Heli-ongeluk: Ontslape veearts se verjaarsdag op gepaste wyse gevier

George Freek Snyman. Foto: Facebook

Die vrou van die Oos-Kaapse veearts George Freek Snyman (33) van Port Elizabeth wat in Augustus verlede jaar in ʼn vliegtuigongeluk gesterf het, wil haar ontslape man se lewe vier deur middel van ʼn gebaar so eie aan dié eens gedugte span – hy ʼn veearts en sy ʼn veeartsassistent.

Stacey Lynn Eke-Snyman samel geld in om 34 diere uit arm gebiede te steriliseer in aanloop tot wat haar man se 34ste verjaarsdag sou wees.

Dié idee spruit uit Snyman se passie om diere te red asook te steriliseer om ongewenste werpsels te voorkom.

“Hy kan nie meer van sy tyd en vaardighede gee om ’n verskil te maak nie, daarom gaan ek dit vir hom doen,” verduidelik Stacey Lynn haar gebaar aan Maroela Media.

“Miljoene ongewenste diere beland elke jaar in skuilings of loop op straat waar hulle ʼn lewe van lyding en mishandeling leef. Die sterilisering van troeteldiere sal dié hoeveelheid verminder,” verduidelik sy.

ʼn Veldtog is op 23 Maart op die been gebring wat tot 31 Mei, Snyman se verjaarsdag, sal duur om R25 000 in te samel om dié diere te laat steriliseer.

Teen Woensdagoggend het Stacey Lynn reeds R15 550 ingesamel om haar en haar oorlede man se stryd teen ongewenste diere voort te sit.

George Freek en Stacey Lynn op hul troudag in 2014. Foto: Facebook

Stacey Lynn verduidelik dat die bedrag geld na ʼn nie-winsgewende organisasie genaamd Domestic Animal Care sal gaan wat elke week twee tot vier katte of honde sal steriliseer tot altesaam 34 troeteldiere onder die mes deurgeloop het.

Stacey Lynn vertel dat die egpaar mekaar in 2010 gedurende hul studies by Onderstepoort aan die Universiteit van Pretoria ontmoet het waarna hulle in Augustus 2014 getroud is.

“Ons het ’n unieke liefde vir diere, groot en klein, gedeel. Ons het ’n hele huis vol troeteldiere wat ons gered het, gehad. Ons kinders met pelse. Hulle woon nou nog by my,” het sy gesê.

Snyman was die eienaar van Silver Arrow Wildlife Vet Services in Port Elizabeth en met Stacey Lynn as die veeartsassistent, kon hulle saam hul liefde vir diere deel en uitleef.

Maroela Media het vroeër berig Snyman het in Augustus verlede jaar in ʼn vliegtuigongeluk gesterf. Hy was saam met Joshua Cilliers (28), die vlieënier, in ʼn helikopter toe dit in die Sterkstroom-omgewing naby Queenstown in die Oos-Kaap neergestort het. Die twee mans was besig om met wild te werk toe die ongeluk gebeur het.

Snyman het op die toneel gesterf, terwyl Cilliers in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas is. Cilliers het sedertdien merkwaardig goed herstel.

Die Snymans se huis was vol diere wat hulle gered het. “Hulle het saam meer diere deurgetrek as wat enige ander mens sou kon doen,” het Christine van Heerden, Snyman se suster, destyds aan Maroela Media vertel.

George Freek en Stacey Lynn Snyman op hul troudag in 2014. Foto: Facebook

“Hulle sou beurte maak om deurnag te waak by honde wat deur slange gepik is om seker te maak dat hulle oorleef. Hulle het nooit moed opgegee met enige dier nie. Hulle het nog altyd ʼn spesiale gawe en liefde vir diere gehad.”

Stacey Lynn glo dat Snyman gaande sou wees oor haar idee “aangesien hy die belangrikheid van sterilisasie verstaan het”.

“Hy het meer pyn en lyding van diere gesien as wat jy kan dink. Die meerderheid mense besef nie die implikasies daarvan om nie hul troeteldiere te laat steriliseer nie en bloot honde en katte uit te deel of te verkoop,” sê sy.

Sy beklemtoon dat daar nie genoeg huise vir dié troeteldiere is nie en dat hulle gewoonlik in verkeerde hande beland.

Vir meer inligting oor Stacey Lynn se inisiatief óf om ʼn bydrae te lewer, besoek haar fondsinsameling hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tina ·

Mag jy geseën word in die projek wat jy aanpak en baie dankie vir dit wat jy doen vir die diere.

ella ·

Kom ons ondersteun haar. goeie mens gewees. hy was eers betrokke gewees by die pietersburg diere kliniek waar ek met hom te doen gekry het. dieselfde as Dr Malan wat ook ni meer met ons is nie. hulle het die xtramyl geloop.

Charlotte ·

Baie dankie vir mense soos julle, wat werklik omgee vir diere. Ons is deur God aangestel om na hulle om te sien, omdat hulle nie ‘n stem het nie en nie soos ons kan redeneer nie. Die oorgrote meerderheid mense is ongelukkig op geld ingestel, selfs al bring dit tydelike verligting vir ‘n finansiële krisis of nood. Die diere moet daarna maar self sien kom klaar, soos in die berig genoem word. Ek steun enige organisasie wat verder dink as die onmiddellike bevrediging van ‘n oulike hondjie of katjie wat só oulik is as hulle klein is, maar alte veel kere vergeet word wanneer die oulike ou diertjie later irriterend raak as gevolg van min of geen aandag. Sterkte met jou mooi gebaar, Stacey Lynn. Mag jou optrede meer mense beïnvloed om soos jy te begin dink!

Dankbaar ·

Dankie vir dit wat jy en jou oorlede man vir diere gedoen en jy nog doen. Wens daar was meer mense soos julle. Sterkte jy is in my gebede.

Abel ·

Wat ñ pragtige gebaar!! Ek bid dat jy sommer baie geld sal insamel en sodoende nog baie meer diere sal kan help. Weet dat jou man sommer baie trots is op jou!

Hou so aan en God se rykste seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.