Helfte van Bloem se water verlore

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Die damme in die Mangaung-metro is propvol, maar inwoners se krane droog gereeld op weens swak instandhouding van waterinfrastruktuur.

Van die sowat 218 megaliter (miljoen liter) water wat die metro se munisipale gebied daagliks gebruik, gaan 46% (sowat 100 megaliter) daagliks verlore weens lekkasies en gebrekkige infrastruktuur.

Dié syfer is onlangs deur die waarnemende stadsbestuurder, Mzingisi Nkungwana, aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) bekend gemaak, terwyl die metro tans deur die soveelste waterkrisis gaan.

Maroela Media het verlede week berig dat menige inwoner van onder meer Bloemfontein wéér vir dae lank sonder water moes klaarkom. Luidens plaaslike berigte was dit veral inwoners in die suidelike woonbuurte van dié stad wat deur die probleem geraak is.

Die jongste waterkrisis spruit glo uit ʼn ingewikkelde fout in Bloemwater se waterpypleiding, wat die water vanaf damme moet vervoer. Dit is egter deel van ʼn probleem wat al jare in dié metro voortduur. Maroela Media het reeds in 2019 berig dat sowat 13 miljard liter water weens die gebrek aan instandhouding verlore gaan.

“Ná die afgelope tyd se goeie reënval is al agt hierdie damme vol, maar loop inwoners se krane steeds gereeld droog omdat die infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou word nie en gaan die ekwivalent van 20 000 JoJo-tenks van 5 000 liter elk se gesuiwerde water boonop per dag verlore,” het Henry Denner, VF Plus-raadslid, Maandag in ’n verklaring gesê.

“Die mees onlangse watertekorte is juis weens onder meer gebarste pype veroorsaak en dien as bewys dat die waterinfrastruktuur van die metro nie behoorlik in stand gehou of opgegradeer word nie.”

Hy sê Bloemwater se opgehoopte skuld veroorsaak dikwels ook watertekorte in die metro.

Denner meen terwyl die ANC-regeerde munisipaliteit op binne-gevegte en verkeerde prioriteite fokus, word kerndienslewering soos instandhouding en deurlopende watervoorsiening aan inwoners agterweë gelaat.

“Suid-Afrika is ʼn waterskaars land, met voorspellings dat daar slegs tot en met 2025 in die huidige wateraanvraag voorsien sal kan word.

“Die nasionale departement van water en sanitasie het onlangs ʼn meesterplan vir die voorsiening van water en sanitasiedienste bekend gestel, maar geen sodanige plan sal slaag as munisipaliteite, soos die Mangaung-metro, nie op grondvlak gereeld basiese instandhouding en opgradering van waterinfrastruktuur doen nie.”

Die party sê daar is eerstens nie die nodige fondse vir instandhouding en opgradering nie en meen dat al was die fondse wel beskikbaar, die metro onder ʼn ernstige tekort aan kundigheid gebuk gaan om die nodige herstelwerk te doen.

“Die VF Plus het as deel van sy voorstelle vir die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ʼn behoorlike oudit van die waterinfrastruktuur aangevra, en stel voor dat kritieke opgraderings so gou as moontlik aan die stelsel gedoen word. Die party sal vereis dat sodanige voorstelle spoedig in werking gestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

krodedil ·

Almal weet dit maar niks word daaraan gedoen nie. Water bly ‘n probleem in Bloemfontein

domheks ·

Die kundigheid ontbreek – nie soseer die geld nie! As jy dom is – daar is nie pille beskikbaar nie.

Strandloper ·

Lekker lag ek nou….redelik bubbelsinnig…veral in jou geval…

Kokerboom ·

Die Mangaung sage gaan al vir jare aan en is lankal NIE meer snaaks!!Drastiese optrede is nodig om die gemors aan bewind van ontslae te raak

Papsak ·

Mense doen iets daar moet water wees vir mense baie onhigenies swak

Misky ·

Hoe kan hulle sê daar is nie fondse nie? Biljoene word aan erfbelasting en munisipale rekeninge betaal en word verkeerdelik aangewend.

En die kundiges is daar wel. Hulle sit werkloos by die huis en verkleur is verkeerd volgend BBEEE.

Robert ·

Nuutste is dat Bloem nou beurtwater gaan kry, my geyser se lement is juis maan toe van verlede week se tekort.

Samuel ·

Watter ANC beheerde munisipaliteit fungeer voldoende? Alles is ‘n gemors en dit is waar dat die kundigheid ontbreek om instandhouding te doen.

henndrik ·

Dit is tyd dat raadslede en die ANC in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word

Watsenaam ·

Dit het ook tyd geword dat die kiesers korps opgevoed raak. Hierdie swak regering styl is nie demokrasie nie, maar, blatante diefstal van die publiek se geld.

Mariana ·

Kyk ons almal besef dat die ANC niks onderhou nie. Die munisipaliteite is ANC beheerd. Hulle wag seker dat die inwoners self insping en die probleem oplos, soos met paaie se herstel. Tyd daar aanstellings gemaak word van mense wat wil werk en probleme tromp-op sal loop en herstel. Die verkeerde mense sit die stoele warm en die kundiges is afgedank weens hulle kleur.

Fanna ·

Kry gekwalifiseerde mense om die werk te doen en nie leke of boeties nie.

Sandra ·

Solank die huidige regering aan bewind is gaan niks verbeter nie. Ons poep teen donderweer.

SjN ·

Die bestaande verouderde infrastruktuur kan nie eers in stand gehou word nie, wat van verdere uitbreidings soos belowe aan kiesers.

Hibiscus ·

My dogter het in 2019 by Kovsies begin met haar studies (ons bly in die Limpopo provinsie). Ons het ‘n taamlike groot waterlek opgemerk op ‘n straathoek in Universitas naby die gastehuis waar ons oorgeslaap het. Nou, meer as drie jaar later, is daardie lek wraggies nog daar. En dan praat ek nie eers van die onverwyderde vullis, slaggate en afwesigheid van stoptekens en lyne in die strate nie, hoe op aarde kry julle daar bestuur? Ek hoop regtig daar gaan ‘n verbetering in dienste wees, maar nou ja, ons weet mos hoe dit gaan waar die ANC aan bewind is.

AH ·

Ek moes noodgedwonge 8 maande gelede vanaf Somerset-Wes na Bloemfontein verhuis. Dit was regtig ‘n groot skok om te sien wat oor is van die voorheen pragtige “Rosestad” ‘n Mens kan nie eens ‘n vergelyking tref tussen meeste dorpies en stede in die Weskaap en die ANC beheerde munisipaliteite nie! Dis baie hartseer, maar die werklikheid…….ANC kan niks opbou of instand hou nie; maar afbreek en afbrand is ‘n nasionale sport…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.