Help bou aan ʼn Afrikaanse Wikipedia

wiki-afrikaans

Die vertalers ontvang opleiding by Maroela Media se kantore. Foto: Maroela Media

Wanneer mens iets op die internet soek, is die kans baie goed dat jy ʼn artikel daaroor op Wikipedia sal kry. Dié bron word wêreldwyd gebruik en word in verskillende tale aangebied. As dit kom by Afrikaanse artikels op Wikipedia, is dié egter dun gesaai. Daarom het Maroela Media saam met ander liefhebbers van Afrikaans besluit om Wikipedia in Afrikaans uit te brei – nie net om Afrikaans te help bevorder nie, maar ook om leerders te help met navorsing vir skooltake.

Maroela Media werk saam met Unisa om opleiding vir verskeie vertalers en skrywers van artikels te verskaf, oor hoe om artikels op Wikipedia te laai.  Dié vertalers het reeds aan die werk gespring.

Die fokus is vir eers op skoolvakke van graad vier tot twaalf, volgens die kurrikulum wat by skole aangebied word. “Ons fokus eers op dié grade, want dis die ouderdom waarop kinders begin eksamen skryf,” sê Keren van den Berg, projekbestuurder by Maroela Media.

“Meer as 700 artikels is reeds tot ons beskikking en sluit profiele van verskeie Afrikaanse digters en skrywers in. Tot op hede is daar al meer as ʼn 100 artikels vertaal,” het sy bygevoeg.

Die FAK is ook betrokke by die projek en sal veral op die Afrikaanse geskiedenis fokus. “Die FAK het baie materiaal oor die geskiedenis en mens wil dit nie laat verlore gaan nie,” het Van den Berg gesê.

Maroela Media is op soek na nog vrywilligers wat bereid is om te help met die Wikipedia-projek. “Jan-alleman kan ons help om hierdie projek nog meer suksesvol te maak. Ons is op soek na onderwysers, professors, of enigiemand wat ʼn kenner op ʼn sekere gebied is. Enigiemand is welkom om vir ons artikels of idees te stuur. Selfs al is dit ʼn teksdokument. Ons sal sorg dat dit op Wikipedia geplaas word.”

Maroela Media sal gratis opleiding verskaf vir enigiemand wat bereid is om te help met die projek.

Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir enige navrae oor opleiding of as jy idees en artikels wil stuur.

Dis baie maklik om ‘n artikel op Wikipedia te publiseer, kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gwen ·

As ons statistiek oor Wikipedia in Afrikaans praat moet ons na die volgende kyk: Afrikaans het tans die 86ste grootste Wiki (ui 292) en is met 39762 artikels kort op die hakke van Yslands met 40666. Afrikaans het die helfte soveel administrateurs as Yslands met sowat 30000 meer gebruikers. Ons artikeldiepte is 32 teenoor Yslands se 43 en Engels se 926 (dit verwys kortliks na die lengte van die gemiddelde artikel). Afrikaans is die grootste taal op Wikipedia wat inheems aan Afrika is met Swahili tweede. Die volgende inheemse Suid-Afrikaanse taal is Zoeloe met 766 artikels.

Kom dra asb. by en help Afrikaans om van krag tot krag te groei.

Bydraers kan ook sommer op die Wiki self bydra al is dit net om ’n komma in te sit of ’n spelfout te korrigeer.

Jan Cilliers ·

‘n App is die afkorting vir Application. In Afrikaans klink ‘n Toep vir my goed as afkorting vir Toepassing.

Aliwal2012 ·

Die volgende grootste Suid-Afrikaanse wiki is Noord-Sotho met 3194 artikels, nie Zoeloe nie! Dankie vir almal se belangstelling in Wikipedia, dit is werklik ‘n skoon projek met vele meriete.

Suidpunt ·

Ek wil ook byvoeg: die onderwerpe waaroor jy kan skryf is eindeloos en onbeperk!

Daar is wel sekere tekortkominge, waarvan een my die ongemaklikste laat voel:

Ons het werklik ‘n tekort aan uitvoerige artikels uit vreemde tale (anders as Engels), maar ook oor hierdie vreemde tale self. Ek sou graag wou hê dat vreemde tale (veral hul grammatika) meer Afrikaansvriendelik en gratis gemaak word, juis omdat ons bloedweinige vreemdetaalboeke het. Ons moet vreemde tale aantreklik maak vir die Afrikaanssprekendes en -magtiges. Baie vreemdetaaldepartemente het onlangs by Unisa gesluit of gekrimp (wat sedert die 1960’s kon uithou!) weens ‘n tekort aan landwye belangstelling; ons moet DADELIK hierdie leemte vul: Engels het beslis nie al die antwoorde nie – daar is onvertaalde dokumente in Russies, Duits (ja! hy het ook gegroet), Italiaans en Spaans wat jy beslis nie in Engels sal kry nie. Selfs Amerikaners het meer taalvakke op universiteit en skool om van te kies as ons! Hierdie dokumente drywe op die Internet onder ons neuse rond: dit is kennis wat vir ons verlore gaan of ongesiens verbygaan. Natuurlik sluit ek hierby ook Afrikatale in, asook ander minder bekende Europese en Asiatiese tale. KENNIS IS KENNIS. Predikante kan ons help met Oudgrieks en Koinēgrieks, Hebreeus en Latyn [veral van laasgenoemde se akademiese werke is glo slegs 1% vertaal: jy moet uit die geskiedenis leer om nie weer dieselfde foute te maak nie]. Arabies is ook van kernbelang. Feitlik enige taal is!

