Heli-ongeluk: Broer, suster sterf saam met honde

Vaaldam (Foto: Lydia van der Merwe via Gauteng Weather, Twitter)

Die helikopter wat Vrydag in die Vaaldam in Midvaal neergeploeg het, het ook twee honde aan boord gehad. Die liggaam van ʼn man, vermoedelik die vlieënier, is intussen uit die water gehaal nadat hy aanvanklik as vermis aangemeld is. Na wat verneem word, was die twee insittendes broer en suster.

Maroela Media het vroeër berig die Robinson 44-helikopter het naby Vaal Marina, 200 m van die oewer, neergestort. Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn bystander kort ná die ongeluk na die helikopter geroei en die liggaam van ʼn vrou uit die wrak getrek.

Lede van die polisie se duikeenheid en reddingswerkers van die NSRI het later die liggaam van ʼn man, vermoedelik die vlieënier, uit die water gehaal. Volgens die NSRI was die twee oorledenes broer en suster.

“Daar word beweer dat die vlieënier op pad was van die Rand-lughawe na die Vaaldam met sy suster en twee honde aan boord,” het die NSRI in ʼn verklaring gesê. Die honde se oorskot is nog nie gevind nie en pogings om die honde op te spoor, duur voort.

Die burgerlike lugvaartowerheid het intussen aan Maroela Media bevestig dat hy bewus is van die ongeluk en tans meer inligting inwin om die oorsaak daarvan te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Die verslaggewer bedoel seker die twee insittendes. Passasier is iemand anders as die bestuurder/ vlieenier. Dus twee insittendes, maar een vlieenier en een passasier.

Pine ·

Dankie Martie. Twee mense is dood en jy is bekomerd oor woorde.

Rian ·

Lewer kommentaar oor die inhoud, en nie die taalgebruik nie. Hierdie is nie aanlyn Afrikaanse onderrig nie.

Martie Smartie ·

Nou wanneer gaan jy kommentaar oor die inhoud lewer vriend?

Caro ·

Taalgebruik is belangrik. Dankie vir jou kommentaar, Martie.

Leon ·

Die kommentaar oor taalgebruik is goedbedoel, positief en korrek. Dit doe géén afbreuk aan die tragiese van die voorval nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.