Heli-ongeluk: ‘Glasagtige water’ mislei vlieënier dalk

Die Robinson R44-helikopter nadat dit herwin is. (Foto: BLO)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het die voorlopige ondersoeke afgehandel na twee vliegongelukke wat die afgelope ruk altesame ses lewens geëis het.

In een van die voorvalle, waartydens ʼn vlieënier, sy suster en twee honde verlede maand dood is, is bevind dat die water waaroor die vlieënier kort voor die landing gevlieg het, moontlik ʼn wanindruk oor die hoogte van die helikopter kon geskep het.

Essie Esterhuysen, ʼn ervare vlieënier van Johannesburg, sy suster, Dané Esterhuysen, en twee honde het na sy huis by die Vaaldam gevlieg en in die water neergestort.

Luidens die verslag het die Robinson R44-helikopter die oppervlak van die water sowat 200 m voor die landingsplek getref.

Essie het omstreeks 17:30 by die Rand-lughawe opgestyg en sou na sy huis by Burgundy Bay in Vaal Marina vlieg.

Volgens die BLO het Essie een van die gaste wat reeds by die huis was, sowat drie minute voor hy die landingsplek sou nader, gevra om ʼn lig aan te skakel wat op die landingsplek skyn. Die lig is aangeskakel, Essie het die huis soos gewoonlik genader en – ook soos gewoonlik – is ʼn video van die naderende helikopter gemaak.

Essie en Dané Esterhuysen (Foto: Verskaf)

Die verslag lui dat niks ongewoons met die enjin op die video gesien kon word nie. Die water was kalm en glasig en het die omgewing weerspieël. In die video kan gesien word hoe die helikopter volgens sy normale vlugplan nader, nes talle kere in die verlede.

Dan daal die helikopter vinnig, dit tref die wateroppervlak en ʼn groot vonk en harde slag volg.

Essie en Dané se liggame is dieselfde dag van die ongeluk uit die water gehaal en die helikopterwrak is die volgende dag herwin.

Luidens die verslag het die 59-jarige Essie meer as 900 ure vliegtyd gehad. Die Robinson se lugwaardigheidsertifikaat was geldig en daar was geen aanduiding van enige gure weer nie.

“Die ongeluk word nie as oorleefbaar beskou nie, omdat die helikopter onder water was en albei insittendes (en twee honde) in die water gebly het tot hulle uitgehaal is deur diegene wat eerste gereageer het,” lui die verslag.

Dané se liggaam is deur ʼn visserman sowat 150 m van die ongelukstoneel gekry, terwyl die polisie se duikeenheid Essie se liggaam by die wrak op ʼn diepte van sowat 9 m gevind het. Die oorskot van een van die honde is in die helikopterwrak gevind, terwyl die oorskot van die ander hond vier dae ná die ongeluk herwin is.

Bevindings

Die naderende helikopter kan op die voorstelling gesien word. Dan tref dit die water. (Foto’s: BLO)

Die voorlopige ondersoekverslag het bevind Essie Esterhuysen was bekend met die omgewing.

“Gegrond op die videomateriaal het die helikopter oor kalm, glasagtige water gevlieg wat die omgewing weerkaats het. Die illusie van die glasagtige water kon die vlieënier die idee gegee het dat hulle hoër was as wat hulle eintlik was, wat veroorsaak het dat die vlieënier hoogte verminder het en dit dus gelei het tot die helikopter wat die water raak.

“Dit is bekend as ʼn verlies aan dieptepersepsie terwyl daar oor kalm, glasagtige water gevlieg word.”

Luidens die verslag is dit uiters gevaarlik om laag oor water te vlieg en talle ongelukke het al op dié manier plaasgevind. “Om te vlieg oor kalm, glasagtige water is veral gevaarlik, maar selfs onstuimige water, met die oppervlak wat deurlopend wissel, meng in met gewone dieptepersepsie en kan veroorsaak dat die vlieënier sy hoogte bo die water misgis,” lui die verslag.

Een van die aanbevelings wat in die voorlopige verslag gemaak word, is die installering van nooddryftoestelle aan helikopters wat oor water vlieg.