jaco ·

Daar is klaar ‘n reusagtige Nederlandse Wikipedia wat vir meeste Afrikaanssprekendes maklik verstaanbaar is. As julle onnodige werk wil vermy, skep net artikels in Afrikaans wat nog nie in Nederlands is nie of wat uniek op Suid-Afrika en Afrikaans van toepassing is.

Jcwf ·

Ja, Jaco, daar is ‘n Nederlandse Wikipedia -en ek is Nederlander en het baie daar bygedra-, maar ek stem nie met jou saam nie. Afrikaans is ‘n pragtige taal wat sy eie wiki verdien en nodig het. Daar is ook genoeg mense wat dit kan skryf en spreek om af.wiki tot ‘n spogwiki te maak. Moenie die ‘onnodige’ werk gaan vermy nie. Kom skryf!

(..en my Afrikaans verbeter..) :-)

Jcwf ·

Ja, Jaco, daar is ‘n Nederlandse wiki waar ek baie bygedra het. (Ek is Nederlander), maar ek stem nie met jou saam nie.

Moenie die ‘onnodige werk vermy’ nie. Afrikaans is ‘n pragtige taal wat ‘n eie wiki verdien en nodig het. ‘n Volwaardige taal van volwaardige mense verdien ‘n volwaardige wiki, en dit is ook seker moontlik. Afrikaans het baie sprekers en skrywers. Die Afrikaanse wiki kan daarom ‘n reusagtige spogwiki word.

Met ieder woord en ieder artikel wat jy skryf brei jy die moontlikhede van die taal uit en maak hom sterker. Dis pragtig om vir jou eie taal te veg sonder om ander mense skade toe te bring nie.

Dus kom gerus! Skryf!

In Nederlands sê ons: Wie schrijft, die blijft!

En Afrikaans moet blijven!

Jeanette Snyman ·

Dis wonderlik dat Maroela geskiedenis wil boekstaaf. Ek sou graag ook wou sien dat ons maniere voorstel waarop ons die land prakties kan laat werk. Dit sal baie interessant wees om te sien hoe dit in die toekoms ontwikkel om by te hou by die uitdagings,soos dit opduik. Dan word die verlede onthou-om te weet waar ons vadaan kom. Die toekoms word terselfdertyd gevorm deur praktiese voorstelle- uitdagende idee.

Wat-ek-lees ·

Voorgaande is van die min kommentare aangaande een onderwerp/nuusberig waar ons taal korrek sonder spelVoute is op Maroela Media. Ek glo dat daar ook weggebly sal word van ‘huidiglik’ wat selfs al deur sommige onderwysers gebruik is. “n Ander een is ook ‘ek het geprobeer’ i.p.v. net doodeenvoudig ‘ek het probeer’.

Morné ·

Ek dink die meeste Afrikaanssprekendes wat nie ‘n bevredigende artikel oor ‘n onderwerp in Afrikaans op Wikipedia kan kry nie, sal veel liewer die artikel in Engels as Nederlands lees. Die Afrikaanse Wikipedia se groot nut, myns insiens, is die skep van artikels oor onderwerpe wat (nog) nie op ander Wiki’s bestaan nie, oor onderwerpe wat eg Suid-Afrikaans is, byvoorbeeld oor Afrikaanse skrywers, komponiste, akteurs, musikante, instellings, ens.

Griet ·

Ek wil nie ‘n demper op almal se entosiasme plaas nie, maar ek weet vir ‘n feit sekere Hoërskole verbied die gebruik van Wikipedia artikels vir enige take of navorsing. Kinders mag dit nie gebruik nie. notans ‘n goeie idee om enigeiemand se algemene kennis te verbreed.

Suidpunt ·

@Griet. Dit is heeltemal so: op universiteite is daar wel gemengde gevoelens in die voorgraadse geesteswetenskappe. Ek mag byvoorbeeld nie in my Aardrykskundeklas Wikipedia gebruik het nie, maar in Afrikaans is daar minder kommer hieroor. By Aardrykskunde gaan dit oor die korrekte feite, by die Afrikaanse letterkunde handel dit oor hoe goed jy jou kan motiveer (en verkieslik hoe puik jou taalgebruik is): jy kan dus enige raamwerk gebruik – al is dit ‘n metafisiese New Age-filosofieboek, hekserymanuskrip of politieke leuens (omdat die invalshoeke hemelsbreed verskil; op skool moet kinders soos papegaaie die Onderwysdepartement se perspektief aanneem). Jy sal wel nie met taalkunde hiermee wegkom nie: hier moet jou feite 100% korrek en gestaaf wees. Hier kan jy nie gorrel nie.

