Helikopterongeluk: Pa, seun onder oorledenes

Die helikopterwrak in die kloof. Foto: SAPD

Die helikopterwrak in die kloof. Foto: SAPD

ʼn Pa en seun en nog twee mense is Woensdag in ʼn helikopterongeluk in Lusikisiki in die Oos-Kaap dood.

Kapt. Mduduzi Godlwana, woordvoerder van die polisie, het gesê een van die lyke is reeds uit die Msikabakloof verwyder. Die Robinson R44-helikopter het Woensdagmiddag glo teen ʼn berghang vasgevlieg voordat dit in die kloof neergestort het.

Volgens Godlwana het ʼn ooggetuie die helikopter gesien vlieg en kort daarna ʼn slag gehoor. “Hy het gaan ondersoek instel en gesien die helikopter het geval, waarna hulp ontbied is.”

Godlwana het gesê ʼn soek-en-reddingspan is egter eers Donderdagoggend na die toneel gestuur, aangesien bevestig is die vier insittendes is in die ongeluk dood en die weeromstandighede sleg was.

Hy het gesê drie helikopters is tans op die toneel. “’n Pa, in sy 50’s en sy seun, glo 24 jaar oud, is onder die oorledenes. Die ander twee mans was vriende van die pa en seun. Hulle is onderskeidelik 38 en 40 jaar oud,” het hy gesê.

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Dean Riley, ʼn vlieënier wat met die oorledenes bevriend was, help tans op die toneel met die reddingspoging. Hy het aan Maroela Media verduidelik die reddingspoging vat lank, aangesien die helikopter in ʼn groot ravyn te lande gekom het in ʼn baie afgeleë gebied. Daar is ook min selfoonsein in die gebied, wat kommunikasie tussen die onderskeie noodwerkers bemoeilik.

“Die terrein is baie moeilik begaanbaar en sedert gister waai baie sterk winde in die gebied, wat dit nog moeiliker maak vir die reddingshelikopters om in die gebied te land,” het Riley gesê. “Sover kan ons nie bespiegel wat gebeur het nie. Die wind was gister baie sleg en vliegtoestande was nie ideaal nie, maar daar is geen duidelikheid oor wat gebeur het nie.”

Riley het gesê die helikopter het van Margate gevlieg om ʼn wiel vir ʼn ander vlieënier, wie se vliegtuig ʼn pap band gehad het, te neem. Die helikopter was glo nog op pad na sy bestemming toe dit neergestort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

m ·

Hoe wil mense nou in sulke weer vlieg en kyk nou wat was die uiteinde. Ai tog so onnodig.

erik ·

Wie gee jou die reg om te se wat gebeur het. Jy het nie n idee wat was die omstandighede nie. So voor u so praat dink voor u praat.

Wim ·

Ai. Wat n hartseerdag vir almal op Margate lughawe. Ons het 4 vriende eensklaps verloor. Aan al die gesinne en families mag God julle deur hierdie swaar tye dra. Sterkte. Wim Buitendagh.

Ekwilibrium ·

Jammer vir julle verlies, Wim; dit is regtig tragies. Daardie kloof is so diep en nou, dalk was die wind versnel deur ‘n tregter-effek wat die helikopter van balans af gegooi het…

Cherokee ·

Na aanleiding van wat jy nou spekuleer mbt wat jy ‘n tregter-effek noem, sal ek iets in enkele woorde verduidelik. Wanneer die wind vanaf die anderkant kom as die rigting waarin gevlieg word (aankomend dus) is daar ‘n ‘downdraft’ reg aan die duskant van die kranse met ‘n ‘lift’ aan die anderkant oftewel in die rigting waarheen die wind waai omdat die wind in ‘n golfvorm oor die kranse gaan en rol aan die anderkant. Dit kan dus onvoorspelbare effekte hê wanneer dit ‘n kruiswind is. Veilige hoogte tussen die berge en die vliegtuig is dus ‘n moet maar menslike foute gebeur somtyds wanneer die weer dit moeilik maak.

tash ·

So hartseer. Ken pa en seun persoonlik. Was dierbare mense. Seun nie lank terug getroud en ma/vrou wat haar man en seun te gelyke tyd moet afse dan ook a dogter wat haar pa en broer verloor het. Mag Jesus jul krag gee in die moeilike tyd. Xxxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.