Helpende Hand begin met regstappe teen NSFAS   

SFS-befondsingsmodel-Stefan-Pieterse

Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. Foto: Marlien van der Westhuizen.

Die Helpende Hand Studietrustskema (HHST) het vandag met regstappe begin om die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) voor die hof te daag. HHST eis antwoorde oor miljoene rande se “verkeerde” uitbetalings aan enkele studente oor die laaste paar jaar, en meer inligting oor die R7,5 miljard se onreëlmatige uitgawes wat die hulpskema in die laaste boekjaar aangegaan het.

HHST is ʼn afdeling van die liefdadigheidsorganisasie Solidariteit Helpende Hand en help jaarliks talle hulpbehoewende studente wat nie kan bekostig om te studeer nie.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van HHST, is dit ʼn absolute vermorsing van belastinggeld en in publieke belang dat daar onmiddellik opgetree word. “Ons praat hier van 150 000 studente wat elkeen met R50 000 se klasgeld in 2020 gehelp kon word as die bedrag van 7,5 miljard net reg bestee was,” het Pieterse gesê.

Intussen het Solidariteit Helpende Hand ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om antwoorde oor die volgende kwessies te eis:

  • Duidelikheid oor ʼn skermskoot van ʼn SMS-kennisgewing (10 Februarie 2020) waarvolgens ʼn student onlangs R5 miljard ontvang het (met NSFAS as verwysing). Die skema het intussen ontken dat hy dié geld aan ʼn student uitbetaal het;
  • ʼn Vorderingsverslag van ʼn voorval waar NSFAS in 2017 verkeerdelik R14m na ʼn student by die Walter Sisulu-Universiteit se rekening oorgedra het;
  • ʼn Gedetailleerde verslag van hoe NSFAS die R7,5 miljard se onreëlmatige uitgawes wat hy in 2018/2019 aangegaan het, bestee het.

“Dit het tyd geword dat ons staatsamptenare persoonlik aanspreeklik hou vir hul optrede en dat skuldiges aan die pen ry. Geld kan nie net verdwyn nie,” het Pieterse gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Porseleintjie ·

Vir sommige is SA werklik die land van melk en heuning.

Jakes ·

As hierdie tendense nie n bewys is van totale onbevoegdheid nie dan weet ek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.