Helpende Hand het in April die platinumgordel tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar vanweë die staking wat ongeveer drie maande gelede by platinummyne begin het. Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in.
Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het hierdie skole se voedingskemas ’n gemiddelde groei van 90% sedert die begin van die mynstaking getoon. “Van die skole se voedingskemas het tot soveel as 200% vermeerder. Dit is net bewyse van die enorme finansiële impak wat hierdie staking op die inwoners en uiteindelik ook die kinders het,” sê hy.
Helpende Hand versprei al vir die afgelope paar weke kos aan honger gesinne om te help om die nood te verlig. “Voeding is nie Helpende Hand se hooffokus nie, maar in hierdie tyd moet ons die dringende nood aanspreek. Geen kind kan akademies optimaal presteer as hy elke dag met ’n honger maag moet skool toe gaan nie.”
Die skole het vandag tydens ’n oorhandigingsfunksie by Laerskool Rustenburg Spar-kaarte ontvang waarmee hulle hul voedingskemas vir die volgende drie maande kan aanvul.
Helpende Hand gaan steeds voort met verdere hulpverlening in die platinumgordel deur middel van ’n rampfonds. SMS STAAKNIE na 38969 om R10 tot die rampfonds by te dra. Besoek www.staaknie.co.za vir meer inligting.