Help soek na die vermiste seiljag

Anthony Murray, Reg Robertson en Jaryd Payne  (Foto verskaf aan SAPA)

Anthony Murray, Reg Robertson en Jaryd Payne (Foto verskaf aan SAPA)

Die publiek kan deur middel van ʼn aanlyn instrument help om ʼn vermiste Suid-Afrikaanse katamaran op te spoor.

Die families van Anthony Murray, Reg Robertson en Jaryd Payne vrees vir hul veiligheid nadat hulle laas op 18 Januarie van hulle gehoor het. Die seiljagvaarders het ook hul verwagte aankomsdatum misgeloop. Maroela Media het vroeër berig die katamaran, Sunsail RCo44-978, het op 14 Desember op ʼn afleweringsreis uit Kaapstad vertrek onderweg na Phuket in Thailand.

“Die huidige ‘Lost Catamaran & Crew At Sea’ stel persone wêreldwyd in staat om satellietfoto’s te deursoek wat deur Tomnod opgelaai word,” het die familie in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die doel van die veldtog is om die Leopard 44-katamaran op te spoor wat in Thailand afgelewer moes word.

Op die Tomnod-webwerf word persone versoek om voorwerpe te merk as ʼn skip, boot, lewensreddingsvaartuig of “ander”. Tomnod word bedryf deur DigitalGlobe.

“Die projek is gebaseer op die aanname dat onopgeleide waarnemers net so goed ʼn teiken kan raaksien as ʼn kenner. Enigiemand met ʼn rekenaar en internettoegang kan aan die soektog deelneem.”

Murray (58), die skipper, het meer as 25 jaar ondervinding op die see, insluitend talle internasionale katamaran- en seiljagaflewerings. Robertson (59) is ook ʼn ervare seiljagvaarder en ʼn lid van die Royal Natal-seiljagklub. Payne is 20 jaar oud.

Klik hier om aan die soektog deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.