Heli-ongeluk: ʼn ‘Legende’ se lewe gevier

Freek Snyman. Foto: Facebook

Wanneer Freek Snyman se suster praat oor haar jonger broer wat ʼn week gelede in helikopterongeluk gesterf het, kan jy die trots in haar stem hóór – trots op die man wat ondanks talle uitdagings sy droom om ʼn veearts te wees bewaarheid het. En wat op sy rustige en geduldige manier sy lewe voluit geleef het. ʼn Man wat in sy 33 jaar op aarde alles gedoen het wat hy graag wou doen.

“Ons weet steeds nie wat daardie oggend van 15 Augustus gebeur het nie,” sê Christine van Heerden, Snyman se suster. “Daar is ʼn vermoede dat die helikopter ʼn kragdraad getref het, maar niemand weet regtig nie, want niemand het die ongeluk sien gebeur nie.”

Snyman was saam met Joshua Cilliers (28), die vlieënier, in die helikopter toe dit in die Sterkstroom-omgewing naby Queenstown in die Oos-Kaap neergestort het. Die twee mans was besig om met wild te werk toe die ongeluk gebeur het. Snyman het op die toneel gesterf, terwyl Cilliers in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas is.

Snyman was die eienaar van Silver Arrow Wildlife Vet Services in Port Elizabeth. Sy vrou, Stacey Lynn, is ʼn veeartsassistent en saam kon hulle hul liefde vir diere deel en uitleef.

“Freek en Stacey Lynn se huis is vol diere wat gered is. Hulle het saam meer diere deurgetrek as wat enige ander mens sou kon doen,” vertel Van Heerden. “Hulle sou beurte maak om deurnag te waak by honde wat deur slange gepik is om seker te maak dat hulle oorleef. Hulle het nooit moed opgegee met enige dier nie. Hulle het nog altyd ʼn spesiale gawe en liefde vir diere gehad.”

Freek Snyman en sy vrou, Stacey Lynn, op hul troudag in 2014. Foto: Facebook

Van Heerden sê Snyman het homself van kleins af met diere omring, van slange wat hy opgetel en in die veld gaan vrylaat het tot honde, katte, rotte en bebaarde drake. “Hy het mond-tot-mondasemhaling toegepas op enige dier wat net lyk of hulle wil doodgaan,” skerts Van Heerden.

Snyman is as kind met disleksie gediagnoseer, maar het nie toegelaat dat dit in sy pad staan om sy droom om ʼn veearts te word te bewaarheid nie. “Hy is ná skool Tukkies toe en het weens sy disleksie nege jaar geneem om sy veeartsgraad, wat gewoonlik sewe jaar neem, te behaal. Maar hy het vasgebyt en nie moed opgegee nie. Hy wou ʼn veearts word en klaar.”

Dit is ook hier waar hy vir Stacey Lynn ontmoet het en die twee het ná hul studie Polokwane toe verhuis voordat hulle in Augustus 2014 getroud is. Minder as ʼn jaar later het die jong egpaar na Port Elizabeth verhuis waar hulle Silver Arrow Wildlife Vet Services op die been gebring het.

“Joshua en Freek was nie vriende nie, maar hulle het mekaar geken en het al verskeie kere voorheen saam gevlieg. Joshua is ʼn uitstekende vlieënier, een van die beste. Freek het volle vertroue in hom gehad en met goeie rede,” sê Van Heerden.

ʼn Gedenkdiens is Maandag in Port Elizabeth gehou waar familie en vriende geleentheid gekry het om Snyman finaal te groet. Van Heerden beskryf dit as ʼn “viering van die legende” wat Snyman vir sy geliefdes was.

Nou moet die familie stadig maar seker begin om hul lewens voort te sit, sê Van Heerden. “My pa het gister ʼn rugoperasie gehad. Hy behoort Vrydag ontslaan te word en dan sal hy en my ma weer terugkeer Vivo toe. Ek dink as hulle eers by die huis is, gaan dit hulle werklik tref.”

Van Heerden sê dat Snyman nog altyd ʼn baie hegte band met sy ouers gehad het. Hy sou sy pa, Freek sr., gereeld bel om oor vuurwapens te gesels en jagstories uit te ruil en het tipiese pa-en-seun-goed saamgedoen. Terselfdertyd was Snyman se ma, Lisa, sy steunpilaar, die een wat nooit moed opgegee het met sy stryd teen disleksie nie en die persoon wat vir hom gesê het hy kan enigiets wees wat hy wil wees.

Freek Snyman. Foto: Facebook

“En dan Stacey Lynn. Freek se regterhand, sy ander helfte. Dit is bitter moeilik vir haar. Sy weet nie eintlik waar om te vat en waar om te los nie. Stacey Lynn het Freek opgehemel en aangemoedig, veral in die tye toe dit sleg gegaan het in die wildbedryf. Saam het hulle nog groot planne gehad.”

Van Heerden sê hoewel die pad wat voorlê nog lank en moeilik is, is dit die mooi herinneringe aan Snyman wat hulle dra. “Hy was passievol, rustig, geduldig en het ʼn liefde vir diere en mense gehad wat net onbeskryflik was. Hy het tyd gemaak vir elkeen,” sê sy.

“Hy het sy drome voluit nagejaag en was so trots daarop om in die helikopter te wees met sy geweer en sy ‘Tom Cruise-sonbril’. Psalm 118 sê: ‘Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die Here vertel.’ Dít is hoe ons Freek sal onthou.”

Snyman word oorleef deur sy vrou, Stacey Lynn Eke-Snyman, sy ouers, Freek en Lisa, sy susters, Christine van Heerden en Marilize du Toit, sy skoonouers, Dorothy en Patrick Eke, sy swaers, Jean du Toit, Francois van Heerden en Paul Eke en vyf susterskinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francis van rooyen ·

Ja dis hartseer was saam op skool hy was rustig stil en altyd op sy plek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.