
Richard Morgan by sy vrou Amelia nadat hy in November sy eerste solovlug voltooi het. (Foto: Starlite Aviation Training Academy/Facebook)
Die leerlingvlieënier wat Maandag in ’n helikopterongeluk in Durban dood is, was die pa van vier kinders.
Richard Morgan en sy vlieginstrukteur, Derek Fitzgerald, is dood nadat hul Robinson R22-helikopter in die Umgenirivier naby die Inandaweg-afrit op die N2 in KwaZulu-Natal beland het.
Die twee mans was albei aan die Starlite Aviation Training Academy verbonde. Die opleidingskool het gesê hy is geruk deur die voorval en het privaatheid versoek terwyl die ondersoek na die voorval voortgaan.
“Ons innige meegevoel, gedagtes en gebede gaan uit aan hul families en vriende in dié moeilike tyd.”
Familielede het Morgan intussen beskryf as iemand wat vol lewe was en ander bemoedig het. Hy laat sy vrou en vier kinders agter.
Medelye stroom steeds ook in vir Fitzgerald op Facebook.
Dit is nog nie duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie. Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat ’n ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur is.
“Daar is nie in dié stadium verdere besonderhede oor die ongeluk beskikbaar nie. Nietemin sal ’n voorlopige verslag binne 30 dae uitgereik word,” het Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
…en ek sê weer…. hier is SKIELIK te veel vlieg-ongelukke wat gebeur….
Die hoeveelheid helikopter en ligtevliegtuig-ongelukke is kommerwekkend.
Bereken die vlieg-insidente persentasie gewyse met die van voertuie op die pad, dan sal julle lag vir die stelling van ‘te veel’ of ‘baie’ vliegongelukke. Dit is steeds die veiligste manier van vervoer.
As elke motorongeluk soveel publisiteit moes kry soos elke vliegongeluk…… Wonder hoe dik daardie koerant sou wees?