Heli neergeskiet: ‘Ons vind nie berusting’

Freek Snyman. (Foto: Facebook)

Dr. Freek Snyman wat in Augustus 2018 in ʼn helikopterongeluk in die Oos-Kaap dood is, se familie het nou ʼn private ondersoekspan aangestel om te help soek na antwoorde oor die voorval.

Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, is dood nadat die helikopter waarin hy en vlieënier Joshua Cilliers was, neergestort het. Cilliers is ernstig beseer, maar het die ongeluk oorleef.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid het in Mei sy verslag oor die voorval bekend gemaak en luidens dié verslag het ʼn projektiel of koeël destyds een van die helikopter se lemme getref wat veroorsaak het dat die vliegtuig neergestort het.

“Die ongeluk kan nie aan die vlieënier, die helikopter of die omgewing toegeskryf word nie, maar aan die optrede van ʼn derde party, ʼn persoon op die grond, wat ʼn wapen of geweer op die helikopter afgevuur het,” lui die verslag.

Dit is dié persoon na wie Snyman se gesin op soek is in ʼn poging om berusting oor die voorval te vind.

Marelize du Toit, Snyman se suster, sê die lugvaartowerheid, die polisie en die private ondersoekers sal nou saamwerk om antwoorde te probeer vind. Volgens die verslag was dit ʼn grootkaliber-vuurwapen waarmee op die helikopter geskiet is, maar daar was in daardie stadium geen jagters op die wildplaas waar Snyman saam met Cilliers besig was om diere uit die lug te verdoof nie.

“Hoe maak jy vrede? Wie skiet sommer net na ʼn helikopter? Êrens moet daar iemand wees wat iets weet,” het Du Toit die afgelope week gesê.

Sy het gesê haar broer se dood het haar ouers, Freek en Lisa, albei 64, bitter swaar getref. “Dit het my ma en pa geweldig beïnvloed en ek kan sien hoe hulle die afgelope twee jaar nadat Freek dood is, agteruitgaan,” het sy gesê.

Sy sê sy en haar suster, Christine van Heerden, het ook nog te veel vrae om vrede met die gebeure te maak.

Du Toit sê ten minste weet die gesin Snyman het gedoen waarvoor hy lief was. “So twee weke voor sy dood het my ma vir Freek gesê dit is darem baie gevaarlik om só te vlieg en hy het gesê as dit die manier is waarop hy moet gaan, is hy gelukkig.”

Die familie het die private ondersoeker Mike Bolhuis en sy span aangestel om ʼn bykomende ondersoek te doen.

Bolhuis het gesê hulle het die wrak nagegaan en reeds ʼn herkonstruering van die ongeluk gedoen.

“Ons werk ook nou saam met die polisie en burgerlugvaartowerheid,” het Bolhuis gesê.

Volgens hom sal die ondersoekspan se verslag na die voorval binne enkele dae afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hekwag

Wonder sommer hardop… het hy nie dalk, per ongeluk, met die verdowings geweer, self die lemme op kort afstand getref nie?

Cleopatra69

Hartseer dat n jong lewe so moes eindig

Anel

Wie anders as wilddiewe sal op so ‘n helikopter skiet, en nogal met groot kaliber! My mening.

JohanR

Hoop ter harte dat die skuldige/s sal gevind word, en die familie kan rus vind.

marius

Was daar renosters op die plaas ?