Help só gestremde kinders se lewens verryk

Foto: Pixabay

Drie studente van Pretoria het dit hul missie gemaak om jong mense met ernstige gestremdhede en spesiale leerbehoeftes aan die El-Shalem-private instelling in Centurion by te staan deur geld vir dié kinders se nodigste behoeftes in te samel.

Yolandi Kruger, Tanya Ras en Rohan Pieterse, wat tans aan die Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit Akademia studeer, sê El-Shalem sien daagliks na meer as 30 kinders om, maar benodig die hulp van die gemeenskap sodat die kinders hul volle potensiaal kan bereik.

El-Shalem skep ʼn veilige omgewing waar die onderwysers omsien na die kinders se geestelike, sosiale, kognitiewe en fisieke vereistes. Die meeste kinders by dié instelling het min of geen kommunikasievermoëns nie en die versorgers maak gebruik van foto’s en gebare om hul emosies en mees basiese behoeftes en begeertes te kommunikeer.

Die meeste van die kinders en jong volwassenes by dié instelling ly aan kognitiewe uitdagings, motoriese tekorte, spraakverlies, outisme en visuele, gehoor- en serebrale gestremdhede.

Die apparaat wat die instelling wil aankoop (Foto: Verskaf)

“Ons gebruik die Woord as riglyn om die kinders se geestestoestand te versterk,” sê El-Shalem op sy webwerf. “Ons bied verder ook intellektuele stimulasie vir die kinders deur hulle met emosionele en kognitiewe vaardighede sowel as dissipline te bemagtig.”

Kinders by dié instelling word onder meer gehelp om in ʼn gemeenskap te funksioneer, sy of haar potensiaal te ontwikkel, om kommunikasievaardighede te verbeter en om die kinders te help ontwikkel.

Kruger sê dié projek het die groep studente se hartsnare geroer, veral omdat die kinders ʼn groot behoefte aan ʼn kommunikasieapparaat het wat gebruik word om die kinders se selfvertroue op te bou deur hulle te help om met ander te kommunikeer.

“Die gestremde kinders het reeds ʼn agterstand ten opsigte van hul vermoë tot sosiale omgang en interpersoonlike kommunikasie. Die ernstige aard van die isolasie en nood waarin hierdie kinders hulle bevind spreek tot die hart van elke volwasse versorger wat bevoorreg is om aan hulle hulp te verleen. Hulle moet gelei word om hul regmatige plek in te neem in die samelewing. Hierdie roeping kan slegs volledig tot vervulling kom as familielede en fasiliteerders toegerus word met die nodige middele om hulle te ondersteun in die werk wat hulle doen,” sê sy.

Yolandi Kruger, Tanya Ras en Rohan Pieterse (Foto: Verskaf)

Die doel van dié projek is om die lewenskwaliteit van die kinders en jong mense te verbeter. “Hierdie apparaat sal ʼn groot verskil maak deur die kinders te help om hul basiese behoeftes aan te dui deur te wys wat hulle nodig het soos byvoorbeeld wanneer hulle wil eet, hulle warm of koud kry en selfs om die kleedkamer te besoek. Dit sal hulle ook help om hul beperkte kommunikasievermoë uit te brei en om meer doeltreffende interpersoonlike kommunikasie te handhaaf.”

Dié apparaat, die sogenaamde Story Sequencer, kan gebruik word as ʼn multi-funksionele onderrigapparaat. Die fasiliteerder en die leerders kan ses van hul eie woorde of prente by ʼn strook invoer en dan ʼn boodskap van tien sekondes opneem wat by die onderskeie prente ingevoer word. Dié boodskap is dikwels ʼn algemene boodskap wat gebruik word om te kommunikeer.

Weldoeners wat meer betrokke wil raak, kan Yolandi Kruger kontak deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Vir meer inligting, besoek El-Shalem se webwerf.

Die apparaat wat die instelling wil aankoop (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Duisende dankie dierbare mensie so Yolandi,Tanya en Rohan dan harte oopmaak vir gestremdes MAG DIE HERE JULLE SEEN EN MAG DIE GEBEDE VERHOOR WORD! AMEN!

E.K. ·

Dankie Maroela, ek het dit al voorheen genoem, maar dankie dat julle mens bewus maak van sulke goed. Hoe anders sal mens kan bydra en help?

E.K. - ek sê net!(alweer!) ·

Ag tog mense LEES hierdie en help al is dit met R10.00!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.