Heli-dood: ‘Hy was ʼn avonturier van die lewe’, sê dogter

Apie en Yolande Reyneke. Foto: Facebook

Apie en Yolande Reyneke. Foto: Facebook

Die begrafnis van Apie Reyneke (58), die wildboer wat Saterdag in ʼn helikopterongeluk naby Delareyville in Noordwes dood is, is voorlopig uitgestel tot sy vrou sterk genoeg is om die gedenkdiens by te woon.

Reyneke, sy vrou Yolande (42), en die egpaar se jongste seun, Abraham (13), was van hul wildsplaas in die Tosca-omgewing buite Vryburg na Pretoria op pad toe die helikopter neergestort het.

Yolande is ernstig beseer en het ʼn gebreekte rugwerwel, ribbes en hakbeen opgedoen. Van haar nekwerwels is ook gekraak. Abraham het slegs ligte harsingskudding opgedoen en is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Carien-Mari Brink (33), Reyneke se dogter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Yolande word steeds in die trauma-waakeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel. “Sy is gister [Dinsdag] vir haar gebreekte rugwerwels geopereer. Dit het baie goed gegaan. Die dokter het gesê hy het nog nooit gesien dat iemand so kan glimlag na só ’n groot operasie nie,” het Brink gesê.

Volgens Brink sal Yolande Donderdag aan haar hakbeen geopereer word. Dit is nie duidelik wanneer sy uit die hospitaal ontslaan sal word nie. “Ons wag eers met my pa se begrafnisreëlings totdat Yolande sterk genoeg is om ook die gedenkdiens te kan bywoon omdat sy graag daar sal wil wees,” het Brink gesê.

Brink het haar pa as ʼn hardwerkende man beskryf wat “’n avonturier van die lewe” was. “Hy was ʼn man met sterk beginsels wat ons geleer het om vir mense om te gee en na ons medemens om te sien sonder dat enigiemand daarvan weet. Hy was ʼn man met ʼn oop hand en ʼn oop hart. Hy was ʼn streng pa, maar hy was ongelooflik lief vir ons,” het sy gesê.

Sy het verder gesê haar pa sal gemis word vir die “mense-mens” wat hy was en hoe hy mal daaroor was om altyd mense om hom te hê. “Hy het vinnig geleef en het groot dinge in sy lewe vermag. Hy was regtig ‘the great entertainer’.”

Reyneke was ʼn bekende in die motorwedren-kringe en wildboerdery en was die eienaar van Serapa Safari buite Vryburg. Behalwe vir Carien-Mari en Abraham, laat hy ook sy kinders Hendrik (32), Apie (28) en Adolf (17) agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Issabelle ·

Ai, dit is so hartseer & tragies ! Sterkte aan al die familie wat deur hierdie hartseer tyd gaan…… onthou julle sal die nodige krag , troos & liefde kry .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.