Heli-ongeluk: ‘Ondersteuning en genade’ dra vlieënier se familie

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Joshua Cilliers (28), die vlieënier wat verlede week kritieke beserings in ʼn helikopterongeluk naby Queenstown in die Oos-Kaap opgedoen het, se familie wag steeds langs sy hospitaalbed dat hy sy bewussyn herwin.

Danie Cilliers, Joshua se broer, het aan Maroela Media gesê hoewel die drukking op Joshua se brein intussen verminder het, is hy steeds in ʼn kritieke toestand waar hy in die waakeenheid van ʼn Oos-Londense hospitaal behandel word.

“Hy bly stabiel, maar steeds kritiek en daarom vra ons vir verdere gebede,” het Danie gesê. Die dokters wil volgens hom in die volgende paar dae probeer om Joshua se gebreekte arm te opereer omdat hulle tot nou toe nog nie daaraan kon werk nie.

Joshua se ma, Erika, het Woensdag op Facebook gesê dat Joshua steeds van ʼn ventilator afhanklik is om asem te haal. “[Ons] weet dat God klaar die genesingswerk gedoen het. Daar is ʼn groot leërmag van engele rondom [Joshua],” het Erika geskryf.

Maroela Media het vroeër berig Joshua was saam met ʼn veearts, Freek Snyman (33), in die helikopter besig om met wild te werk toe dit in die Sterkstroom-gebied neergestort het. Snyman het op die toneel gesterf, terwyl Joshua bloeding op die brein, ʼn gebreekte arm en ʼn longbesering opgedoen het.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek. Snyman se familie het vroeër aan Maroela Media gesê Joshua is ʼn uitstekende vlieënier en dat Snyman volle vertroue in sy vaardighede gehad het.

Intussen sê Danie dat die gesin vasklou aan hul geloof en die bemoedigende ondersteuning wat hulle van oral oor ontvang.

“Die ondersteuning van die publiek is ongelooflik en die familie wil spesifiek dankie sê daarvoor, asook elke persoon bedank vir elke boodskap, SMS en WhatsApp. Dit is hierdie ondersteuning en genade van Bo wat die familie tans dra,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor Joshua Cilliers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hou moed ·

Ek kan net sê, hou moed, ‘n gesin & vriende het 2 jaar terug moed gehou en die dametjie is later van die venitlator af, koma kom, wakker, stadig begin praat weer, na net ‘n jaar loop sy en bestuur, ry weer fiets…….. Geloof en vertroue in jou Maker.

Gesiggie ·

Vader U is Genadig.. U is Almatig deur en In U werke is als moontlik, ons vra dat U Jashua sal genees in Jesus naam, sodat hy vir sy familie gespaar sal bly. Alle sterkte aan jul as ouers, vriende en familie. God is Good all the Time.. hou moed en wees sterk. hoop om gou goeie nuus te ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.