maar iemand moet dit doen en wel iemand met ruggraat soos zille.

Peanutbutter ·

JA O jinne PEANUT KOM SIT JY LIEWER UIT ‘N ANDER LAND EN KOMMENTAAR LEWER hier op MM, baie veilige opsie!! Vreemd hoe mense uit ander lande altyd die POSITIEFSTE oor SA is, nou kom terug en kom NEEM HAAR PLEK in, De Lille se posisie is ook nou oop KOM wys ons ou klakouse in SA hoe iemand wat IN ‘n ANDER LAND SIT dit in SA sou doen !!Kom wys hoe jy dit BETER sou maak aangesien dit so verval het. EK DAAG JOU UIT!!

E.K. - ek sê net! ·

Peanut – die probleemmet die leunstoelkritici is hulle verwag wonderwerke oornag. Ek dink wat sy vermag het spreek boekdele en dis nie asof die Weskaap so groot is soos ‘n ertjie nie. Dis ook nie asof probleme net kleintjies was nie! Ek glo ook sy het gedoen wat sy kon met wat sy gehad het. Ek daag enigeen om te vermag wat sy in haar tyd gedoen het. En dit met teenkanting van die ANC op enige manier moontlik, bv opstokery, enige manie rom die provinsie onregeerbaar te probeer maak soos hul steeds wil doen in alle plekke waar DA regeer. Hier is kommentare hier wat net geen sin maak nie, maar daar is mos mense wat kritiseer ter wille van kritiseer, hulle is negatief, doen self niks, kla oor alles en kyk alle positiewe dinge mis.

vermeende ·

Bestaan daar n eerlike politikus?

de klrek en sy trawant was in 92 oneerlik met hulle beloftes vir n Ja stem.
Tony Leon het in sy tyd kliphart na die blanke stem gevry en Zille het weer in haar tyd die rug op blankes gekeer en het self regsteindeaksie bevorder, vergete was die “best man for the job”
COPE het ook na Zille na die blanke se stem gevry so as of die troef kaart gehou het en van sy beloftes het daar dadels van gekom.
Self die VF+ het sy politiek so gaan aanpas dat hy onerkenbaar is.

Ons kan nie eers ons eie ras en volk vertrou om na ons te luister en ons belange op die hande te dra nie, niemand doen vir die blanke wat hulle belowe nie. Hoe op aarde moet ons, ons vertroue nog in ander volke en rasse se beloftes plaas.
Deur die hele kleurspektrum in SA is daar nie n enkele eerlike politikus nie, almal soek Zuma se stoel.

Die maan is seker maar van kaas gemaak.

Cherokee ·

Keer op keer lees ek verskonings van mense wat ‘ja’ gestem het deur die skuld op oneerlike en valse beloftes te pak. Dit is net ‘n manier van hande was en dit werk nie om so verontskuldiging te soek nie want dan sal die ja-stemmers moet verduidelik hoe hulle nie kon raaksien wat vir die lede van die HNP so duidelik soos daglig was. En wanneer dit aan hulle verduidelik is, was dit weggevee met die wig- en teenwigte-strokie (soos ‘n destydse Beeld-verslaggewer wie se naam ek net miskien hierbo raaksien) so graag aan my wou verduidelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.