Help beproefde gesin ‘om deur die jaar te kom’

Frik du Preez en sy twee seuns (Foto: Facebook)

Frik du Preez (37), ʼn man van George in die Wes-Kaap, se niere het heeltemal ophou werk en sy mediese fonds kan nie onmiddellik vir sy behandeling betaal nie.

Sy vrou, Lodyn, is nou alleen verantwoordelik om kos op die tafel te sit vir hulle en hul twee seuns. Lodyn, ’n ontvangsdame by ’n ouditeursfirma, sê sy doen alles wat sy kan om geld vir haar man in te samel, maar dat dit moeilik is om dit alleen te doen.

Frik se toestand het in November verlede jaar aansienlik verswak, wat die finansiële druk op haar groter gemaak het. “Frik het leukemie opgedoen toe hy 18 jaar oud was, maar dit was heeltemal onder beheer. Hy het pille gedrink en alles was onder beheer. Die dokters het toe wel verlede jaar Oktober agtergekom dat daar iets met sy niere fout is,” het Du Preez gesê.

Dokters het in Oktober verlede jaar toetse op Frik gedoen en gevind dat daar ernstige probleme met sy niere is. Hy het in November baie siek geraak.

“In daardie stadium was dit nie vir ons moontlik om ’n mediese fonds te hê nie, maar die dokters het ons aangemoedig om wel een te kry, omdat die mediese koste dan wel goedkoper kan wees.”

“Hulle het hom toe opgeneem waarna albei sy niere heeltemal ophou werk het. Sy liggaam was besig om homself te vergiftig, omdat sy niere nie die gifstowwe kon uitskei nie. Omdat hy reeds voorheen in sy lewe ʼn bloedsiekte gehad het, kon die staat nie vir die dialise betaal nie en ons kon nie die dialise bekostig nie,” het sy gesê.

Frik du Preez (Foto: Facebook)

Die dokters het toe vir Du Preez gesê dat hy binne die volgende week nog ʼn dialise moet kry anders sou hy dit nie maak nie. Frik moet drie sessies per week kry teen R1 500 per sessie.

“In Desember het vriende en familie ons begin help deur geld na my toe oor te betaal. Hy kon toe met die dialise begin,” het Du Preez gesê.

ʼn Maatskappy het aan Du Preez ’n spesiale aanbod gemaak van R1 000 per sessie. Hulle het daarmee begin, maar die finansiële spanning is steeds groot op Du Preez.

“Ons het al ʼn bietjie geld van die gemeenskap ingekry. Ek het ook party Saterdae ’n stalletjie waar ek lekkergoed verkoop, om ekstra geld in te samel. My vriende help my om fondsinsamelings te hou, en partykeer kry ons iemand wat iets skenk, waarvoor ons dan lootjies kan verkoop, en só geld maak,” het sy gesê.

Hulle het Frik se behandeling van drie tot twee sessies per week afgeskaal, maar Du Preez het gesê Frik raak dan baie vinniger swak as gevolg van die stremming op sy niere.

“As enigiemand enigiets het om by te dra, sal ons dit só waardeer. Dit hoef ook nie noodwendig kontant te wees nie, as iemand iets kan skenk waarvoor ons lootjies kan verkoop om te wen, is dit ook fantasties!”

Die mediese fonds het ingestem om van 1 Maart 2019 die volle bedrag vir Frik se dialise te betaal.

“Ons het net die geld nodig om deur hierdie jaar kom,” het Du Preez gesê.

Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Mensig, dit is hartseer!
Hoeveel van onse mense bevind hul nie nou in soortgelyke omstandighede as gevolg van die doelbewuste verarming van die Afrikaanse blankes nie?

Tanzie ·

Indien mens nie facebook het nie, hoe gaan jy te werk om vir hierdie gesin by te dra?

Janie Monsieur ·

Dagsê Tanzie,
Dankie vir jou kommentaar. Jy kan gerus vir Lodyn kontak by 072 372 1713.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Selfdebootjie ·

My een nier en bynier is n paar jaar terug verwyder agv kanker. Het nou kanker in ander nier en bynier. Geen behandeling vir n staatspasiënt nie. Kwalifiseer nie vir oorplanting of dialise nie. My huis toe gestuur om my laaste jaar of twee te geniet.

Boetman ·

Dis waar ons Dr Motsoatledi se pogings vir ‘n Nasionale Gesondheidsplan moet ondersteun. Mense gaan vroegtydig dood omdat mediese behandeling slegs vir rykes beskore is. Hierdie geval en die een elders van die meisie wat beseer is op die Albassinidam is bewys dat die wat het geen duit omgee vir die wat minder het nie – maak nie saak watter kant toe geredeneer word nie.
Komaan Dr Motsoaledi!

Ella ·

Dit gaan ook nie werk nie. Te veel wat hulle vingers in die “till” sit.

Marinda ·

My hart gaan uit na julle. Ek weet presies waardeer hierdie gesin gaan. Ek wens ek was in staat om julle te help. Sterkte en moenie moed op gee nie. Party keer kom hulp uit ñ onverwagse oord of wanneer jy dit die minste verwag.

Elvira Bothma ·

Dis so hartseer. Wat my die duiwel in maak is die mediese fonds wat van 1 MAART 2019 af sal betaal. Julle is verdomde bloedsuiers en as hierdie persoon siek word en nie hierdeur kom nie is julle verlos van die belofte EN verpligting. Sies.

heila fouri ·

ek is so bitter jammer vir die armste van die wit armes. hoe gelukkig het dit my nie getref nie ek was lid van solidariteit en het hul laat weet ek moet met pensioen gaan weens swak gesondheid. hul sou kamtig mooi na my pensioen omsien en 2 jaar gelede na ek my w/stel moes verkoop en in ‘n aftree oord moet bly leef ek van R10 000 per maand. die vorige makelaar het 2jaar terug R600 000 uit my pensioenfonds verduister en hy word beskerm. deur die staat ek slaap elke 2 de aand honger
Heila

Leo ·

Mediese fonds kan nie dadelik betaal nie?? Maar tog is hulle vining om maandeliks die premies te kollekteer! Was gister met my seuntjie by tandarts – R1 500 later vir 2 gaatjies en medisyne want ons het net hospitaalplan. Ontvangsdame lig my in dat hulle verskriklik sukkel met mediese fondse, want hulle sal enige moontlike denkbare rede soek om nie die eise te betaal nie! Dis belaglik! Hoeveel miljoene maak hulle nie in een boekjaar nie?!

Ons is gelukkig nie ‘n sieklike gesin nie, daarom het ek vol medies gestop 2 jaar terug en oorgegaan hospitaalplan toe, want dis effe goedkoper. Dit bly net hartseer om te dink ek betaal maandeliks R4 500 vir iets wat ek nie gebruik nie, maar as ek wel moet eis die dag, dan is daar laaaaang stories.

Asof die emosionele las op hierdie arme gesin nie erg genoeg is nie, word daar nog finansiele las ook bygesit. Dit is bitter verkeerd!

Lodyn du Preez ·

Goeie dag almal.
Baie baie dankie vir julle woorde van ondersteuning en aan almal wat bydrae en hulp gegee het. Ons as gesin is opreg dankbaar daarvoor. Indien enige iemand my wil kontak kan hulle dit gerus doen op 072 372 1713 of per epos by [email protected] .

Liefde vir almal
Die Du Preez gesin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.