Help reg; steun ’n betroubare instansie

Helpende Hand-personeel in hul amptelike T-hemde. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand waarsku die publiek om waaksaam te wees vir skynbaar oneerlike mense wat te midde die Covid-19-pandemie munt wil slaan uit mense se goedhartigheid.

“Te midde van dié krisis is dit net menslik dat lede van die publiek op ’n manier hul medemens wil help. Daar is egter ongelukkig ook diegene wat die geleentheid gebruik om die situasie uit te buit,” sê Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens Roux moet die publiek seker wees die instansie wat hulle wil ondersteun is eerstens geloofwaardig, en tweedens dat niemand onder valse voorwendsels vir dié instansie “liefdadigheidswerk” doen nie.

“As jy ’n skenking wil maak, gaan doen navorsing oor die instansie – ʼn  vinnige Google-ondersoek behoort baie oor die instelling te sê. As daar individue is wat hulself as verteenwoordigers voordoen, maak seker die individue is wel werksaam by die liefdadigheidsorganisasie deur die persoon se naam, van en ID-nommer te versoek en by die betrokke instansie navrae oor dié persoon te doen,” sê Roux.

Roux waarsku dat Helpende Hand nooit skenkings of hulpverlening sal versoek sonder om sy amptelike korporatiewe identiteit op dokumentasie of sosialemediaplasings te gebruik nie.

Helpende Hand is geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949 en het goed gevestigde strukture landwyd in plek om reg te gee. Gesinne wat om hulp aansoek doen, word behoorlik deur maatskaplike werkers geassesseer en daarvolgens bygestaan. Dié proses begin deur ’n e-pos na [email protected] te stuur.

“Dit is vir ons mooi as gemeenskappe saam staan, maar moet nie dat enigiemand ’n sluier oor jou oë probeer trek nie. Weet byvoorbeeld deur Helpende Hand te ondersteun gee jy reg om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom,” sê sy.

“Helpende Hand wil opreg dankie sê en elke persoon wat al vir ons skenkings gemaak het en wat ook die Solidariteit Bewing se nuutgestigte Krisisfonds ondersteun. Jare lank ondersteun die publiek ons met warm harte en gewillige offers; almal wat geskenk het kan steeds met sekerheid weet dat ons elke sent verdeel met die regte gesindheid. Die publiek eis van Helpende Hand geloofwaardigheid en integriteit en dit is vir ons baie belangrik om hierdie standaarde te behou.”

Helpende Hand se amptelike korporatiewe identiteit. (Grafika: Helpende Hand.)

Roux sê Solidariteit Helpende Hand se handelsmerk spreek van bogenoemde integriteit en roeping wat Helpende Hand elke dag uitleef. “Ons is geregistreer onder die handelsmerk Helpende Hand en dit is presies wat ons wil wees. Ons wil ’n helpende hand wees vanuit die Solidariteit Beweging, waar ons mense se behoeftes verstaan. Ons glo in ’n georganiseerde samelewing, ’n geordende wyse van welsynhantering en binne ons welsynprojekte weet ons hoe belangrik strukture is asook die hantering van strukture.

“Ons wil graag die lede van die publiek aanmoedig om uit te kyk vir Helpende Hand se kenteken (logo) op alle kommunikasie as hulle ’n skenking oorweeg.

“Sodra jy die handelsmerk sien kan jy gerus voel om te gee en weet dat dit dan na Helpende Hand toe gaan en verdeel word binne die strukture wat ons geskep het om armoede strategies aan te pak met volhoubare projekte en veldtogte. Daar sal altyd ander instansies wees wat ook graag hul roeping uitleef om ander te help en ons moedig dit aan. Soms skep dit net verwarring as die ander instansies dit onder die naam Helpende Hand doen. Dus as jy ons handelsmerk sien in die kommunikasie wat jy ontvang, kan jy weet dat dit wat jy skenk gaan na Solidariteit Helpende Hand. “Indien jy onseker voel, is jy welkom om ’n e-pos te stuur na [email protected] en ons sal met graagte luister en help waar ons kan,” voeg sy by.

Helpende Hand saam met die groter Solidariteit Beweging het onlangs sy www.krisisfonds.co.za van stapel gestuur. Die doel van die fonds is tweeledig – om te sorg dat leerders tydens die inperkingstyd deur Wolkskool tuisonderrig kan ontvang, en om behoeftige mense met maatskaplike ondersteuning by staan. Helpende Hand het ook verskeie voedingskemas om gesinne met kospakkies by te staan. Die skemas behels Josef-silo’s, Houers VOL Hoop, #StopHonger, die Kosblikkie-projek en #HelpJag. Die instansie se amptelike bankbesonderhede is beskikbaar by www.helpendehand.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacobus ·

Mag julle werk Geseĕnd wees. Daar is groot nood daarbuite – tyd om trots te los en te vra. Veral ons ouer mense ‘vrek’ voor hul vra van trots. Die vervoerband van kleiner dingetjies met belangstelling is goud werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.