By nagraadse studente verander die perspektief oombliklik: Wikipedia word dan onder verdenking geplaas. Hoogleraars (soos my eie studieleier) sê wel dat die studente Wikipedia se bronne en verwysings as beginpunt kan gebruik (amper soos ‘n lys sekondêre bronne). Dan weer, ons en leerlinge haal elke dag blindelings populêre koerantartikels aan en glo maar die joernaliste het hul huiswerk deeglik gedoen. Ons hoop ook hierdie einste joernaliste het soveel argumente en perspektiewe logies opgeweeg (wat nie polities eensydig is nie). Ons hoop ten beste ook dat die redakteurs die taal onberispelik geskaaf het. Die waarheid wys dikwels die teendeel.

Verster ·

Ek is verban van Wikipedia :). Ek het gewerk aan n Afrikaanse artikel oor Ontploffings Beskerming maar het n ou aangevat omdat hy Eva Hitler-Brown “a woman with a lack of intelligence” (in die artikel! Kan so stelling feitlik korek wees!) genoem het, toe sê hul ek is n Nazi en verban my…belaglik, so wees maar versigtig v Wikipedia ek dink hoofstroom media het ook maar hul vingers daarin.

Suidpunt ·

@Verster : Ek het goeie nuus – elke Wikipedia is onafhanklik. Ons het al twee bannelinge wat na ons gevlug het, wat oor nietighede by die Engelse Wikipedia verban is. Ek dink daar was ook een Hollander wat by die Nederlandse Wikipedia verban is, wat ons nie ‘n vlieg skade aandoen nie. Die Afrikaanse Wikipedia verban selde ‘n lid, behalwe as vandalisme duidelik na vore tree. Vandaliste word wel tydelik geblok. Ons is soos die spreekwoordelike Nederland van ouds wat gedagtevryheid toelaat.

Verster ·

Hahaha, dankie Suidpunt, ek (het) dit nogal geniet om deel te neem. Sal na Afrikaans vlug :) En ek is nogsteeds nie n vandaal, NAZI of soos een ou my genoem het “in ontkenning nie”.

oesjaar ·

Ek sit hier in Berlyn en luister (Wikipedia konferensie) na samewerking van Europese Wiki’s met Universiteite. Hier word Wiki’s al meer en meer ingespan. Wat ons onderwysers moet besef en gou, Afrikaanse feitlike boeke is besig om versamelstukke te word! Waar kry jong kinders toegang tot (op datum) basiese inligting in hulle eie taal: goggas, tegniese dinge, bome, voëls, slange, stoomtreine, rekenaars en vele meer? Inligting (kennis) verdubbel elke twee jaar terwyl SA se onderwysstelsel besig is om ineen te stort. My vrou is ‘n hoër skool onderwyseres, in kort ek kry haar jammer! Wikipedia gaan nie verdwyn nie en kan nooit voltooi word nie; dit sal altyd daar wees. Die professors moet dit besef en ek nooi hulle uit om deel te wees van die Afrikaanse Wikipedia want dan kan hulle juis die ”foute” help regmaak en selfs voorkom. Elke boek wat ek nog aangeskaf het vir gebruik as bronne het foute in! Ek gaan selfs sover om dit onder die outeurs se aandag te bring. Foute in boeke kan nooit reggestel word nie, slegs die volgende uitwagse2/3/4/5 jaar later kan verbeter word. Wikipedia se foute kan binne sekondes reggemaak word!

Groete uit Berlyn!
Deon Steyn
Direkteur WikimediaZA (Afrikaans)

Susan Lombaard ·

Beste Deon, baie dankie vir jou terugvoer! Ons sal graag meer wil weet oor die Wikipedia-konferensie in Berlyn en dalk ‘n artikel daaroor wil doen. Hoe meer publisiteit, hoe beter vir Afrikaanse Wikipedia. Ons gesels met jou gedurende die week. Groetnis, Susan Lombaard (Redakteur: Maroela Media)

Ludwig Visser ·

Ek sal graag my hulp wil, aanbied met vertalings uit Duits. Ek hoef nie meer opgelei te word nie, ek het al, bykans driehonderd romans uit Duitgs en Engels vertaal, en in my jare in die joernalistiek het ek ook baie vertaalwerk gedoen. As iemand weet hoe ek van nut kan wees, laat wee gerus by [email protected].

Landi Slatter ·

Dagsê Ludwig,

Baie dankie! Die span sal met jou in verbinding tree.

Groetnis
Landi namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.