Heli-treurspel: ‘Dit sou gesinsuitstappie wees’

Braam Swanepoel sr. en sy seun, Braam jr. Foto: Verskaf

Braam Swanepoel sr. en sy seun, Braam jr. Foto: Verskaf

Die Swanepoel-gesin sou Woensdag vir ʼn helikopterrit gaan, maar weens ʼn sameloop van omstandighede het net pa en seun gaan vlieg en saam met twee vriende verongeluk.

Braam Swanepoel sr., in sy 50’s, en sy seun, Braam jr. (24), is Woensdagmiddag in die ongeluk in Lusikisiki in die Oos-Kaap dood. Gordon Gray en Theo Roos, vriende van Braam sr., is ook in die ongeluk dood.

Past. Wally Kramer, Braam sr. se swaer, het aan Maroela Media gesê Braam en sy gesin sou Woensdag gaan vlieg het, maar het van plan verander toe ʼn vriend sy hulp nodig gehad het. Hulle moes ʼn wiel vir ʼn ander vlieënier, wie se vliegtuig ʼn pap band gehad het, neem.

Die Robinson R44-helikopter het glo teen ʼn berghang vasgevlieg voordat dit in die Msikabakloof neergestort het. Volgens Kramer was die weer piekfyn toe hulle in Margate opgestyg het. “Hulle het naby Port St. Johns slegte weer gekry en toe vermis geraak.” Kramer het gesê die wind het glo tot 80 km/h gewaai in die omgewing.

“Braam sr. was ʼn vooraanstaande sakeman in Hibberdene en het Gladiator Security besit. Sy seun was ook ʼn sakeman in die omgewing en was ook by sy pa se onderneming betrokke. Braam sr. het altyd mense gehelp. Hy was baie lief vir die Here en het die gemeenskap gedra. Almal gaan hom rêrig baie mis.” Hy word oorleef deur sy vrou, Jynie, en dogter, Meliska, ʼn eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit.

Volgens Kramer is Braam jr. sowat ʼn jaar gelede met sy vrou, Gereen, getroud. “Dit is ʼn baie harde slag vir almal in die familie.” Kramer het gesê Braam sr. se ma het nou drie van haar seuns en twee kleinkinders aan die dood afgestaan.

Kramer het gesê Braam sr. was ʼn goeie vlieënier en het sowat twee jaar gelede sy vlieënierslisensie gekry. Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn ooggetuie het die helikopter gesien vlieg en kort daarna ʼn slag gehoor. “Hy het gaan ondersoek instel en gesien die helikopter het geval, waarna hulp ontbied is,” het kapt. Mduduzi Godlwana, woordvoerder van die polisie, gesê.

Godlwana het gesê ʼn soek-en-reddingspan is egter eers Donderdagoggend na die toneel gestuur, aangesien bevestig is dat die vier insittendes in die ongeluk gesterf het en die weeromstandighede sleg was. Die vier mans se lyke is teen Donderdagmiddag uit die kloof verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris Ws ·

Ai dis hartseer om so berig te lees!Ons innige simpatie en meegevoel aan al die naasbestaandes en familie van die oorledenes.Slegte weer is nou eenmaal geen vlieenier se vriend nie.Draai liewer om en vlieg uit die gevaar uit weg of land so gou moontlik.Dit bly maar die veiligste opsie.

Scalla ·

Tragies, sterkte aan die familie, n ongeluk gebeur in n oogwink alhoewel die vlieenier baie ervare was, dink aan julle

Sommernet hartseer ·

Dit is sommer net hartseer nuus, baie sterkte aan die familie, vriende en personeel, sjoe hulle het so gelukkig gelyk.

Jacoba ·

Al die familie en vriende wees daar vir mekaar jul get mekaar NOU bake nodig. Spesiaal Sr. Se ma 3 seuns en 2kleinkinders, so is die lewe, DAT ons nie sulke pyn vooraf van weet, Sterkte jul is nie alleen.

Catharina Lotter ·

Vreeslik jammer om te hoor van die Pa en Seun se ongeluk,,,,sterkte vr die familie julle bly in ons gebede…

Alma Thompson ·

Aai, Meliska! My hart gaan uit na jou, jou mamma en al julle familie en vriende wat deur hierdie tragedie geraak word! Mag julle julle troos in God vind. Baie sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.