‘Help my as ek val,’ pleit bejaardes

Bejaardes het ook plakkate gemaak, maar dit slegs binne die tehuis opgehou. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

ʼn Klein groepie EFF-lede het Maandag by die Uncle Ben’s Den-versorgingsentrum byeengekom uit protes teen die “onregverdige skorsing en behandeling” van vyf werkers by dié tehuis.

Hierdie werkers word van mishandeling en die oortreding van tehuisreëls beskuldig nadat hulle onder meer versuim het om ʼn bejaarde vrou te help nadat dié van die bank afgeval en haar kop oopgestamp het.

Bejaardes het ook plakkate gemaak in afwagting van die optog, maar dit slegs binne die tehuis opgehou eerder as om die groep betogers buite te konfronteer. Een van dié plakkate lees: “Help my as ek val”.

ʼn Klein groepie EFF-lede het Maandag by die Uncle Ben’s Den-versorgingsentrum byeengekom. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe slegs een personeellid die bejaarde uiteindelik uit ʼn plas bloed ophelp terwyl die geskorste werkers doodluiters verbystap – glo om hul middagete te gaan eet.

In nog ʼn voorval trek van die geskorste werkers ʼn bejaarde vrou, wat skuins op ʼn bank lê, aan haar nek op. Hulle sit haar dan later in ʼn rolstoel, maar volg glo dan ook nie voorgeskrewe reëls soos om die vrou se lyf reg te draai of haar hande veilig vas te maak nie. Dié voorval is ook deur videokameras vasgevang.

Volgens Ronel van Dyk, uitvoerende hoof van die tehuis, het sy die beeldmateriaal aan haar regsverteenwoordiger by SEESA oorhandig, waarna die werkers met volle betaling geskors is.

Die video kan hangende ’n dissiplinêre verhoor, wat na verwagting op 24 Desember sal plaasvind, nie gepubliseer word nie.

ʼn Klein groepie EFF-lede het Maandag by die Uncle Ben’s Den-versorgingsentrum byeengekom. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Tshwane EFF se arbeidskantoor meen egter dit is die tehuis wat onbillik teenoor die werkers optree.

Linda Mashika, sekretaris‑generaal van die EFF se werkersunie, Economic Firms Services Association, het ʼn memorandum met vereistes aan Van Dyk oorhandig, waarin verskeie probleme ten opsigte van die behandeling van werkers uiteengesit is.

“Hulle sê nou die werkers het ʼn vrou wat geval het, geïgnoreer, maar dit is nie geldige redes om hulle te skors of af te dank nie. Dis hulle [die tehuis] wat die werkers onregverdig behandel,” het Mashika aan Maroela Media gesê.

Linda Mashika, sekretaris generaal van die EFF se werkersunie, Economic Firms Services Association, oorhandig ’n memorandum aan Ronel van Dyk, uitvoerende hoof van Uncle Ben’s Den. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Luidens die memorandum word die werkers nie met respek behandel nie en word hulle gedwing om Engels onder mekaar te praat. Mashika voer ook aan dat die werkers duisende rand aan Van Dyk se opleidingsprogramme spandeer het sonder dat hulle ooit sertifikate ontvang het.

Die tehuis word verder daarvan beskuldig dat hulle met werkers se kontrakte peuter, werkers nie weet wat van hulle verwag word nie en dat hulle geviktimiseer, uitgebuit en nie voldoende vergoed word nie.

Mashika sê hulle gun die tehuis sewe dae om aan hulle vereistes gehoor te gee en met hulle in gesprek te tree.

“Ons sal weer kom, en ons sal hier slaap as dit moet.”

Volgens Van Dyk is nie een van die bewerings in die memorandum akkuraat nie.

“Ek het net verlede week my arbeidsinspeksie geslaag.”

Sy meen die kwessie gaan uitsluitlik oor die geskorste werknemers se gedrag en sê dat sy ʼn verantwoordelikheid het om die bejaardes by Uncle Ben’s Den te beskerm.

“Ou mense is kwesbaar. Ons moet na hulle omsien en verseker dat hulle versorg word en veilig is. Veronderstel so iets het met jou ma gebeur – hoe sou jy gevoel het? Die bejaardes moet veilig wees by ons.”

Bejaardes het ook plakkate gemaak in afwagting van die optog, maar dit slegs binne die tehuis opgehou eerder as om die groep betogers buite te konfronteer. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Hulle sal nooit end kry nie. Skoor soek is al wat hulle ken.

Tiptol

Vir die eff gaan dit glad nie oor reg en verkeerd nie, dit gaan net oor velkleur.

Julius

Dank die betogers af.

Mallie

Hulle het geen self respek nie, hoe kan hulle vir enige iemand anders respek he. Verfoeilik is nie die woord nie.

Shakespeare

Ag shame die koppies werk nie lekker nie. Hulle naam moes eintlik wees EVV. Ek Voel Vere. Drek vd aarde.