Help Philippolis-brandslagoffers só

Die vuur het loshande oor die provinsiale pad tussen Trompsburg en Philippolis gespring. (Foto: Stephan Meyer)

Die werklikheid van die huidige brandseisoen, wat groot streke in Suid-Afrika in puin lê, het die Philippolis-boeregemeenskap hierdie naweek ook getref.

Skape en beeste is dood, duisende hektaar weiding het afgebrand en opstalle en werkershuise is verwoes. Talle plase lê in puin en die gemeenskap, wat baie afhanklik van die boere is, gaan dit binnekort ontgeld.

Volgens Louis Blom, ʼn jarelange dorpenaar van Philippolis, is hierdie die ergste brand in die geskiedenis van die gemeenskap. “Ek het in 1987 hier begin skoolgaan en later weer teruggekom. Ek kan nie onthou dat dit ooit so erg gebrand het nie.”

Hy het vir Maroela Media gesê hy vermoed die brand het deur weerlig ontstaan en die sterk wind en droë gras het die gulde omstandighede geskep vir hierdie tragedie om homself uit te speel, “maar ten spyte daarvan was die boere goed georganiseerd en daar was oral vuurvegters, blasers en brandspuite beskikbaar om te red wat te redde is.”

 

Die welige weiding te danke aan verlede seisoen se mildelike reën het die vuur sterk aangehelp. (Foto: Stephan Meyer)

 

“Ek het Vrydagoggend om 09:00 in my voertuig gespring om die boere te gaan help en eers weer Saterdagoggend om 05:00 by die huis gekom. Daar was honderde mense wat gehelp het en dit was as’t ware ʼn boeresaamtrek. Daar het onder andere hulp uit Springfontein, Luckhoff, Trompsburg en Fauresmith gekom,” sê Blom.

“Baie dorpenaars uit Philippolis het ook gaan hand bysit.”

Blom en sy vrou, Annelie, besit die Pitstop Restaurant op Philippolis en hulle was albei verslae deur die skade en die ontsaglike verliese wat boere gely het. “Die boere beteken vir ons as Philippolis se gemeenskap baie omdat hulle ons ondernemings mildelik ondersteun, maar ek voel ons gee so min terug aan hulle,” sê Blom.

“Toe ek die impak van die skade sien, het ek en Annelie besef ons kan nie veel doen nie, maar ons kon iets namens die gemeenskap doen en het toe ʼn trustrekening by ʼn prokureursfirma oopgemaak sodat mense maklik en veilig geld kan inbetaal om finansiële hulp aan hierdie boere te verleen.

“Ek weet daar is groot organisasies wat hulp aan boere verleen, maar ek en my vrou het besluit ons wil iets uit die gemeenskap vir ons boere bydra.”

 

Koppies het binne sekondes afgebrand. (Foto: Stephan Meyer)

 

Stephan Meyer, die voorsitter van die Philippolis-landbouvereniging het vir Maroela Media gesê dit was ʼn sameloop van omstandighede wat die brand veroorsaak het. “Dit was ʼn frats; die weerlig het die veld op sewe plekke aan die brand gesteek en die sterk wind het veroorsaak dat dit vinnig versprei het. Die gras het ook welig gegroei na verlede jaar se goeie reën.”

Hy sê die boere het voor die tyd brandpaaie geskraap, wat gewoonlik so 2,5 m breed is, maar dit het niks gehelp nie. “Brandpaaie van 10 m sou ook nie gehelp het nie, dit het selfs oor ʼn provinsiale pad tussen Trompsburg en Philippolis gespring. Hier is ook bergagtige gebiede en as die brand daar inbeweeg het, het dit sekondes geneem om af te brand.”

Meyer het ook sy dankbaarheid teenoor die dorpenaars te kenne gegee. “Hulle het hand opgesteek en inisiatief met die logistiek geneem deur water en petrol aan te ry, of met die koördinering van die brandslaners gehelp omdat ons selfone nie orals in die veld opvang nie.”

Die brande is Sondag geblus en ʼn totaal van 68 000 ha het afgebrand – 48 000 slegs in die Philippolis-distrik. Daar het ook ʼn groot deel aan Fauresmith en Trompsburg se kant afgebrand.

 

Die afgebrande gebied tussen Fauresmith, Jagersfontein, Philippolis, Luckhoff, Trompsburg en Springfontein. (Verskaf deur Vrystaat Landbou.)

 

Meyer sê die blasers wat verlede jaar deur die Agri Relief Foundation aan boereverenigings in die Vrystaat geskenk is, het ook in ʼn ruim mate gehelp in hierdie stryd en ʼn groot gat in die brande gemaak.

Daar was wel ernstige veeverliese, met een boer wat 200 dooie skape in ʼn kamp getel het, maar Meyer sê dit sal nog ʼn ruk duur om die totale omvang van die skade te bepaal.

Vrystaat Landbou het reeds ingespring om voer van elders te verkry en boere uit verskeie streke het begin om bale Philippolis toe te stuur.

Geldelike hulp kan in die Minnaar & De Kock‑trustrekening inbetaal word:

FNB

Reknr.: 53022532874

Takkode: 210318

Verwysing: PHS

Stuur bewys van betaling na [email protected].

Kontak Madelein Grobbelaar by 049 842 1123 of 082 425 8556 met enige navrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

As ek ‘n boer was, sou ek versekering uitgeneem het, of gespaar het vir ‘n “reenerige dag”, net vir ingeval.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.