Help behoeftiges met ou broodknippies

Luday van der Merwe was die ontvanger van 'n rolstoel van die maatskappy Polysterene Packaging Council. Foto: Verskaf

Luday van der Merwe was die ontvanger van ‘n rolstoel van die maatskappy Polysterene Packaging Council. Foto: Verskaf

Die herwinningsmaatskappy Polystyrene Packaging Council (PSPC) vat weer vanjaar hande met die jaarlikse Nasionale maand vir bewustheid oor gestremdhede tussen 3 November en 3 Desember om deur middel van ʼn herwinningsprojek rolstoele vir behoeftige mense aan te skaf.

Die PSPC se “Breadtags for Wheelchairs”-projek, wat vanjaar vir die agtste keer van stapel gestuur word, het in die afgelope jaar reeds aan meer as 600 mense rolstoele verskaf. Dié projek nooi alle lede van die publiek om broodknippies, wat tipies gebruik word om ’n broodsakkie toe te knoop, in te samel en aan ʼn bepaalde koördineerder van die maatskappy te oorhandig.

Adri Spangenberg, woordvoerder van PSPC, sê die projek vat behoorlik vlam. “Mense van oor die hele wêreld ondersteun die projek. Daar is ʼn paartjie in Bangkok wat die broodknippies insamel. Die man is ʼn vlieënier, en wanneer hy Suid-Afrika toe kom, bring hy die broodknippies vir ons.”

Tot dusver is hul grootste ondersteuners plaaslike skole en maatskappye, hoewel die projek ook reeds van stapel gestuur is in Japan en Australië, en hulle baie ondersteuning ontvang van Kanada.

“Mense voel goed om ʼn verskil in iemand se lewe te maak. Herwinning klink soos iets groots en onmoontliks, maar die broodknippie-projek is eenvoudig en mense neem graag daaraan deel,” sê Spangenberg.

Die broodknippies word aan ʼn baie omvattende kliëntebasis van PSPC verkoop teen R6/kg. Indien genoeg kilogramme verkoop word, kan die insamelaar van die knippies of die maatskappy by enige apteek of organisasie ʼn rolstoel daarmee gaan koop.

“Die gemeenskap identifiseer gewoonlik iemand wat behoeftig is. Wanneer hulle die broodknippies versamel het, kan ons die bepaalde apteek of maatskappy bel en die geld aan hulle oorplaas sodat hulle aan die persoon ʼn rolstoel kan verskaf,” sê Spangenberg.

Dié broodknippies word dan deur PSPC herwin omdat die harde polistireen ʼn hoë waarde het. “Nie net word die omgewing beskerm deur die herwinning nie, maar iemand se lewe word ook hierdeur verbeter,” sê Spangenberg.

PSPC tree ook in samewerking met CE Mobility op wat een rolstoel sal skenk vir elke rolstoel wat deur middel van die broodknippies versamel is.

Indien jy wil vasstel waar die naaste koördineerder aan jou is, besoek die maatskappy se webwerf of skakel 021 531 0647.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Heiner Lange ·

PSPC se webwerf skakel in jul artikel werk nie. Ek kry net heeltyd die boodskap van “Server Not Found”

Sune van Heerden ·

Dagsê Heiner

Ons vra om verskoning vir die ongerief, die skakel is nou gewysig. Probeer gerus weer!
Dankie dat jy ons in kennis gestel het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Eliza-beth ·

Wat ‘n oulike idee! Mens gooi dit so maklik weg en kyk nou! Sterkte met jul veldtog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.