Heli-ongeluk: ‘Vlieg was in sy bloed’

Herman Wenhold. Foto: Verskaf

Herman Wenhold (37), een van die mans wat dood is nadat ʼn helikopter Vrydag op ʼn wildplaas buite Bela-Bela in Limpopo neergestort het, se groot liefde was vlieg. Hy het gesterf deur dít te doen wat hom die heel gelukkigste gemaak het.

Só het Neville Wenhold, Herman se broer, Sondag aan Maroela Media gesê.

Volgens Wenhold weet die familie steeds nie wat die oorsaak was dat die helikopter Vrydag op die Lumarie-wildplaas neergestort het nie. Herman, ʼn sakeman van Rustenburg, en sy goeie vriend, Jacques Oelofsen (31), is albei op slag dood.

“Daar is natuurlik baie bespiegeling en verskillende stories oor wat gebeur het. Ek weet net my broer was ʼn ongelooflik presiese mens en het altyd baie goed na al sy voertuie, asook sy helikopter, omgesien. Hy sou nooit gevlieg het as daar rede was om onveilig te voel nie, maar teruggedraai het as daar iets fout was. Daarom glo ons as familie dit moes ʼn onvoorsiene meganiese oorsaak gewees het wat die helikopter laat neerstort het,” het Wenhold gesê.

Herman en Oelofsen was van Rustenburg na die Zebula-gholflandgoed op pad om vir die naweek te gaan gholf speel toe die ongeluk gebeur het. Paramedici en die polisie is onmiddellik na die toneel ontbied, maar die mans is op die toneel dood verklaar.

Volgens Wenhold was Herman ook ʼn vliegtuigvlieënier en het so ʼn jaar gelede daaraan begin werk om sy helikopterlisensie te kry. Ongeveer ʼn maand gelede is een van sy grootste drome bewaarheid toe hy sy eie helikopter kon koop.

“Vlieg was nog altyd deel van ons familie en dit was net in Herman se bloed. Hy was mal daaroor en dit was sy gunstelingstokperdjie. Dit bring vir ons as familie ʼn mate van berusting – die wete dat hy as’t ware ‘in sy droom’ oorlede is, besig om te doen waarvoor hy lief was.”

Herman Wenhold, sy vrou Karien, en hul twee kinders. Foto: Verskaf

Wenhold sê Herman se vrou, Karien, is platgeslaan deur haar man se dood. Die egpaar is die ouers van twee jong kinders, onderskeidelik twee jaar en nege maande oud. “Herman se dogtertjie is nog baie jonk, maar sy weet dat haar pappa in ‘n helikopterongeluk was, dat hy baie seer gekry het en dat hy nou by Liewe Jesus is.”

Dit voel vir hom self nog onwerklik en moeilik om sin te maak van die tragedie. “Al ons herinneringe aan Herman is positief. Hy was net so ʼn amazing mens. Alles wat hy aangepak het, het hy met ʼn glimlag gedoen. En maak nie saak hoeveel sukses hy behaal het nie, hy het altyd ʼn oop hand vir ander gehad en ander mense se probleme op sy skouers geneem. Dit is net wie hy was. ʼn Tipiese old-school gentleman.”

Wenhold sê die begrafnis sal na verwagting Vrydag op die familie se plaas buite Mooinooi in Noordwes gehou word en Herman sal in die familiebegraafplaas begrawe word.

Herman word oorleef deur sy ouers, Neville en Elmarie, broers, Neville en Casper, suster, Elzette, asook sy vrou, Karien, en twee kinders, Elné en Herman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

daro ·

Oe!! Dit is so so hartseer wanneer so jong pa sterf wat nog sulke klein kinders het. Mag God ons Vader sy Engele aangaande julle stuur om julle te beskerm, mag die Here julle troos en vesterk in die hartseer tyd, en jou kinders altyd versorg wees en in die wee en liefde van Here Jesus bly.

Elize Malan ·

My innige meegevoel aan jul familie baie sterkte mag jul trane afdroog en jul vertroos in hierdie moeilike tyd baie sterkte

Oom Kalahari ·

Dit is tragies en baie hartseer. Aan die Wenhold Familie, vriende en kollegas alle simpatie en medelye vir jul groot verlies. Dit is wonde wat lank neem om te heel en ‘n gemis wat vir lank jou bybly. Sterkte aan almal en wens jul God’s Seeninge toe gedurende hierdie tyd van rou en bystand tot mekaar.

Veer ·

Dit is verskriklik hartseer. Mag God hulle styf vashou en krag gee vir elke dag.

Maroela, is die oudste kind net 2 jaar oud?

Hannelie ·

Dis so so hartseer. Mag God hierdie gesinnetjie vashou en vertroos. Sterkte ook aan Jacques Oelofsen se familie wat deur hierdie hartseertyd moet gaan. Mag beide gesinne en familie vertroosting vind.

Jakes ·

Dieselfde Heli ZS-MZS was op 22 April 2008 in n ongeluk betrokke botsing met n trok, SACAA Accident & Incident report 8482 22/04/2008. RIP Pilot sterkte aan die families

Baie interessant ·

Dit is baie interessant, ek hoop die familie kyk hierna, het die vorige eienaar ‘n helikopter wat dalk nie 100% reg was aan hierdie jong man verkoop. Kan die genoemde ongeluk nie ‘n effek op balans of wat ookal gehad het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.