Help só weggooibabas

(Argieffoto: Unsplash)

Jaarliks word meer as 3,500 babas in rioolpype, vullisdromme, digte bosse en selfs in vlak grafte gevind, omdat hul desperate moeders weens verskeie omstandighede nie kans gesien het om hulle groot te maak nie.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) sê sowat 7 000 weggooibabas word nie betyds gevind nie.

In die maand waarin Wêreld-aannemingdag gevier word, wil die drukgroep Action Society ’n beroep op die publiek doen om hul harte en beursies vir dié saak oop te maak.

“Ons vind dat mense nie betrokke raak nie, omdat hul nie weet hóé nie. Daarom is ons in

die proses om ʼn veldtog van stapel te stuur om die aandag te vestig op die probleem en stereotipering en om oplossings te bied,” sê Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society.

Dit blyk dat voorvalle van weggooikinders asook geweld teen vroue en kinders ’n piek bereik tydens die feesseisoen. Daarom is dit nóú die tyd om betrokke te raak en ʼn verskil te maak.

Volgens Elsabe Esterhuizen van Huis Adaliah in Swellendam besef mense dikwels nie dat hulle die behoefte gehad het om betrokke te raak, totdat hulle dit doen nie. Dié huis van veiligheid kon sedert sy opening in 2008 ’n alternatief vir 362 babas in die Overberg bied.

“Dit is selfverrykend wanneer jy die wêreld van ’n kind kan verander. Baie mense sien nie kans om hul huise vir hierdie babas en kinders oop te maak nie, maar deur finansieel by te dra kan jy die persone wat bereid is om te help se hande sterker te maak,” sê sy.

Haar advies is om eerste die nood in jou eie gemeenskap raak te sien en op te tree.

“Wanneer ’n kind byvoorbeeld in haar ouerhuis aangerand word, kan dit tot twee jaar deur die regte kanale neem om haar in ’n kinderhuis te besorg. As daar nie huise van veiligheid beskikbaar is nie, het sy geen alternatief om haarself te beskerm in die tussentyd nie.”

Om te verseker dat swanger meisies ook altyd ’n keuse het, is vir Huis Adaliah nog ʼn prioriteit.

“Voornemende mammas besef soms weens verskeie redes dat hulle nie vir hul baba sal kan sorg nie. Ons probeer hierdie meisies omarm en in ons area vervul ons ʼn ondersteunende rol sodat hulle betyds na vore kan kom. Mense moet ingelig word sodat ons die stereotipering van aanneming en die veroordeling van ma’s wat hul babas opgee vir aanneming positief kan maak. Vir daardie babas is dit eintlik ’n nuwe begin,” sê Esterhuizen.

Action Society is ’n burgerregte-organisasie wat hul beywer om kwesbare partye in die samelewing te beskerm deur ’n stem vir hulle te wees. Hulle moedig die publiek aan om by nieregeringsorganisasies, veiligheids- en kinderhuise in hul omgewing betrokke te raak.
“Nie-winsgewende organisasies soos Care Protect Invest Suid-Afrika (CPI SA) se fokus is om lewens te verander.”

Jy kan R20 bydra deur die woord SMILE na 40112 te SMS. Hierdie donasies gaan ʼn groot verskil in die lewens van die kinders in CPI-SA se pleeghuise en sorgsentrums maak.  Vind hier meer uit oor ander CPI-SA-projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Ek dank die vader vir hierdie mense en haal my hoed af vir wat hulle doen. Maar ek wil byse dat hierdie direk aan die voete van die regering gele kan word… Daar is nie genoeg pro aktiewe stelsels in plek nie. Ordentlike opleiding van die jeug om te kan verstaan wat hy/of sy doen en wat die nagevolge van enige dade is. Werkloosheid, kinders wat ophou skoolgaan in graad5, morele standaarde wat daarmee heen is,die lys gaan aan en aan, ek wil elkeen wat hierdie stuk lees vra om een rede as “comment” by te sit. Sal graag wil… Lees meer »

lelanie

Ek het n ” baby saver” box en n plek v veiligheid v babas. Een v d redes hoekom mammas hulle babas net weggooi is omdat hulle sleggese word by die hosp as hul babas wil opgee v aanneming. Ek het n mamma gehad wat verkrag was deur n vreemdeling en n saak gemaak het. 3 maande later het sy besef sy is swanger en aborsie is teen haar geloof so sy het geboorte geskenk aan baba en niks v haar familie gese nie. ( ook nie v swangerskap nie). By hosp toe sy geboorte geskenk het het sy gese… Lees meer »

Caro

Die skakel na die webwerf werk nie. Volgens Google is die korrekte skakel https://cpi-sa.org.za/ . Kan julle groot asb. hierbo regmaak? Anders word mense wat meet wil lees, dalk afgesit. Baie dankie! :)