Helikopter-ongeluk: Liggame uit wrak verwyder

Medelye vir die vlieginstrukteur, Derek Fitzgerald, het sedertdien op Facebook ingestroom. (Foto: Facebook / Olive Tree Church)

Die liggame van die vlieginstrukteur en leerlingvlieënier wat Maandag in ’n helikopterongeluk in Durban dood is, is uit die wrak verwyder.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n Robinson R22-helikopter Maandagoggend in die Umgeni-rivier naby die Inandaweg-afrit op die N2 in KwaZulu-Natal beland het.

Garrith Jamieson van ALS Paramedics het bevestig dat die twee se liggame Maandag uit die wrak verwyder is. Die helikopter is ook intussen uit die rivier verwyder.

Medelye vir die vlieginstrukteur, Derek Fitzgerald, het sedertdien op Facebook ingestroom.

Die Olive Tree Church het ’n foto van ’n singende Fitzgerald op hul Facebook-blad gedeel en gesê dat hulle “platgeslaan” is deur sy dood.

“Ons sal jou innig mis,” het die kerk op Facebook geskryf.

“Vandag is my hart gebreek deur die verlies van hierdie wonderlike man en vriend, Derek Fitzgerald. Een van die goeies, te vroeg weg,” het Justin Elson Maandag op Facebook geskryf.

Die identiteit van die leerlingvlieënier is nog nie bekendgemaak nie.

Nooddienswerkers Maandag op die toneel. Foto: (ALS Paramedics)

Dit is nie duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie.

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat ’n ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur is.

“Daar is nie hierdie stadium verdere besonderhede oor die ongeluk beskikbaar nie. Nietemin sal’n voorlopige verslag binne 30 dae uitgereik word,” het Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zacahara ·

Baie hartseer!!! Sterkte aan die familie & vriende duskant die ewigheid. Mag julle vrede vind & berus wat gebeur het.

Korrelkop ·

Ek weier volstrek om in ‘n Robinson helikopter te vlieg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.