Heli-ongeluk: Weduwee oor laaste oomblikke in water

Magda en Chris Rorich (Foto: Verskaf)

Magda Rorich was bereid om haar laaste asem vir haar man te gee daar waar sy langs hom aan ʼn helikopterwrak op die Krokodilrivier geklou het. Sy kon egter net sy hand vashou voordat hy geruisloos van die dak van die helikopter die water ingegly en onder die oppervlak verdwyn het.

Rorich (47) van Centurion het met Maroela Media gesels oor daardie angswekkende ure waartydens sy vroeër vanjaar aan die wrak van ’n ligte nutshelikopter moes klou. Die helikopter het in Januarie gedurende ’n plesierrit met haar, haar man en die vlieënier in die Krokodilrivier buite Brits in Noordwes neergestort.

Haar man, Chris, is in die water dood terwyl sy en die vlieënier albei met beserings na hospitale gehaas is vir mediese behandeling.

“Dit het so onwerklik gevoel. Dit het soos ’n storie gevoel,” het Magda vandeesweek aan Maroela Media vertel.

Magda het ernstige beserings gedurende die ongeluk opgedoen; sy het onder meer een van haar laerugwerwels (L1) gebreek. Sy moes intussen van vooraf leer loop.

Sy vertel dat sy aanvanklik in die wrak van die helikopter vasgekeer was. Sy het haar bewussyn kort na die ongeluk herwin toe Chris (47) en die vlieënier besig was om haar uit die wrak te bevry.

Die vlieënier het ’n ernstig beseerde Chris tot op die dak van die helikopterwrak gehelp en Magda het aan die neus van die wrak vasgeklou voordat die vlieënier uitgeswem het om hulp te gaan ontbied.

Magda onthou dat Chris vir haar gesê het dat hy sukkel om asem te haal. “Hou net uit,” het sy gesoebat.

Sy vertel dat sy probeer het om om die wrak tot by Chris te beweeg en sy kon eindelik daarin slaag om haar man se hand vas te hou. “Ek het vir hom gesê: ‘As ek net by jou kan uitkom, dan gee ek vir jou al die asem wat ek het’.

“Hy het gesê: ‘Liefie, jy gaan moet uitswem’. Ek het vir hom gesê ek kan nie en hy het gesê ek sal móét want hy kan nie meer nie. En met die kalmste oë het hy van die dakkie [van die helikopterwrak] afgegly tot in die water.”

Magda het lank aan die wrak vasgeklou voordat hulp opgedaag het. Die egpaar se kinders, onderskeidelik 14 en 21, het die betrokke dag kort voor hul ouers ook op ’n plesierrit met dieselfde helikopter gegaan. Hulle het vier en ’n half ure by die vliegveld vir hul ouers gewag om terug te keer voordat hulle van die ongeluk ingelig is.

Magda is met paramedici se aankoms uit die water gehaal en in ’n helikopter na die hospitaal gehaas, terwyl Chris op die toneel dood verklaar is.

Die egpaar sou vroeër vandeesmaand 24 jaar getroud wees.

Lang pad na herstel

Chris en Magda Rorich (Foto: Verskaf)

Dit was ’n verskriklike pad om te stap,” vertel Magda oor haar herstel ná die ongeluk.

Sy is ná die ongeluk met ʼn gebreekte werwel in haar lae rug sowel as gebreekte ribbes en buikbeserings in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto opgeneem.

Hier het sy vyf dae later ’n operasie aan haar lae rug ondergaan en sowat ’n maand in die hospitaal deurgebring voordat sy na ’n rehabilitasiesentrum verwys is om van voor af te leer loop.

Magda het boonop in ’n stadium bloedklonte ontwikkel en moes ’n week lank in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria deurbring voordat sy weer aandag aan haar rehabilitasie kon gee. Magda is eindelik met ’n loopraam huis toe om daar verder aan te sterk.

“Ek kon later [met behulp van fisioterapie tuis] met twee krukke loop en het later net een nodig gehad.” Sy vertel dat dit ’n blye dag was toe sy een dag ingedagte en met vol hande in haar sitkamer kom en besef dat sy haar kruk in ’n ander vertrek vergeet het.

Tog het sy in dié stadium steeds geen gevoel in haar middellyf nie. “Ek kan nie my boude voel nie. Dit voel of ek op klippe sit. My voete is ook albei soos spons. Ek kan net my regtertone voel. Ek balanseer basies net op hulle.”

Sy glo dit is dus net genade van Bo dat sy nou in staat is om te loop en selfs al ’n motor kan bestuur.

Dit is nie in dié stadium al duidelik wanneer Magda gevoel in haar middellyf en ander tone gaan of sal herwin nie. “Dit kan glo tot ’n jaar neem voordat jy weet watter senuwees herstel het.”

Herinneringe

Chris en Magda Rorich (Foto: Verskaf)

Intussen koester Magda en haar twee kinders die herinneringe van hul eggenoot en pa.

“Chris was die beste, vredevolste en rustigste mens. Hy het nooit kwaad geword of sy humeur verloor nie. Hy was so lief vir sy kinders en sou alles vir ons gee en niks vir homself oorhou nie.

“Selfs tot op sy laaste het hy aan my gedink. Hy het gesê ek moet uitswem en op ’n veilige plek kom. Dit is presies wie Chris was. Almal anders het altyd eerste gekom.”

Sy vertel dat hy ook “ontsaglik” lief was vir die Here en ’n wonderlike voorbeeld vir vele, ook sy kinders, was.

Chris was ook mal oor helikopters en die egpaar het op hul troudag ná die seremonie ook op ’n plesierrit in ’n helikopter gegaan.

“My huwelik het begin met ’n helikopter en toe ook met ’n helikopter geëindig.”

Magda en Chris Rorich was byna 24 jaar lank getroud. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.