Heli-ongeluk: ‘My broer het as ʼn held gesterf’

Jason en Shane Badenhorst. Foto: Facebook

Jason en Shane Badenhorst. Foto: Facebook

“Om te weet my broer het so baie lewens gered, kan my gebreekte hart so klein bietjie heelmaak. ʼn Laaste soen totsiens.”

Só het Shane Badenhorst gesê ʼn dag nadat die masjiene wat haar ouer broer, Jason (27), aan die lewe gehou het, afgeskakel is.

Maroela Media het vroeër berig Jason, ʼn wildvanger en jakkalsjagter, is in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein breindood verklaar nadat die helikopter waarin hy ʼn passasier was, verlede week geval het.

Die ventilator wat hom aan die lewe gehou het is Donderdag afgeskakel nadat sy organe geoes is.

Volgens Shane sal een van Jason se niere aan ʼn ma met ʼn jong kind geskenk word, terwyl die ander nier ʼn matriekseun se lewe sal red. Jason se hart sal glo ʼn 14-jarige meisie ʼn tweede kans op lewe gee.

“Dit was die langste week van my lewe, maar dit is uiteindelik verby. My broer het as ʼn held gesterf,” het Shane op haar Facebook-profiel gesê. Talle mense het boodskappe van ondersteuning vir die familie op sosiale media gedeel, asook vir Lauren Senekal, Jason se verloofde.

Shane het kort ná haar broer se dood ʼn hartroerende huldeblyk aan hom gedeel. “Ek gaan sy lawwe kaskenades mis en snaaks genoeg ook die kere wat hy my uitgetrap het. Hy het gesterf terwyl hy dit gedoen het waaroor hy die passievolste was. Sy verloofde se stem was die laaste ding wat hy gehoor het en ek weet hy is gelukkig en vreedsaam dood, presies soos hy dit sou wou gehad het,” het sy gesê.

“Ek is so dankbaar dat ek hierdie afgelope week langs sy bed kon lê, sy wange soen, sy hand vashou en sy hare streel, terwyl ek hom herinner dat ek is wie ek vandag is as gevolg van hom en dat ek so trots op hom is. Hy het elke dag sy familie eerste gestel, selfs tydens sy laaste dag op aarde. Die liefde wat hy vir sy toekomstige vrou gehad het, was waarlik noemenswaardig – hy het [haar] so liefgehad.

“Jy was die beste broer, selfs toe ek meeste van die tyd ʼn slegte suster was. Jy is vir ewig by my. Vir ewig en ewig en altyd. Alles was presies soos dit moes wees. Dankie dat jy dit kort gehou het. Al my liefde my liefling broer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan Delport ·

Hi Spyker, ons almal by Doornkop myn wil net se jammer om te hoor van Jason ons gebede gaan op vir jou en jou gesin, wees sterk en bly Glo en onthou ons lewens is in die hande van die HERE !!!
Doornkop Raisebore Crew

i.c ·

Dit is vir my tragies! My hart bloei vir sy gesin en veral sy verloofde. Ekt hoendervleis en trane sit vlak in my oë. Al wat ek kan sê is sterkte aan sy familie, verloofde en vriende!!

chris ·

Ai tog hoe hartseer !! ‘n Jongman wat so passeivol was oor wat hy gedoen het en so tragies sterf. ek ook kind verloor wat so passievol was oor wat hy gedoen het !! Ja die gemis raak nooit minder nie. Sterkte aan die familie e n vriend. Julle sal Sy Vrede vind !!

Hannelie (Worcester) ·

Ai dit is so tragies! So ‘n pragtige mens en in die fleur van sy lewe. My innige simpatie aan sy verloofde, sy familie en vriende. Mag Jesus jul styf vashou in hierdie verskriklike hartseertyd. Mag Hy jul trane afdroog en ook dat jul sal vrede vind. Baie sterkte en liefde word jul toegebid.

Jax ·

Baie sterkte met die verwerking van julle verlies! Mag julle gedra word deur die moeilike tyd!
Hy het verseker n held gesterf! My kind het n aantal jare gelede n reuse geskenk gekry van n held uit die oos Kaap – my kind is die trotse eienaar van sy skenker se hart. Vandag kan my kind alles doen wat hy nog nooit kon doen nie! Ons dink so dikwels aan ons skenker se familie.

Francois ·

Shane…natuurlik het hy as held gesterf. Enige een wat vir diere lief is, is ‘n held, MY held. Eintlik is hy ‘n dubble held, want hy het soveel ander mense se lewens gered/verryk deur sy orgaan skenkings. Ek bid dat julle vertroosting sal vind in die moeilike tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.