Helfte van polisielede in Oos-Kaap ‘onbevoeg’ om wapen te hê

(Foto: SA Polisie)

Die operasionele bedrywighede van polisielede in die Oos-Kaap word ernstig gestriem omdat minstens die helfte van hulle nog nie hul vuurwapenvaardigheidstoetse afgelê het nie.

Die LUR vir veiligheid in die provinsie, Weziwe Tikana, het in antwoord op ʼn vraag in die wetgewer gesê tot dusver het net 5 531 uit 13 688 polisielede, oftewel sowat 40%, hul jaarlikse vaardigheidstoetse afgelê.

In die 2018-’19-boekjaar het net 54% van polisielede dié toets afgelê.

“Dit beteken polisielede wat nie die toets afgelê het nie, is nie wetlik bevoeg om ʼn vuurwapen te dra nie,” het Bobby Stevenson, ʼn DA-lid van die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer, gesê.

“Dit plaas hardwerkende en toegewyde polisielede in ʼn baie moeilike posisie. Moet hulle ʼn vuurwapen teenstrydig met wetlike voorskrifte dra, of weerloos wees in die misdaadoorlogsone in dié provinsie?”

Stevenson sê Tikana het boonop ʼn misleidende antwoord verskaf in antwoord op ʼn vraag oor of daar genoeg ammunisie in die provinsie is. Tikana het gesê daar is genoeg ammunisie vir daaglikse gebruik, maar het versuim om te noem dat daar ʼn gebrek aan ammunisie vir opleidingsdoeleindes is.

Hy sê brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, word egter aangehaal dat hy sê daar is wél ʼn tekort aan ammunisie. Die probleem lê glo by die verskaffer, Denel.

“Die LUR moet verduidelik hoekom sy misleidende antwoorde verskaf het. Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Verlede jaar is verkeerde inligting oor verkragtingstoetsstelle verskaf.”

Stevenson het gesê Suid-Afrika het ʼn doeltreffende polisiediens nodig wat nie gepootjie word deur verkrygingsprobleme nie. “Ons benodig ʼn moderne polisiediens met stewels op die grond, kameras op pale en hommeltuie in die lug. Dié drie goed is onontbeerlik vir misdaadvoorkoming.”

Hy sê die polisie móét bevoeg wees om hul wapens te gebruik wanneer dit van hulle vereis word.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het intussen sy eie spertyd vir die verskaffing van verkragtingstoetsstelle aan álle polisiekantore landwyd nie nagekom nie. Die sperdatum was Maandag.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, het sy teleurstelling oor die situasie te kenne gegee en sê verskeie polisiestasies in die Wes-Kaap, Gauteng en Noord-Kaap sit steeds sonder enige van dié stelle, terwyl nagenoeg 114 verkragtingsake elke dag landwyd aangemeld word.

Pres. Cyril Ramaphosa het vantevore ook gesê hy gaan die verskaffing van die verkragtingstoetsstelle sélf dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michael P ·

Geen wonder die polisie hardloop weg vir die skurke nie LoL.

Net hulle? ·

Is dit nie maar die geval van die hele land nie? Hoeveel van hulle is “bekwaam”?

schaun ·

En ek glo 90% van Gauteng se klomp in blou,gee ons n tuisland sodat ons ons eie polisie mag kan opbou met dissipline en polisie kan kry wat hulle werk met integriteit kan doen nie dat daar baie te doen sal wees vir hulle in n onafhanklike tuisland nie behalwe die grense te beveilig.

K P ·

Daar kan nie verskillende wette wees vir mense in die land. As jy nie die sertifikaat het mag jy nie n wapen gebruik. Wat my meer bekommer is dit hulle heelwaarskynlik nie die toetse kan slaag vir die sertifikaat

Kabous ·

Wow, ek het my dood geskrik toe ek sien dat net die oos kaap 13 688 poliesie lede het. En ek het gedink met al die misdaad is daar net 100 poliesie lede in elke provinsie. Dis n wonderwerk as n mens n poliesie voertuig sien. Maar na ek nou die getal van die oos kaap weet………..stem ek saam, die poliesie mors net die belasting betaler se geld…….want alles wat sleg is word meer

Gert van Wierdapark ·

Hoop nie die ander 50% is met ‘n 30% “pass rate” ge-groenlug nie!

Poppie ·

Korreksie ….nie net in die Oos Kaap nie! Ek het familie in die Polisie en gaan hulle gereeld skiet om te kyk of hulle bevoegd is. Gewoonlik slaag net 1 of 2 en die res maak dit nie. Daar was onlangs ‘n geval waar ‘n dame nie eens geweet het hoe haar diens pistool werk nie!!

marous ·

Hoeveel van die polisie neem hul amptelike wapens huis toe ? Het hulle kluise wat geinspekteer is volgens wetgewing? Hoeveel jaar gaan hulle sit vir onwettigge besit en of versuim om vuurwapen veilig te bewaar? Regmatige eienaars word met tronkstraf gedreig en diegene wat die wet moet toepas kom weg daarmee ? Laat hoed dit dadelik antwoord , sonder ‘n kommissie of ‘n eeee daaroor .

Ruby ·

Dit is beslis nie net in die Oos-Kaap nie. Die Media kan gerus ondersoek instel in al die provinsies. Jul gaan baie kleurryke berigte kan skryf. Waar kry hul opleiding en hoe gereeld? Dit is vrae wat van kardinale belang is. In die Vrystaat en nêrens is daar behoorlike opleiding nie, want waar is die bane waarop hul opleiding kry? Hulle wil nie spandeer aan vuurwapenopleiding nie, want dan mis hul uit op jaareindfunksies en spanboue.

Sarel ·

Moet ‘n vereiste wees! Geskik wees om wapen te handteer.
Kan mos nie ‘n diepsee duiker word as jy aquafobies is nie. Sjoe!

Doris ·

Ek dink dit is tyd dat die jong manne en vroue wat in diens van die Polisie geneem word gesif word jy kan vandag enige een in die Mag neem nie en dan gee hulle die nodige opleiding en as hulle binne ses weke in die Kollege nie n vuurwapen kan hanteer nie en nie die vuurwapenvaardigheid toets slaag nie kan so n persoon mos nie in diens geneem word nie . Ek glo dit is hoekom so baie wapens van die Polisie net verlore raak,want hulle word met hulle eie wapens geskiet wat by hulle afgeneem word.

Koos de Meyer. ·

Dit help nie om ‘n vuurwapen te dra en jy het nie ammunisie. Hulle het nie eers amo vir jaarlikse skiet oefeninge vir 9 mill nie. En dit is nie ‘n leun nie.

Renee ·

Ag man hulle is almal. Onbevoeg regoor die land. Behalwe Natal daai Polisie is wakker. Go Natal you are the Best.

Michelle ·

Ek weet van ‘n hele paar polisie lede wat ‘n vuurwapen uitmekaar haal en nie weet hoe om hom weer aan mekaar te sit nie. Praat van onbevoeg dit is hoekom rowers ingenooi word by polisie stasies en sommer daar vuurwapens kollekteer. Dit is nou ons vuurwapens wat ons so vrywillig moet ingee, dan is daar lede wat met wapens uitgaan maar het nie vuurwapen lisensie nie. Die vuurwapen word by die huis vergeet of lê in ‘n handsak of ‘n kind vat hom skool toe. Wat het geword van inspeksies elke dag of boek jou vuurwapen in. Speelgoed in onkundig se hande. Dit is wat dit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.