Helfte van skooljaar verlore

Angie Motshekga, minister van onderwys (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Sowat 54% van die 2020-skooljaar het weens die Covid-19-pandemie verlore gegaan, terwyl die helfte van die 2021-skooljaar vir die meeste leerders ook reeds in die slag is.

Só het prof. Martin Gustafsson van die departement van onderwys Sondag tydens ’n mediakonferensie bekendgemaak. Gustafsson het ’n voorlegging gedoen oor die onderrigtyd wat vanjaar reeds in Suid-Afrikaanse skole verlore gegaan het en die langtermyn-uitwerking daarvan.

“Die Covid-19-pandemie het die grootste ontwrigting in die onderwyssektor veroorsaak. ’n Katastofe staar ons skoolgaande generasie in die gesig,” het Gustafsson gesê.

“’n Kenmerkende skooldag is nie meer soos dit vantevore was nie. Die pandemie se ontwrigting het ’n groot uitwerking op leerders en hoe hulle leer.”

Volgens Gustafsson het 80% van die onderrig wat leerders tydens die 2020-skooljaar moes ontvang het, verlore gegaan, aangesien die ontwrigting van die pandemie onderrig verlangsaam.

“Vir elke week wat leerders skooltyd verloor, verloor hulle sowat een en ’n halwe week van onderrig.”

Gustafsson sê volgens statistieke het leerders tot onlangs sowat twee dae per week skooltyd verloor.

“Skooltyd moet sover moontlik bestendig word om onderrig te laat geskied soos dit moet. Indien leerders nie gereelde kontak met onderwysers het nie, kan hulle verdere leerprobleme ontwikkel.”

Gustafsson sê waaroor die departement veral bekommerd is, is onderrig wat in die grondslagfase verlore gegaan het. Dit is omdat fundamentele vaardighede in dié fase aangeleer word en dan die fondament vir die leerder se hele skoolloopbaan lê.

Afwesigheid van leerders

Volgens Gustafsson se voorlegging gaan tussen 400 000 en 500 000 leerders landwyd nie meer skool toe soos hulle moet nie. Altesaam 25 000 van hierdie leerders is in die grondslagfase.

“Een van die redes waarom hulle nie terug skool toe gestuur word nie, is omdat ouers dalk bang is hul kinders kan die koronavirus opdoen.”

Langtermyn-uitwerking

Volgens Gustafsson het die Wêreldbank bepaal dat leerders wie se onderrig wêreldwyd deur die pandemie geraak is, ’n gemiddeld van 5% minder salaris in hul leeftyd sal verdien. Dié verliese sal verskil tussen verskillende groepe.

“Selfs met die beste onderrigprogramme om skooltyd in te haal, is dit byna onmoontlik om die verlore onderrig en skooldae in te haal. Dit geld veral vir leerders in laer grade wie se onderrig gepaardgaan met die ontwikkeling van belangrike vaardighede.

“Dié verlies aan onderrig sal veral te voorskyn kom wanneer dié jonger leerders oor tien jaar in matriek is.”

Leerders en Covid-19-infeksies

Gustafsson sê volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar geen duidelike bewyse dat Covid-19-infeksies styg wanneer leerders skool bywoon nie. Dit is veral kritiek noodsaaklik om nie skooltyd verder te ontwrig nie.

“Volgens die WGO is dit baie belangriker om ondernemings te sluit. Dit het nie só ’n groot uitwerking op die infeksiekoers om skole te sluit nie.”

Hy sê infeksies moet egter dopgehou word en die nodige gesondheidsmaatreëls moet gehandhaaf word.

“Kontinuïteit van skool is belangrik vir leerders se algemene welstand terwyl hul gesondheid en veiligheid steeds gewaarborg moet word.”

Invloed op kurrikulum

Cheryl Weston, direkteur van die kurrikulumtak, het tydens haar voorlegging daarop gedui dat die pandemie ’n negatiewe uitwerking op die kurrikulum gehad het. Die kurrikulum moes gesny en aangepas word om die inhoud in die beperkte aantal skooldae af te handel.

“In party skole se senior fase is van hul vakke in die tweede semester van nege tot sewe verminder om al die werk af te handel. Die driejaar-program van assessering – die eksamen aan die einde van die jaar – is ook afgeskaal tot toetse. Minder werk is ook gedek vir dié toetse,” het Weston gesê.

Skole moes ook hul roosters aanpas om sosiale afstand te kan handhaaf. Party onderwysers het met klasse oor naweke agterstallige werk probeer inhaal. Daar is skole wat leerders ook langer in die middae by skole hou om verlore werk in te haal en af te handel.

Angie Motshekga, minister van onderwys, het vroeër in die konferensie gesê dat die verlies van onderrig ’n groot bron van kommer is. Dit is waarom die departement vroeër die maand besluit het om dalk die Oktobervakansie te skrap in ’n poging om die vyf skooldae in te haal wat tydens die vroeër sluiting vir die wintervakansie verlore gegaan het.

Die departement het egter besluit om nie dié besluit deur te voer nie en dat die skooldae op ander redelike wyses ingehaal sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Wens die ANC was al verlore! Hulle is soos ‘n groot wrecking ball (verwoesting bal?). Alles wat hule na kyk, aan vat of aan dink stort in mekaar!

Anel

Sal nogal daarvan hou om te sien watter kinders die meeste agter geraak het. Nou gaan sie slaagsyfer seker nog meer daal want, ai, tog, daar was nie genoeg tyd nie en nog alherhande verskonings. Maar o, ons moet universiteit toe om “business management” te gaan studeer. En jy moet onthou, ons is voorheen benadeel!

Blomme

Die ouers is met reg bekommerd dat hul kinders by skole infekteer kan word. Skole is tans ń rooi sone vir die pandemie en kinders word baie siek. Prof Jansen het ń goeie voorstel gehad om die probleem te bowe te kom.. Maar nee.. Hy is seker nie deel vd regte party en dalkies ook nie vd regte ras.. Dus tel sy inset nie veel nie.

Tipper

Every time I see a politician I have to sanitice my hands.

Strandloper

Nou lam geskrik…oorweeg asb n ouderdoms beperking op sekere berugte asb.