Vliegtuie bots in lug

Dié foto dui die ligging van albei vliegtuie aan. (Foto: BLO)

Wat betref die ongeluk op 26 April toe vier vlieëniers gesterf het toe hulle in die omgewing van Grasmere in Gauteng in die lug teen mekaar vasgevlieg het, het die BLO bevind daar was geen kans dat iemand die ongeluk sou oorleef nie.

Luidens die voorlopige ondersoekverslag is die vliegtuie – albei Cessna 172’s – tydens die botsing verwoes.

Volgens die voorlopige verslag het die Cessna met registrasie ZS-PXI by die Lanseria-lughawe opgestyg. Die bemanning het ʼn vlugplan ingedien en sou van die Johannesburg-omgewing na Rustenburg en terug vlieg. Aan boord van die vliegtuig was ʼn vluginstrukteur en private vlieënier wat besig was met nagvlugopleiding.

Op dieselfde aand het ʼn Cessna met registrasie ZS-OMN by die Rand-lughawe opgestyg – ook vir ʼn opleidingsvlug in dieselfde omgewing. Aan boord was ook ʼn instrukteur, asook ʼn vlieënier wat besig was met nagvlugopleiding.

Omstreeks 19:11 en op ʼn hoogte van 6 700 vt het die vliegtuie naby ʼn baken bekend as GAV (Golf Alpha Victor) in die lug gebots.

Die blou kolletjies wys die roete wat ZS-OMN gevolg het, terwyl die rooi kolletjies die roete van ZS-PXI aandui. (Grafiek: BLO)

Luidens die verslag het twee ander vlieëniers ʼn noodroep van die vlieënier van ZS-PXI gehoor. Een van hulle het die inligting aan die lugverkeerbeheertoring by Lanseria deurgegee en dié het die lugvaartreddingskoördineringsentrum in kennis gestel om ʼn amptelike soek-en-reddingsoperasie van stapel te stuur.

Die toring by Lanseria het alle vliegtuie in die Johannesburgse vliegopleidingsgebied gevra om op die uitkyk vir die vliegtuig te wees. “Omdat dit nag was, kon nie een van die vliegtuie in die gebied ZS-PXI opspoor nie,” lui die verslag.

“Die wrakstukke van die ZS-OMN-vliegtuig is eerste opgespoor nadat dit ʼn mielieland aan die brand gesteek het waar dit neergestort het. Die wrak van ZS-PXI is ure later opgespoor deur ʼn polisiehelikopter wat na die gebied gestuur is,” lui die verslag.

Luidens die verslag is ZS-OMN verwoes deur impakkragte en die brand wat deur die brandstof aangevuur is. ZS-PXI is ook verwoes toe dit ʼn klipperige gebied in ʼn steil duik getref het.

Die BLO het nie die name van die slagoffers in die voorlopige verslag bekend gemaak nie, maar drie van die vier is vroeër geïdentifiseer as Roy Coates, Keshav Sabharwal en Stanton Lee Murray.

Luidens die verslag het ʼn volmaan geskyn, sigbaarheid was goed en daar was nie veel turbulensie nie.

Bevindings:

ZS-OMN: Luidens die voorlopige verslag het die kommersiële vlieënier in beheer van ZS-OMN net meer as 1 902 vliegure gehad. Die vlieënier wat gevlieg het, het 79,6 vliegure gehad, almal op ʼn Cessna 172 – en hy het sy private vlieglisensie op 12 Januarie vanjaar verwerf.

ZS-PXI: Die vlieënier in beheer was ʼn kommersiële vlieënier met net meer as 685 vliegure agter sy naam. Die vlieënier wat gevlieg het, het volgens sy logboek altesame 95,9 ure opgeteken en het sy private vlieglisensie in September verlede jaar verwerf.

Albei vliegtuie se lugwaardigheidsertifikate was op datum en die nodige toestemming is vir albei opleidingsvlugte verkry.

Die voorlopige verslag het geen veiligheidsaanbevelings gemaak nie, maar die ondersoek duur steeds voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.