Helpende Hand gryp in by groeiende behoefte van skole-voedingskemas in platinumgordel

Foto1

Mnr Koos Jansen van Vuuren (links), skoolhoof van Laerskool Rustenburg, saam met dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, tydens vandag se oorhandigingsfunksie.

Solidariteit Helpende Hand het vandag ingespring om voedingskemas by sewe skole in die platinumgordel te ondersteun en aan te vul, nadat hierdie voedingskemas aansienlik gegroei het sedert die stakings by die platinummyne begin het.

Helpende Hand het in April die platinumgordel tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar vanweë die staking wat ongeveer drie maande gelede by platinummyne begin het. Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in.

Foto3

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, help kosblikkies uitdeel tydens vandag se oorhandigingsfunksie by Laerskool Rustenburg.

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het hierdie skole se voedingskemas ’n gemiddelde groei van 90% sedert die begin van die mynstaking getoon. “Van die skole se voedingskemas het tot soveel as 200% vermeerder. Dit is net bewyse van die enorme finansiële impak wat hierdie staking op die inwoners en uiteindelik ook die kinders het,” sê hy.

Helpende Hand versprei al vir die afgelope paar weke kos aan honger gesinne om te help om die nood te verlig. “Voeding is nie Helpende Hand se hooffokus nie, maar in hierdie tyd moet ons die dringende nood aanspreek. Geen kind kan akademies optimaal presteer as hy elke dag met ’n honger maag moet skool toe gaan nie.”

Die skole het vandag tydens ’n oorhandigingsfunksie by Laerskool Rustenburg Spar-kaarte ontvang waarmee hulle hul voedingskemas vir die volgende drie maande kan aanvul.

Helpende Hand gaan steeds voort met verdere hulpverlening in die platinumgordel deur middel van ’n rampfonds. SMS STAAKNIE na 38969 om R10 tot die rampfonds by te dra. Besoek www.staaknie.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.